Die
TAALSENTRUM
“Akademia verteenwoordig ’n hoopgewende alternatief vir Afrikaanssprekendes binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese.”
- prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie
Akademia word toenemend ’n baken as ’n Afrikaanse hoëronderwysinstelling – nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook op die internasionale verhoog. Die instelling se begrondingsdokument is ook ’n inherente opdrag aan Akademia-akademici en -personeel om Afrikaans op alle vlakke uit te bou.
Akademia se Taalsentrum het ten doel om Akademia juis in hierdie taak te ondersteun deur Afrikaans as akademiese, algemene en vreemde taal uit te bou. Die Taalsentrum, wat gehuisves word in die Fakulteit Geesteswetenskappe se Departement Tale en Kultuurwetenskappe, is in hierdie stadium getaak met die volgende:
- Om Afrikaans as vreemde taal te bevorder – plaaslik en in die buiteland;
- Om die akademiese taalvaardigheid van Akademia-studente tot op die hoogste vlak uit te bou, sodat hulle met groot sukses hul studies en beroepe in die werkplek kan voltooi en beoefen; en
- Om Afrikaans as akademiese taal te bevorder deur aan Akademia-personeel ondersteuning te bied met navorsing en onderrig-en-leeraktiwiteite.
PROJEKTE
Die Taalsentrum is verantwoordelik vir die volgende projekte:
Akademiese taalvaardigheid
Die Raad op Hoër Onderwys se studie wat in die verslag Vital Stats Public Higher Education (2010–2019) gepubliseer is, bevind dat studente nié gerat is vir die akademiese geletterdheidseise aan tersiêre instellings nie. Goeie taalvaardigheid staan uiteindelik sentraal tot akademiese geletterdheid, uitnemende onderrig en die suksesvolle aflewering van graduandi. Dit handel oor meer as bloot basiese lees- en skryfvaardighede, maar omvat ook kritiese denke, navorsingsvaardighede en die vermoë om met komplekse akademiese tekste om te gaan.
Akademia – in samewerking met die Interinstitusionele Sentrum vir Taalontwikkeling en Assessering (ICELDA) – toets om hierdie rede vanaf 2024 alle eerstejaarstudente aan die instelling se akademiese taalvaardigheid om te bepaal of hulle gerat is vir die eise van die hoëronderwysomgewing. Studente wie se taalvaardighede nie op die gepaste vlak is nie, ontvang ondersteuning deur middel van ’n aanlyn kortkursus in akademiese taalvaardigheid. Die kursus word ontwikkel in samewerking met die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR) se Write It-projek.
Benewens die toetse en kortkursus op eerstejaarsvlak, beplan die Taalsentrum boonop aan ’n gevorderde taalvaardigheidskursus in Afrikaans en ’n Engels in Praktyk-kursus vir senior studente. Met hierdie kursusse wil die Taalsentrum die instelling se alumni nie net toerus om Afrikaans se hoë funksies by uitstek te gebruik nie, maar ook om met sukses in Engelstalige werksomgewings te funksioneer.
Afrikaans as vreemde taal
Afrikaans word reeds by verskeie sentra en taalskole in Europa en elders in die wêreld aangebied en Akademia sal voortaan die instansie wees wat die gehalte van die proses en die sertifisering daarvan bestuur. Vanaf 2025 sal Akademia taalsertifikate uitreik aan diegene wat taalbevoegdheidseksamens in Afrikaans suksesvol aflê. Die sertifisering is geskoei op die Europese Raamwerk vir Tale (oftewel die Common European Framework of Reference for Lanugages) wat van kommunikasievlak (A1 en A2) tot by akademiese vlak (C1 en C2) strek. Ander bekende instansies wat taalvaardigheidsertifikate uitreik wat op hierdie raamwerk geskoei is, is die Alliance Francaise en die Goethe-instituut.
Met hierdie projek, sal Akademia Afrikaans as vreemde taal op die volgende wyses bevorder:
- Akademia is die hoofsentrum waar taalbevoegdheid in Afrikaans volgens die internasionale raamwerk getoets word.
- Akademia bied aan belangstellendes die geleentheid om Afrikaans as vreemde taal aan te leer deur middel van aanlyn kursusse.
- Akademia lei mense op om Afrikaans as vreemde taal aan te bied. (Dit vergelyk met die TEFL-sertifikate in die Engelse konteks.)
Met hierdie projek dra die Taalsentrum verder by tot die instelling se sukses met uitruilprogramme en die uitbou van internasionale netwerke, omdat uitruilstudente en gasdosente die geleentheid kry om Afrikaans as vreemde taal te bemeester tot op ’n bepaalde vlak voordat hulle by Akademia aansluit.
Afrikaans as akademiese taal
Akademia is een van die weinige hoëronderwysinstellings wat hulle toespits op navorsing en onderrig en leer in uitsluitlik Afrikaans. Daarom is dit noodsaaklik dat die instelling via die Taalsentrum ook aan akademiese personeel genoegsame ondersteuning bied om juis hierdie take in uitstekende akademiese Afrikaans te verrig.
Met hierdie projek werk die Taalsentrum nou met die onderskeie fakulteite om onder meer behoeftebepalings te doen, vak- en navorsingsterminologielyste te ontwikkel, ondersteuning te bied met die vertaling van terme en konsepte met die oog op onderrig en leer, asook taaladvies vir navorsing wat in Afrikaans gedoen word.
VivA-samewerking
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) sluit in 2024 as onafhanklike kontrakteur by die Taalsentrum aan. VivA en die Taalsentrum ondersteun mekaar in hul onderskeie aktiwiteite deur samewerking wat onder meer insluit die bevordering van navorsing in Afrikaans, programontwikkeling, internskapgeleenthede en taalpraktykgerigte kortkursusse. Samewerking tussen die Taalsentrum en VivA sal geleenthede skep vir albei om Afrikaans op verskeie wyses te bevorder. Volg hierdie skakel vir meer inligting oor VivA se projekte.
PERSONEEL
DR. ALÉ STEYN
Koördineerder: Taalsentrum
Departementshoof: Tale en Kultuurstudies
Programkoördineerder: BA (Kommunikasie en Joernalistiek)
Programkoördineerder: BAHons (Media en Kommunikasie)
Programkoördineerder: BA (Taalstudies)
DJ CLOETE
Koördineerder: Akademiese taalvaardigheid
Dosent: Afrikaans en Nederlands, en Linguistiek
Karien Brits
Koördineerder: Afrikaans as vreemde taal
Senior taalpraktisyn
Medewerkers
Prof. Albert Weideman
Voorsitter: ICELDA
Marlie Coetzee
Uitvoerende hoof: VivA
Dr. Rina Loader
Voorheen dosent: Taalkunde aan die Universiteit van Wene
Sarita Blignaut
Taalpraktisyn: Akademia
Prof. Tobie van Dyk
Koördineerder: Write It-projek by SADiLaR
NAVRAE
Enige navrae oor die Taalsentrum kan gestuur word na taalsentrum@akademia.ac.za.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE