Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Tweepot-pensioenfondsstelsel: Dink mooi voor jy korttermynbehoeftes bó langtermynvoorsiening stel

Gepubliseer op: 5 Julie 2024

Geskryf deur Thinus Nienaber, ʼn dosent in Ekonomie en Finansiële Wetenskappe by Akademia.

Die nuwe tweepot-pensioenfondsstelsel tree op 1 September 2024 in werking en sal ʼn besliste impak op individue se persoonlike finansies hê, veral wat aftreespesifieke fondse betref. En hoewel menige vuisvoos verbruikers dié nuwe wetgewing straks as ʼn korttermynuitkoms vir onmiddellike finansiële uitdagings kan beskou, waarsku kenners dat daar met groot omsigtigheid omgegaan moet word met pensionspaargeld.

Verbruikers moet hulself deeglik vergewis van die nuwe stelsel om sodoende te verseker dat hulle steeds hul aftreebeplanning effektief bestuur. Ingeligte verbruikers sal nie goedsmoeds hul korttermynbehoeftes bo langtermynvoorsiening stel nie.

Maar wat behels die nuwe tweepot-pensioenstelsel?

Die nuwe stelsel sal dit vir werkende Suid-Afrikaners moontlik maak om jaarliks ʼn deel van hul aftreegeld te kan onttrek. Dié vergunning het dit ten doel om die ongesonde praktyk hok te slaan waar werknemers bedank ten einde toegang te verkry tot hul aftreefondse. Hierdie praktyk het nie net swerfwerk tot gevolg nie, maar put ook diegene se opgeboude aftreefondse uit. Laasgenoemde is kommerwekkend, veral gegewe die realiteit dat slegs ongeveer 6% van alle Suid-Afrikaners voldoende voorsiening tref vir hul aftrede.

Die praktyk, alvorens die goedkeuring en implementering van die nuwe stelsel, was dat persone slegs toegang tot hul pensioenfondse kon kry ten tye van hul aftrede. Hierdie fondse het tradisioneel bestaan uit ʼn kontantlompsom (een derde) en ʼn annuïteit of gereelde pensioenuitbetaling (twee derdes). Die een derde wat in kontant uitbetaal is, is op ʼn meer gunstige basis belas waarvan die eerste R550 000 belastingvry was.

Die regering se rasionaal vir die nuwe stelsel is om toegang tot aftreefondse te beperk, maar die praktiese implementering hiervan het met heelwat druk vanuit die vakbondwese gepaard gegaan. ʼn Kompromie was die enigste manier waarop die nuwe wetgewing aanvaar kon word. Gevolglik sal lede binne die nuwe tweepot-aftreestelsel in ʼn noodgeval wel vrywillig toegang geniet tot ʼn beperkte gedeelte van sy/haar aftreefondse voor aftrede.

Vanaf 1 September sal alle bydraes tot aftreefondse in twee potte verdeel word, naamlik ʼn spaarpot (noodpot) en ʼn bewaringspot. Die nuwe verdeling sal as volg daaruit sien:

Spaarpot (een derde)

  • Hierdie gedeelte is een keer per jaar beskikbaar ten tye van ʼn noodgeval.
  • Die minimum ontrekking is R2 000 per onttrekking.
  • Onttrekkings sal belas word teen die lid se marginale belastingkoers, en dié fondse word daarom as ʼn addisionele inkomste by die lid se totale inkomste gevoeg vir belastingdoeleindes.

Bewaringspot (twee derdes)

  • Lede het nie toegang tot hierdie fondse voor aftrede nie.
  • Ten tye van ʼn lid se aftrede sal hierdie gedeelte beskikbaar wees en by wyse van ʼn enkele oordrag, ʼn annuïteit of maandelikse inkomste uitloop.

Die vraag ontstaan gevolglik hoe die aftreefondsstelsel daaruit sien tot en met 31 Augustus 2024? Die bestaande aftreefondse (die gevestigde pot) en die fondse wat op hierdie wyse bymekaar gemaak is, is steeds aan die ou reëls onderhewig. In praktyk beteken dit dat indien ʼn persoon 55 jaar of ouer was op 1 Maart 2021 en sy/haar fondse in ʼn voorsorgfonds was, die lid nou kan kies om in die bestaande (ou) sisteem te bly óf om oor te skuit na die nuwe tweepot-stelsel. Lede het ook die opsie om ʼn maksimum van 10% (beperk tot R30 000) van hul bestaande fondse na die nuwe spaarpot oor te dra.

Verbruikers moet veral van die volgende implikasies bewus wees:

  • Hoe meer fondse ʼn lid uit sy/haar spaarpot onttrek, hoe minder fondse sal daar ten tye van aftrede beskikbaar wees.
  • Die fondse wat in die spaarpot is, en wat nie onttrek word nie, sal as ʼn enkelbedrag by aftrede beskikbaar gestel word.
  • Indien lede van aftreefondse nou na willekeur tot soveel as een derde van hul aftreefondse voortydig kan onttrek, is daar minder fondse beskikbaar wat die voordeel van saamgestelde groei kan benut.
  • Die verdeling en afsonderlike bestuur van fondse in die nuwe stelsel sal tot ʼn bykomende administratiewe uitdaging vir die aftreefondsbedryf inhou. Hierdie impak sal ook beduidende koste-implikasies vir lede van pensioenfondse inhou.

In die lig van bogenoemde is dit belangrik dat jong werkendes veral met omsigtigheid moet optree en weldeurdagte finansiële besluite moet neem. Die volgende praktiese advies kan van hulp wees:

  • Neem jou tyd en soek na ʼn geakkrediteerde en goed toegeruste finansiële adviseur saam met wie jy ʼn lang pad kan stap en behoorlike finansiële beplanning kan doen.
  • Stel vroeër eerder as later ʼn deeglike finansiële plan op wat al die aspekte van jou lewe en behoeftes belyn met jou verskillende lewensfases.
  • Pas goeie selfdissipline toe en probeer ten alle tye om hierdie plan nougeset te volg. Moenie dat ʼn korttermynbehoefte jou langtermynvoorsiening negatief beïnvloed nie. Die menslike natuur is aanpasbaar en hoe gouer jy kan aanpas by laer besteebare vlakke, hoe meer waarde kan jy put uit voorsieningsgeleenthede soos verhogings en salarisaanpassings.
  • Hersien jou finansiële beplanning gereeld om seker te maak dat dié plan aanpasbaar is vir veranderende lewensomstandighede soos wanneer jy in die huwelik tree, met ʼn gesin begin of vir jou aftrede beplan.
  • Vier die bereiking van langtermyn- finansiële doelwitte en geniet dit om te sien hoe jou geld groei.

Daar is altyd geldige redes waarom dit mag nodig wees om vroeër in jou pensioengeld te delf en dit is ʼn gegewe dat die lewe soms baie onvoorspelbaar kan wees. ʼn Goeie spaaringesteldheid en ingeligte finansiële besluitneming sal egter die angel uit onvoorsiene uitdagings kan haal.

Thinus Nienaber, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, maan veral jong werkendes om ingelig te wees oor die nuwe tweepot-aftreestelsel en om weldeurdagte finansiële besluite te neem.