Dinamiese wetenskapsonderrig op skool beïnvloed universiteitsprestasie – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 10 Februarie 2025

Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Skoolprestasie, in vakke soos Fisiese Wetenskappe en Wiskunde, word oor die algemeen gesien as belangrike voorspellers van akademiese sukses op universiteitsvlak. Leerders wat hoë punte in hul graad 12-eindeksamens behaal, toon dikwels beter konseptuele vermoëns in komplekse vakgebiede. Dit is egter nie ʼn waarborg vir suskses op universiteit nie, aangesien ʼn verskeidenheid faktore, soos sosio-ekonomiese agtergrond, skooltipe, taalvaardigheid en persoonlike houding teenoor vakke, ook ʼn bepalende rol speel.

ʼn Kritieke faktor wat dikwels oor die hoof gesien word, is die wyse waarop wetenskap op skool aangebied word. Tradisionele wetenskapsonderrig beklemtoon dikwels memorisering en die oordrag van feite, met die wetenskaplike metode wat dikwels as ʼn stap-vir-stap -resep voorgehou word vir sukses in praktiese lesse. Hierdie transmissiebenadering – waar kennis eenvoudig van die onderwyser na die leerder oorgedra word – is gewortel is ʼn positivistiese en gedragsmatige onderwysmodel en oorheers steeds in baie skole. Herhaling en memorisering word as sleutels tot sukses gesien word, waar leerders aangemoedig word om inligting passief te absorbeer, eerder as om kennis aktief te konstrueer.

Hierdie statiese benadering het verreikende gevolge: Navorsing toon dat praktiese werk in skole dikwels bevestigend eerder as konseptueel gerig is. Leerders word minder aangemoedig om die onderliggende redes agter eksperimentele resultate te ondersoek, en gevolglik word wetenskap dikwels voorgestel as ʼn domein van ʼn vaste versameling van feite wat bllot gememoriseer moet word. Hierdie persepsie verhoed leerders om te verstaan hoe wetenskap ontwikkel en verander op grond van nuwe bewyse. Op tersiêre vlak sukkel hierdie studente dikwels om abstrakte en dinamiese konsepte te konseptualiseer en met bestaande kennis te integreer.

Die uitdaging is dat skoolverlaters, wat gewoond is aan memorisering en korttermyngeheue, dit soms moeilik vind om aan te pas by gevorderde studies. Die neiging om wetenskaplike kennis as ʼn vaste versameling van feite aan te bied verhoed skoliere om te ontdek hoe wetenskaplike kennis ontwikkel óf verander op grond van nuwe bewyse. Universiteitstudente moet egter leer om kreatiewe denke, kritiese analise en konseptuele integrasie toe te pas. Dit is juis hier waar studente wat vir die eerste keer wetenskap konseptualiseer, begin om nuwe maniere te ontdek om praktiese vaardighede, historiese kontekste en wetenskaplike relevansie te integreer. Dit verbeter nie net akademiese prestasie nie, maar ontwikkel ook ʼn groter waardering vir die relevansie en kompleksiteit van wetenskap in ʼn werklikheidskonteks.

Die oplossing lê in ʼn verskuiwing na ʼn meer dinamiese wetenskaponderrigmodel op skoolvlak, waar konseptuele begrip en denkvaardighede die fokus moet wees, eerder as blote feite-oordrag, of die leer van wetenskaplike konsepte in silo’s. Deur praktiese uitvoering en effektiewe onderrigbenaderings, selfs op laerskoolvlak, kan leerders van jongs af geleer word om te observeer, te meet, afleidings te maak, te klassifiseer en te voorspel. Hierdie aktiewe benadering bevorder nie net beter skoolvoorbereiding nie, maar verseker ook dat leerders beter toegerus is vir tersiêre studie in hierdie velde.

Benewens verbeterde skoolpraktyke en versterking van pedagogiese strategieë in die klaskamer, moet universiteite ook die oorgang van skool na hoër onderwys ondersteun. Baie instellings bied reeds akademiese oriënteringsprogramme, mentorskapsgeleenthede en aanvullende klasse juis met die doel om voorgraadse studente te ondersteun en voor te berei vir die uitdagings van gevorderde studies. Hierdie pogings is noodsaaklik, aangesien die uiteenlopende ervarings van skoolwetenskaponderrig tot verskillende uitkomste op universiteitsvlak lei.

Die uiteenlopende uitkomste van skoolwetenskaponderrig op universiteitsvlak beklemtoon wel die belangrikheid tot ʼn meer holistiese en konseptuele benadering tot leer. Terwyl sommige eerstejaarstudente sukkel om aan te pas, vind ander hul akademiese voete juis omdat hulle nuwe maniere ontdek om die werklike aard van wetenskap te verstaan. Deur hierdie dinamika te erken en te benut, kan onderwysinstellings ʼn pad baan na die aanwending van verbeterde pedagogiese praktyke, verbeterde akademiese gehalte, gevolg deur beter prestasie en ʼn meer kritiese benadering tot wetenskaplike kennis.

Moreen Coetzee, dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, meen ʼn deeglike begrip van die werklike aard van wetenskap kan studiesukses op universiteitsvlak in dié spesialisveld ontsluit.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.