Woordeboeke – spieël van die wêreld in woorde

Gepubliseer op: 4 April 2025

Geskryf deur Karien Brits, dosent in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia.

Die Oxford English Dictionary (OED) het onlangs verskeie eiesoortige Suid-Afrikaanse woorde tot sy versameling toegevoeg. In alle eerlikheid laat dié besef ʼn mens nogal met ʼn gevoel van trots, veral omdat daar óók Afrikaanse woorde onder hierdie toevoegings is. En oor die verloop van tyd is verskeie woorde vanuit ons lieflike taaltuin reeds tot die internasionale woordwêreld bygevoeg. Dit laat my onwillekeurig dink aan die woorde van Tiemie in PG du Plessis se drama Siener in die suburbs, wanneer hy sê: “Ek wil van geweet wees!”

Afrikaanse woorde waarvan die wêreld die afgelope paar jaar kennis geneem het, sluit onder meer in woorde soos eina, deurmekaar, dwaal, ghoen, skedonk, voetstoots, volksliedjie en volkspele.

Dit is uiteraard ʼn riem onder die hart as mooi woorde hulle weg na ʼn internasionale woordeboek vind. Maar wat gemaak met daardie woorde waaroor ons in “goeie” geselskap sou frons? Dit is dan belangrik om te weet dat woordeboeke nie net daar is om mooi woorde op te neem nie. Hulle moet juis ook die “onfatsoenlike” woorde opneem om die taal in sy volle omvang te kan weergee.

Die OED is ʼn omvattende woordeboek in die ware sin van die woord en met die verskillende variëteite van Engels word ook die Suid-Afrikaanse Engelse woorde opgeneem. In 2028 sal dié woordeboek sy eeufeeswording vier en in die aanloop tot dié besonderse mylpaal is daar tans ʼn groot fokus op Engels buite die Verenigde Koningryk. Hierdie fokus neem die vorm van die OED 100: World English programme aan en behels die intensiewe raadpleging van verskeie bronne waaronder tradisionele media, boeke, databasisse, sosiale media en taalkundiges om die weerspieëling van woordgebruik so akkuraat moontlik te maak.

Sommige van vanjaar se ingesluite Afrikaanse woorde wil nie noodwendig almal van “geweet wees” nie, maar hulle is in ieder geval opgeneem. Hierdie woorde sluit in yoh (of soos ons dit in Afrikaans ken, jô), gatvol, die hel in, tjoekie en zol. Hierdie woorde vang die tydsgees vas en sê iets van die frekwensie van die gebruik daarvan. Navorsers en lesers sal oor honderd jaar kan terugkyk na 2025 en wéét dat mense ook toe méér as net keelvol en kwaad was omdat korrupte politici, byvoorbeeld nooit in die tjoekie beland het nie.

Voorbeelde van ander woorde wat opgeneem is, kom uit die Sothotale: (se)shweshwe en makarapa. Hierdie woord is nie onbekend in die Afrikaanse omgewing nie en is in lankal reeds in Afrikaanse woordeboeke opgeneem. Shweshwe is in die Handwoordeboek van die Afrikaans Taal (HAT) opgeneem as “katoenmateriaal bedruk met kenmerkende Afrikamotiewe”. Makarapa (die enkelvoud is lekarapa) verwys nou volgens die OED na die versierde veiligheidshoede wat by sportgeleenthede gedra word. Inderdaad beteken lekarapa in die hierdie tale veiligheidshoed, maar dit word ook gebruik as mynwerker of immigrantwerker.

In Afrikaans het makarapa (of makrappa) wel ʼn negatiewe betekenis (gehad). Indien die “onfatsoenlike” woord nie destyds in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgeneem is nie, sou mense oor honderd jaar van nou af tekste in Afrikaans verkeerd kon interpreteer. Woordeboeke help ons nie net om die betekenis van taal te ontsluit nie, maar dit hou ook ʼn spieël op van hoe ons na die wêreld kyk en vang die tydsgees van nou vas vir komende geslagte.

Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, verduidelik dat woordeboeke ʼn spieël van die wêreld is, en dit daarom verblywend is dat eiesoortige Suid-Afrikaanse woordeskat óók internasionale blootstelling geniet.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.