Search
Close this search box.

Studiegroepe as leerstyl hou baie voordele in – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 14 Augustus 2024

Matrikulante dwarsoor Suid-Afrika maak gereed om voor die boeke in te skuif ter voorbereiding van die rekordeksamen. Doeltreffende eksamenvoorbereiding is die sleutel tot sukses – nie net akademies gesproke nie, maar ook emosioneel. Laasgenoemde verwys na die wipwarit-ervaring van menige matrikulante oor die hoë werkslading, toenemende druk om te presteer en kommer oor toekomstige universiteitstoelating.

Volgens Santie Louw, ʼn dosent in Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, kan studiegroepe – as ʼn leerstyl, baie voordele vir matrikulante inhou en kan dit gerus as ʼn leerstyl oorweeg word. Omdat dit eentonig en uitmergelend kan raak om alleen te studeer kan ʼn studiegroep die leerproses lekkerder en meer interessant maak.

Dit is egter belangrik om vanuit die staanspoor jouself met die aard van ʼn studiegroep te vergewis. “Moenie ʼn studiegroep met ʼn vriendegroep of selfs ʼn studiemaat (study buddy) verwar nie. Die fokus is nie op sosialisering nie, maar eerder om ʼn geleentheid te skep waartydens jy en die res van die lede van die groep jul kennis en idees rondom julle leerinhoude kan bespreek en aanvul,” verduidelik Louw. Sy voeg by dat deur vrae te vra en konsepte aan mekaar te verduidelik die lede van die groep ʼn dieper en verfynde kennisbasis van die werk opdoen.

Maar hoe sien die samestelling van ʼn studiegroep daaruit? Louw meen dat die getal lede en samestelling van só ʼn groep van deurslaggewende belang is. Pare – groepe van twee, werk die beste as jy die logistiek daarvan in ag neem om mense op ʼn sekere plek en tyd bymekaar te kry. Groepe van drie is ook doeltreffend as al drie daartoe verbind is om altyd teenwoordig te wees en om gelyke bydraes te lewer. Groter groepe kan moeilik wees om sinvol en doelgerig te bestuur.

Volgens Louw hou studiegroepe die volgende voordele in:

  • Verantwoordbaarheid en dissipline

Groeplede help mekaar om gereeld en met fokus te studeer en om te verseker dat hersieningstake betyds uitgevoer word.

  • Eweknie-onderrig

Die mate van begrip verskil van persoon tot persoon en om saam te studeer en byvoorbeeld konsepte aan mekaar te verduidelik hou voordele vir al die groepslede in. Die groepslid wat die konsep verduidelik bevorder sy/haar diep leer en die groeplid wat onseker was, kry ʼn verduideliking op die vlak van ʼn eweknie.

  • Verbalisering

Konsepte en wanbegrippe word duideliker wanneer dit verbaal geformuleer word. Die spreker en die luisteraar kan albei ʼn konsep beter begryp en beoordeel as daar heen en weer daaroor gesels word.

  • Vermenigvuldiging van idees

Groeplede bring verskillende benaderings, idees en vertolkings van konsepte na die gesprek. Die blootstelling aan ander idees en nuwe maniere van oorweging stimuleer dikwels die leerproses.

Die sukses van ʼn studiegroep kan volgens Louw as volg gemeet word:

  • Die verbetering van individuele lede se prestasie.
  • Meer doeltreffende fokus tydens studietye.
  • Hersieningstake word op ʼn verantwoordbare wyse geprioritiseer en voltooi.

Droom jy as ʼn amper skoolverlater oor naskoolse studie in 2025? Akademia se studieaansoeke is reeds oop. Besoek akademia.ac.za vir meer inligting.

Santie Louw, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen studiegroepe as ʼn leerstyl kan baie voordele inhou.