Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Internskappe is ʼn waardevolle eerste tree op enige loopbaanreis

Gepubliseer op: 26 Junie 2024

Internskappe is lánk nie net meer ʼn gonswoord wat tot maatskappye se menslikehulpbronkantore beperk is nie. Vandag verteenwoordig internskappe ʼn waardevolle geleentheid vir afgestudeerdes om nie net hul beroepsvaardighede op te skerp nie, maar ook om hul professionele netwerk uit te brei alvorens hul die arbeidsmag betree.

Adam Grant, die Amerikaanse akademikus en skrywer, meen dat die ware potensiaal van ʼn individu se potensiaal nie die hoogste loopbaanpiek is wat hy/sy wil bereik nie, maar eerder die afstand wat afgelê word om dié piek te bereik. Gedagtig hieraan meen dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia, dat ʼn internskap vir baie jongmense die eerste tree op dié reis verteenwoordig. Sy verduidelik dat ʼn persoon egter geduldig moet wees op hierdie tog en dat afgestudeerdes deeglik moet besef dat hulle ook “stofpaaie” sal moet loop en vele lesse sal moet leer – en aanhou leer, tot die dag van hul aftrede.

Volgens Davel lê die waarde van geleenthede soos internskappe en mentorskappe daarin opgesluit dat dit ʼn platform skep waarop persone op ʼn formele wyse kan leer, vrae kan vra en nuuskierig kan wees. Terselfdertyd kan waardevolle ondervinding opgedoen word én kan die betrokkenes sien hoe teorie in praktyk omgeskakel word. “Wanneer internskappe reg aangewend word, is dit ʼn gulde geleentheid om agter die spreekwoordelike beroepsgordyn in te loer en só die aard en wese van ʼn gekose beroepsveld beter te begryp,” meen Davel.

ʼn Voorwaarde vir ʼn effektiewe internskap, volgens Davel, is goeie beplanning en daarmee saam die korrekte aanwending van hierdie leergeleentheid. In praktyk beteken dit dat die maatskappy genoegsame hulpbronne daar sal stel wat onder meer ʼn toesighouer en ʼn program vir die intern sal insluit. Op dieselfde manier moet die intern hierdie geleentheid aangryp en eienaarskap daarvan neem. Davel verduidelik dat dit soms die geval is dat persone internskapgeleenthede as ʼn CV-bougeleentheid sien, óf as iets op die lys van dinge om te doen ten einde by ʼn professionele liggaam te kan registreer. Sy beskryf hierdie benadering as jammerwaardig omdat hierdie geleenthede juis ʼn tyd verteenwoordig waartydens deelnemers hul vaardighede en kennis kan aanvul. Hierdie kennis en vaardighede strek verder as bloot tegniese aspekte en sluit onder meer in die effektiewe hantering van werksdruk en konflik, tydsbestuur en taakbeplanning.

Op die vraag of internskappe met ʼn salaris of finansiële vergoeding moet gepaard gaan, is Davel van mening dat sy ʼn voorstander daarvan is dat interns vergoeding ontvang. “Ek skram daarvan weg om die leerskool van ʼn internskap te verskraal tot ʼn transaksionele benadering, maar voel tog dat betaalde internskappe vir die maatskappy én die intern verskeie voordele inhou,” verduidelik Davel. Op die oppervlak bied betaalde internskappe vir die maatskappy meer doeltreffende werwing van toptalent, groter betrokkenheid of inkoop van die intern se perspektief, en ook ʼn meer gunstige werkgewershandelsmerk. Davel dui egter aan dat die diepgaande antwoord op hierdie vraag egter meer oor die sielkunde en minder oor die maatskappy gaan: “ʼn Mens is geneig om meer waarde te heg aan iets wat vir jou, self iets kos. Die intern voel aan die einde van die dag dat hulle werklik iets bereik het, iets verdien het, en daarom iets betekenisvol bygedra het. Enige werker, intern al dan nie, kan net ingekoop bly en effektief werk as hulle die belewenis het dat wat hulle doen saak maak,” meen Davel. In die lig hiervan bied betaalde internskappe aan persone die geleentheid om hulle internskap soos ʼn betaalde werk te hanteer en sodoende stel die maatskappy hulle in staat om meer verantwoordelik te neem vir die gehalte van hulle werk.

Maar hoe sal Davel ʼn suksesvolle internskap beskryf? Vanweë die feit dat sukses vir elkeen anders gedefinieer word, meen Davel dat daar sekere elemente is waaraan ʼn suksesvolle internskap moet voldoen:

  • Die intern moet vakinhoudelike en ander sagter werksplekvaardighede aanleer en bemeester.
  • Genoegsame geleenthede moes geskep word waartydens die intern die geleentheid gehad het om sy/haar professionele netwerk te kon uitbrei.
  • Terugvoer moes gereeld vir die intern gegee word oor sy/haar werk.
  • Die intern moes verantwoordelikheid geneem het om self eienaarskap te vat van sy/haar loopbaanreis, ʼn interne fokus van kontrole toegepas het en terugvoer geïnternaliseer en toegepas het.

“Iemand stap suksesvol uit ʼn internskap uit wanneer hy/sy elke dag opnuut as ʼn leergeleentheid sien, hard werk, bereid is om die ekstra myl te loop en eienaarskap neem oor sy/haar werksaamhede. Die beste manier om te groei is immers om ongemak en die vreemde (nuwe) te omhels,” sluit Davel af.

Akademia se Loopbaankantoor bied aan studente en afgestudeerde studente die ideale geleentheid om waardevolle blootstelling in die werksplek op te doen asook insig tot die verskillende loopbaanroetes wat ʼn individu met ʼn bepaalde kwalifikasie kan betree. Die kantoor se posteportaal stel Fonties in kennis van beskikbare poste, klerkskappe en internskappe. Navrae in hierdie verband kan gerig word na loopbaan@akademia.ac.za.

Dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia, meen dat internskappe vir afgestudeerdes ʼn kykie agter die beroepsgordyn bied om só die aard en wese van ʼn gekose beroepsveld beter te begryp.