Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Danksy Akademia is my moederhart gerus – Fontie-ouer

Gepubliseer op: 13 Junie 2024

As dit kom by die geluk van haar kinders en die mate waarop hulle vir die toekoms voorberei word, is Nicoline Meyer se moederhart gerus. Volgens Meyer, die ma van twee Fonties, het hierdie gevoel van berusting posgevat die dag toe haar dogters, Megan en Mikayla, se paaie met dié van Akademia gekruis het.

Megan het in 2024 die BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie behaal en is tans geregistreer vir die LLB-program. Kleinsus, Mikayla, is vanjaar ʼn eerstejaar en studeer BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde). Ousus Megan het haar studiereis begin as ʼn lid van Akademia se eerste dameskoshuis, Huis Strelitzia, wat voorheen op die Leriba-kampus geleë was, terwyl Mikayla ʼn lid van Huis Dahlia is. Laasgenoemde is een van die instelling se splinternuwe dameskoshuise wat vroeër vanjaar bekendgestel is.

Volgens Meyer het die gesin gedurende die grendeltyd in 2020 in alle erns begin om navorsing te doen oor hoëronderwysinstellings omdat Megan toe in matriek was. “Ons het letterlik al die universiteite en hul onderskeie aanbiedinge, wat akademie én studentelewe betref, op die proef gestel,” sê Meyer en voeg by dat dit ʼn geval was van hier te kort en daar te lank. “As ouers was ons op soek na ʼn omgewing waarbinne ons kind iets kon beleef van die heilsaamheid wat ons jare gelede tydens ons universiteitsjare ervaar het. Ons wenslysie het aspekte soos gesonde studentepret, hoogstaande akademiese onderrig in Afrikaans, Christelike waardes en ʼn gevoel van verbondenheid ingesluit,” onthou Meyer. Sy voeg by dat dié verwagtinge aanvanklik baie moeilik was om te bevredig binne die tradisionele Suid-Afrikaanse hoofstroomhoëronderwysmilieu.

In hierdie tyd het die Meyers van Akademia gehoor, en was hulle só beïndruk dat hulle binne ʼn week ʼn afspraak gemaak het om oor Megan se studiemoontlikhede te gesels. Die res is soos hulle sê, geskiedenis.

Meyer vertel dat sy vanuit ʼn familie kom waar nie net haar ma nie, maar ook haar sussie en dié se man in die onderwysberoep staan. Sy onthou ook dat toe sy ʼn jong kind was, daar van tyd tot tyd enkellopende onderwyseresse aan huis geloseer het en dat die eetkamer dikwels die plek was waar merkwerk en beplanning gedoen is. Sy onthou ook hoe sy gereeld gehelp het om skrifte (Afrikaans en Wiskunde) na te gaan en boeke oor te trek. In hierdie tyd het ʼn liefde vir Afrikaans by Meyer opgevlam en daarom is dit vir haar belangrik om ook haar kinders in hul moedertaal te laat onderrig.

“Ons is ʼn tipiese dorpsjapie-gesin wat trots Afrikaans is,” meen Meyer. Sy voeg by dat ten spyte daarvan dat sy en haar man albei in verskillende hoedanighede oorsee werksaam was, en daarom in ʼn Engelse werkswêreld gesetel was, dit vir hulle belangrik is om hul kinders ʼn deeglike moedertaalbegronding te bied. “Akademia het nie net ons moedertaalvereiste vervul nie, maar bied ook aan ons kinders die geleentheid om hul eie identiteit en plek in die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te vind,” verduidelik Meyer.

Wat die instelling se georganiseerde studentelewe betref, meen Meyer dat haar dogters heelhartig deelneem en só herinneringe maak en vriendskappe smee wat hul ʼn leeftyd sal by bly. “As ouer is dit vir my belangrik dat my kinders hul eie identiteit kan ontwikkel in ʼn veilige ruimte, terwyl hulle met die nodige sosiale vaardighede toegerus word om hulself in die veranderende wêreld te kan handhaaf,” sê Meyer.

En watter raad het Meyer vir die ouers van voornemende Fonties? “Almal se behoeftes is anders, en dit is belangrik om deeglik hieroor te besin. Watter behoeftes is nie onderhandelbaar nie? Hoe lyk die akademiese aanbod? Is daar ʼn ondersteuningsnetwerk in instelling? Hoe sien die studentelewe daaruit?” Volgens Meyer is dit belangrik dat ouers hierdie vrae sal opper, en dat hulle nie goedsmoeds besluite sal neem op grond van tradisie of gerief nie. “Die keuse van ʼn naskoolse studietuiste is baie belangrik omdat dit oor veel méér gaan as net akademiese studie. Dit verteenwoordig die wipmat vanwaar jou kind sy/haar toekoms betree as ʼn volronde roepingsgedrewe individu,” sê Meyer.

Sy sluit af deur te sê dat Akademia aan al die Meyer-gesin se behoeftes voldoen het, en dat haar dogters trots verbonde is aan dié instelling. “Ek kan eerstehands getuig van die groei en ontwikkeling wat my dogters ervaar, en dit is ʼn groot seën om te sien hoe hulle ontluik vanaf skoolverlaters na ambisieuse en bewuste jong vroue wat slaggereed is vir die toekoms,” sê Meyer.

Die Meyer-vroue vroeër vanjaar tydens die handelsmerkbekendstelling van Huis Dahlia. Van links is kleinsus Mikayla, Nicoline en ousus Megan.