Search
Close this search box.

Stories, gewoontes en gedrag: Só onderskei jy jouself in die werksplek

Gepubliseer op: 29 Augustus 2024

Hoe onderskei jy jouself in die werksplek? Die vraag klink maklik genoeg, maar volgens dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia behels die antwoord veel méér as net ʼn brokkie advies wat lui: “… maak seker jy word raakgesien!” Laasgenoemde is volgens Davel die slegste leierskapsraad wat jy ooit vir iemand kan gee.

Davel het tydens Akademia se eerste alumni-ontbyt vroeër vandeesmaand gaste toegespreek oor praktiese maniere waarop hulle hulself in die werksplek kan onderskei.

Hiermee Davel se raad oor dié tema:

Daar is só baie selfhelpboeke met goeie raad, sinvolle potsendingreekse en insiggewende LinkedIn-artikels wat geraadpleeg kan word. Maar waar begin ʼn mens? Ek dink die beste wegspringplek is die besef dat jy nie altyd al die antwoorde sal hê nie, en dat jy ander mense op jou loopbaanreis sal moet saamneem. Méér nog: jou ego moet altyd kleiner wees as jou intellek, jou emosionele intelligensie en uiteindelik jou karakter – aldus Marno Boshoff (King Price) en Adrian Gore (Discovery Limited).

In die eerste plek moet ons eerlik erken dat daar nie plek vir ego’s in die werksplek is nie. Indien die werksomgewing ego-gedrewe is, dan is ons in wese besig om persoonlike koninkryke te bou en kan ons nié bid dat God se koninkryk moet kom nie. Ons moet afstand doen van selfgesentreerdheid. Met dié bewuswording in gedagte word dit duidelik dat die vaardighede wat jy vir die werksmag nodig het straks méér met jou binneste en karakter te make het en minder met aangeleerde vaardighede. Om hierdie rede lê Akademia klem op vorming sowel as opleiding.

Telkemale ná werksonderhoude word werknemers aangestel wat erken dat hulle nog baie het om te leer, en opgewonde is oor dié vooruitsig. Hierdie leergierigheid en bereidwilligheid om hard te werk, sowel as hul lojaliteit, maak van diegene personeel waarmee daar ʼn pad gestap kan word. Die wete dat hy/sy foute gaan maak, maar dat dit geleenthede vir leer en groei veronderstel, is baie belangrik.

Daar is geen kortpad na karakterontwikkeling en groei nie juis vanweë die feit dat dié ontwikkeling heel dikwels in moeilike en stormagtige tye plaasvind. Dit is egter belangrik om nooit uit die oog te verloor dat ons ʼn God dien wat storms stilmaak en laat bedaar nie – en daarom kan ons hierdie uitdagings dapper aandurf. Wat die werksplek betref is daar egter gewoontes wat jy kan aankweek, koester en in jou leefwyse verweef wat tot jou algehele vorming sal bydra. Daar is veral drie dinge wat ʼn impak het op karaktervorming:

  • Die stories wat jy glo
  • Die gewoontes wat jy aankweek
  • Die gemeenskap waaraan jy behoort

Die stories wat jy glo

Op die keper beskou is ons struweling nie teen vlees en bloed nie, maar eerder om die waarheid bo leuens uit te ken. Dink maar aan bekende (en soms gerieflike) leuens soos dat daar nie genoeg tyd is nie. Almal het dieselfde hoeveelheid ure in hul dae en die keuse is joune om bewustelik met jou tyd om te gaan al dan nie.

Nóg ʼn leuen is dat tyd alles genees. Dit is ʼn mantra wat ons vir onsself voorhou, maar in wese gaan dit meer oor wat jy met jou tyd doen. Genesing is moontlik wanneer ons kies om verantwoordelikheid en risiko’s te neem, wanneer ons kies om die wond, en die verlede, in vergifnis te laat gaan.

