Deuntjies en lirieke: Só word intellektuelegoedereregte in die musiekbedryf beskerm

Gepubliseer op: 7 Mei 2025

Geskryf deur prof. Jacolien Barnard, dosent: Privaat- en Handelsreg verbonde aan Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid.

Wêrelddag vir Intellektuele Eiendom (IE) is onlangs wêreldwyd gevier en vanjaar is die fokus op musiek geplaas. Volgens die Wêreld Intellektuele Goedere Organisasie (WIGO) verryk musiek elke denkbare aspek van die menslike ervaring: van die opgewekte ritmes wat ons uitnooi om saam te dans, tot die lirieke wat ons emosies eggo.

WIGO stel dit dat musiek ʼn universele vorm van kreatiewe uitdrukking is. Gevolglik speel intellektuele-eiendomsaangeleenthede (ook genoem goederereg) ʼn deurslaggewende rol in die ondersteuning van ʼn aktiewe en uiteenlopende musieklandskap. Hierdie landskap is ten nouste vervleg met IE-raakpunte wat binne die rolprent- en vermaaklikheidsektore voorkom asook dié van tegnologie, mode, videospeletjies en verbruikersgoedere om ʼn paar voorbeelde te noem. Dit is dan juis ook die ontsluiting van hierdie kreatiewe sinergieë wat innovasie moontlik maak én ekonomiese groei aanwakker.

Maar hoe sien IE en die musiekbedryf daarvan uit?

Met die bekendstelling van musiekstromingsplatforms het Suid-Afrika ʼn ongekende verhoging in musiekinkomste ervaar. As die grootste musiekverbruikersmark in sub-Sahara-Afrika het die land gedurende 2024 ongeveer 74,6% óf R1,51 miljard ($82,06 miljoen) se inkomste gegenereer. Hierdie groei gaan egter gepaard met verskeie IE-uitdagings en daarom moet daar ag geslaan word op die beskerming van kreatiewe werke binne hierdie dinamiese sektor.

Hoewel die inkomste vanuit die musiekbedryf enorm is, is die vraag of die kreatiewe werke van liedjieskrywers, komponiste, kunstenaars en almal wat betrokke is by die skepping van musiek genoegsaam beskerm word? Die Suid-Afrikaanse musiekbedryfsverslag, wat in Oktober 2024 beskikbaar gestel is, dui daarop dat die grootste uitdagings in die plaaslike musiekbedryf toegeskryf kan word aan onder meer:

  • Musiekuitbuitery (piracy);
  • Die ongelyke verdeling van kunstenaartantiemes;
  • ʼn Gebrek aan bekostigbare data-infrastruktuur; en
  • Die beperkte beskikbaarheid van betaalopsies wat stromingsdienste betref.

Wetgewing bied beskerming

In die algemeen bestaan daar verskeie wetgewings wat daarin poog om die IE van persone te beskerm. Outeursreg wat betref musiek en klankopnames word ingevolge die Wet op Outeursreg van 1978 beskerm, terwyl daar óók spesifieke beskerming vir “voordraers”, ingesluit akteurs, sangers, musikante en dansers wat letterkundige of artistieke werke sing, opsê of uitvoer bestaan. Laasgenoemde verwys na die Wet op die Beskerming van Voordraers van 1967. Die handelsmerke van byvoorbeeld musiekvervaardigers en kunstenaars ontvang op hul beurt beskerming indien dit ingevolge die Wet op Handelsmerke van 1993 geregistreer is.

Beskerming vir inheemse kulturele en tradisionele werke

Daar bestaan gevolglik ook spesifieke beskermingsraamwerke vir inheemse kulturele uitdrukking en tradisionele werke. Alhoewel die Wysigingswet op Intellektuele Eiendomsreg van 2013 nóg nie van krag is wat diesulke inheemse werke betref nie, sal dit ʼn beduidende impak op die beskerming hiervan hê.

Hierdie wysigingswet sal belangrike begrippe vanuit bestaande wetgewing toevoeg en spesifiek erkenning gee aan werke met ʼn tradisionele aard. Inheemse kulturele uitdrukkings en kennis word onder andere verstaan as:

  • Enige vorm (tasbaar óf ontasbaar) waarin tradisionele kultuur en kennis beliggaam word;
  • Werke wat oorgelewer word tussen geslagte; én
  • Enige vorm van kreatiewe uitdrukking – soos musiek of klankuitdrukkings (liedere, ritmes of instrumentaal) insluit.

Op sy beurt word tradisionele werke verduidelik as “musiekwerk as deel van die kulturele erfenis van sodanige inheemse gemeenskappe”. Dit is bemoedigend dat die tradisionele en inheemse IE van inheemse Suid-Afrikaanse gemeenskappe asook inheemse tale wat deur soveel gemeenskappe gepraat word, en wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe insluit, hierdie tipe vlak van beskerming geniet.

Die lisensiëring en beskerming van musiekregte

Dit is belangrik om te onthou dat daar verskeie organisasies in Suid-Afrika is wat gemoeid is met die lisensiëring en beskerming van musiekregte. Hierdie organisasies sluit in:

  • SAMRO, die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie, is die agentskap wat die regte van musikante én luisteraars beskerm. Hierdie beskerming sluit ook outeursreg in wat by wyse van lisensiëring gefasiliteer word.
  • Op sy beurt is SARRAL, die Suid-Afrikaanse Opnameregte Vereniging, gemagtig om outeursreginvorderings namens sy lede te maak wanneer ʼn lid se musiek wat kopiereg geniet, opgeneem word.
  • Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekuitvoeringsregte, SAMPRA, administreer die tantieme van sogenaamde naaldtydregte (needletime rights) namens opnamekunstenaars en platemaatskappye.

Daar is soveel rolspelers in die musieklandskap waarvan so baie van hulle eie kreatiewe denke en werke deel uitmaak van ons daaglikse musiekervaring. ʼn Mens kan nie anders as met waardering gevul te word vir die wyse waarop hulle ons lewens met hul kreatiwiteit en insig verryk nie. Om dié rede is dit nodig om hulle IE ten alle tye te beskerm en só die toekoms van die plaaslike musiekbedryf te help verseker.

Prof. Jacolien Barnard, ʼn dosent in Privaat- en Handelsreg verbonde aan Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid, meen almal moet hul deel doen om die intellektuele eiendom van Suid-Afrika se talentvolle musikante en gepaardgaande musiekbedryf te beskerm.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.