Gepubliseer op: 15 Maart 2025
Geskryf deur prof. Jacolien Barnard, dosent: Privaat- en Handelsreg verbonde aan Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid
Wêreldverbruikersregtedag word op 15 Maart 2025 gevier en vanjaar se tema fokus op die billike oorgang tot ʼn volhoubare verbruikerslewenstyl. Maar wat is die omvang van hierdie tema en waar laat dit Suid-Afrikaanse verbruikers?
Vanuit ʼn globale perspektief blyk daar ʼn ongekende toename in omgewingsuitdagings na vore te tree, insluitend rekordtemperature, erge weersomstandighede en ʼn toenemende verlies aan biodiversiteit. Besoedeling is lank nie meer net ʼn gonswoord nie, maar ʼn realiteit wat met groot openbare gesondheidskwessies gepaardgaan, wat jaarliks bydra tot miljoene voortydige sterftes wêreldwyd. Sonder dringende optrede sal hierdie krisisse verdiep, wat globale vordering met betrekking tot die Verenigde Nasies (VN) se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte in gevaar stel.
Op eie bodem is plaaslike verbruikers wel bekend met die uitdagings van besoedeling, waaronder die vraag na skoon en drinkbare water; veilige voedselprodukte; ongekende temperature en vloede; en die soeke na volhoubare energiebronne. Suid-Afrika het sy verbintenis tot die 2030-Agenda en die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte tydens die SDG-beraad in September 2023 herbevestig en toekomsgerigte verandering op verskeie kritieke gebiede belowe. Laasgenoemde sluit onder meer in ʼn regverdige energie-oorgang, klimaatsfinansiering, digitale insluiting, vaardigheid- en kennistoerusting vir vroue en biodiversiteitbeskerming. Die vraag is egter of Suid-Afrikaanse verbruikers op voetsoolvlak bewus is van hierdie inisiatiewe en of ʼn volhoubare leefstyl vir die standaardverbruiker enigsins moontlik is?
Uitdagings maak verbruikers leefstylfiks
In die algemeen word ʼn volhoubare leefstyl beskou as ʼn lewenswyse, gepaardgaande sosiale gedrag en die maak van keuses wat omgewingsagteruitgang tot die minimum beperk. Terselfdertyd ondersteun dié lewenswyse billike sosio-ekonomiese ontwikkeling asook ʼn beter lewensgehalte vir almal. In terme van die verbruikerswese kom hierdie tipe leefstyl oënskynlik met ʼn prysetiket gepaard aangesien herwinde klere, organiese voedselprodukte, en sogenaamde “groen” huishoudelike produkte dikwels nie vir die standaardverbruiker bekostigbaar is nie. Verbruikers se keuses is beslis eerder gefokus op “onmiddellike oorlewing” en die voorsien van basiese behoeftes vir hulle en hulle gesinne.
Die goeie nuus is egter dat plaaslike verbruikers juis baie uitdagende ekonomiese omstandighede benut om ʼn volhoubare leefstyl te handhaaf sonder dat dit nodig is om ʼn prysetiket (of enige etiket) daarop te plaas. Verbruikers maak volhoubare aankoopkeuses wat meer gefokus is op basiese benodighede (vars voedselprodukte en stapelvoedsel) eerder as luukse produkte. Weens die uitdagings van beurtkrag en watertekorte besig verbruikers hulself bewustelik met die besparing van hulpbronne soos elektrisiteit en water. Herwinning speel voorts ʼn groot rol in ʼn volhoubare leefstyl en veral jong Suid-Afrikaanse verbruikers wat reeds vanaf skoolvlak aangemoedig word, is voorstaanders hiervan.
Die sleutelwoord hier behoort “verantwoordbaarheid” te wees. Natuurlik speel die regering en selfs privaat instellings ʼn belangrike rol, maar elke verbruiker self het ʼn belangrike verantwoordelikheid en rol as dit kom by volhoubare ontwikkeling. Elke bietjie help. Raak vandag nog bewus van en betrokke by skool- en gemeenskapsinisiatiewe in jou omgewing wat volhoubaarheid najaag en word só ʼn verbruikerskampioen.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.