En dan natuurlik die leuen wat voorgehou word in ʼn kitsoplossing. Die welbekende Kanadese skrywer Malcolm Gladwell stel dit onomwonde dat dit bykans 10 000 ure neem om ʼn meester in iets te word. Ek is egter van mening dat dit méér as dit behels. Koop jou tyd uit en sorg dat jou hart en lewensritme ingestem is vir die ware, die skone en die goeie.

Die beste manier om jouself van goeie stories te vergewis is om te lees en dieper na te dink. Wees nuuskierig oor die wêreld om jou, oor jou kollegas, en hoekom hulle sekere take op sekere maniere aanpak. Ons lewe in ʼn baie besige tyd en ons word aanmekaar gebombardeer met inligting en ʼn voortdurende stryd heers vir ons aandag. Moenie só besig wees dat jy nie ruimte het vir ʼn onderbreking of ʼn blaaskans nie.

Ons het elke dag ʼn keuse of ons net gaan rondsit en toelaat dat die wêreld ons insluk, óf om nuuskierig te wees, deel te neem, meer te lees en nóg meer te leer. In die werksplek vra dit van jou om die groter prentjie raak te sien en te verstaan. Wat is jou onderneming se bestaansrede? Wat is die onderneming se oorhoofse strategie? Wat is jou rol in die geheelbeeld? Jy kan net werklik ingekoop wees en betekenisvolle werk doen as jy hierdie vrae kan antwoord.

Die gewoontes wat jy aankweek

In hierdie opsig verwys ek na goeie gewoontes soos dankbaarheid en nederigheid – deugde wat soos ʼn tweede natuur vir jou moet wees. Hiermee ʼn paar gewoontes wat ook tot verhoogde emosionele intelligensie spreek:

  • Definieer jou grense.
  • Wees ten alle tye betroubaar.
  • Streef daarna om iemand te wees op wie daar staatgemaak kan word.
  • Wees ʼn veilige plek vir ander deur te weier om aan gangpraatjies of werkspolitiek deel te neem.
  • Handel altyd met integriteit.
  • Glo ruim in en van jou kollegas, maar leer ook die kuns aan om moeilike gesprekke te kan voer.
  • Neem eienaarskap en verantwoordelikheid vir jou werk, en jou foute.

Hierbenewens wil ek jou uitnooi om die gewoontes van lag, dans en ook stilte te kweek sowel as ʼn ritme vir jou dag, jou week en jou maand. Wees bewustelik in elke oomblik. Onthou, dit waaraan jy jou aandag bestee, bepaal wat jy word. Bêre vir eers daardie (onrealistiese) visualiseringsbord en pen vir jou doenbare en gesonde lewensreëls neer. Hierdie reëls kan jou lewe help rig en bou.

Die gemeenskap waaraan jy behoort

Vir my is daar, wat gemeenskap betref, twee goue reëls: Wees kieskeurig met wie jy in jou binnekring toelaat, maar maak ook plek om jou tafel vir mense wat anders is en dink as jy self.

Die rol van mentors kan voorts nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is ook belangrik om te noem dat jy jouself nie tot ʼn enkele mentor hoef te beperk nie. Kry ʼn mentor vir elke area van jou lewe waarin jy wil groei.

Ter afsluiting nóg twee laaste brokkies advies:

  • Maak seker dat jy ʼn geloofwaardige en selfs inspirerende definisie van werk het. Baie min mense dink hieroor na. Ek persoonlik hou van Tim Keller, ʼn Amerikaanse teoloog en skrywer, se definisie. Hy stel dit as volg: “Werk is om die grondstowwe van God se skepping só te herrangskik dat dit die wêreld in die algemeen, en mense in besonder, help om te floreer.”
  • Laat jou werk ʼn liefdestaak wees – vir jouself, vir ander en die bedryf waarin jy jouself bevind.

Dit is belangrik om te weet dat jy nie altyd ʼn agtermekaar plan hoef te hê nie. Weet net dat met harde werk, die aangryp van geleenthede en God se genade jy baie kan en sal bereik.

Dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia, meen dat jou karakter, ingesteldheid en roepingsbesef daartoe bydra om jouself in die werksplek te onderskei.