Search
Close this search box.

Prioritiseer jou finansiële gesondheid tydens Spaarmaand – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 16 Julie 2024

Geskryf deur Nikki Kennedy, dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia.

Julie is Spaarmaand in Suid-Afrika. Hoewel die fokus vandeesmaand in alle erns op effektiewe finansiëlebeplanningspraktyke val, behoort elke maand myns insiens eintlik Spaarmaand te wees. In die lig hiervan is dit belangrik dat Jan Alleman sal besef dat ʼn deeglike bewustheid van hul eie finansiële gesondheid nét so belangrik is as wat dit vir besigheidslui is.

Op dieselfde wyse as wat die regering sy begroting volgens inkomstes en uitgawes beplan en bestuur, moet individue en gesinne ook werk maak daarvan om gedurende die maand tred te hou met hul geldsake. Laasgenoemde sal hulle in staat stel om ʼn effektiewe vergelyking te tref tussen hul inkomste en hul spanderingsgedrag. Dit is egter belangrik om te besef dat ʼn begroting oor baie méér gaan as om bloot beplanning op papier of ʼn sigblad te doen. Hierdie beplanning moet in aksie oorgaan alvorens dit effektief kan wees.

Die volgende praktiese riglyne kan help om die begrotingsproses te vergemaklik:

  • Wees realisties wanneer jy jou begroting opstel

Dit is uiters sinvol om jou spanderingspatroon van die voorafgaande paar maande as ʼn riglyn te gebruik. Onthou ook om deeglik te besin oor wat die volgende weke, maande en jare in die vooruitsig stel.

  • Hou die begrotingsproses eenvoudig

Daar bestaan verskeie handige toepassings (apps) wat jy kan gebruik om die begrotingsproses vir jouself te vergemaklik. As die beplanning van ʼn begroting egter té kompleks word en te veel tyd in beslag neem, kan die gevaar bestaan dat die implementering en monitering daarvan ook ʼn uitdaging gaan wees.

  • Jou salarisbedrag is die basis van jou kontantvloei

Dit beteken dat die salarisbedrag wat maandeliks in jou bankrekening inbetaal word, die maksimum hoeveelheid geld verteenwoordig waaraan spandering toegeken kan word.

  • Spandering kan in verskillende kategorieë ingedeel word

Hierdie kategorieë sluit in:

  • Noodsaaklikhede (behuising, vervoer, kruideniersware, mediesefondsbydraes, lewensversekering, die afbetaling van skuld, voorsienning vir jou aftrede en bydraes tot die kerk).
  • Belangrikhede (klerasie, en persoonlike versorging).
  • Noodfonds (fondse wat apart gehou word vir gebruik in ʼn noodsituasie).
  • Spaarfonds (fondse wat gespaar word vir groot gebeurlikhede soos die aankoop van ʼn nuwe voertuig, ʼn troue, of vakansies).
  • Ontspanning (die oorblywende fondse kan aangewend word vir uiteet, fliek en ander sogenaamde bederfies).

Dit is belangrik om hierdie kategorieë deeglik van mekaar te onderskei. Onthou, dit is deesdae moontlik om aparte spaarrekeninge, as deel van jou gewone bankrekening, teen bekostigbare diensfooie op te stel. Gebruik hierdie geleentheid om fondse gestruktureerd en strategies weg te bêre.

  • Begin vroeër eerder as later met die beplanning vir jou aftrede

Die goue reël is hoe vroeër jy voorsiening maak vir jou aftrede, hoe meer fondse sal tot jou beskikking wees tydens aftrede. Die geneigdheid is om jou lewensstyl te belyn met jou inkomste en wanneer jy dus reeds van die begin af voorsiening maak vir jou aftrede is jy in ʼn beter posisie om ingeligte besluite oor jou oorblywende inkomste te neem. As dit kom by bydraes tot uittree-annuïteitsfondse is dit belangrik om te weet dat jy op die kort- en langtermyn voordele geniet. Op die kort termyn sluit dit ʼn belastingvoordeel in die vorm van belastingverligting in, terwyl jy oor die lang termyn voorsiening vir jou aftrede tref. Die beste praktyk is om met diesulke waardetoegevoegde bydraes te begin sodra jy jou eerste salaris begin verdien.

  • Let op jou gebruikmaking van skuld

Hoe swaar leuen jy op skuld in die vorm van kredietkaarte, oortrokke bankrekeningfasiliteit, klererekeninge en ander vorme van skuld. Hierdie skuld is gewoonlik duur en gaan gepaard met hoë rentekoerse.

Die terugbetaling van skuld is ʼn noodsaaklike uitgawe en daar moet ten alle tye gepoog word om skuld so vinnig as moontlik af te betaal. Om die versoeking te vermy, sny die kaart op sodra die skuld afbetaal is. Alhoewel die finansiering van ʼn voertuig waarskynlik noodsaaklik is, kan hierdie skuldlas beperk word deur dalk ʼn goedkoper voertuig te kies wat aan jou behoefte sal voldoen. Dit is ook moontlik ʼn goeie belegging om ʼn eiendom te finansier in plaas van te huur, indien die paaiemente bekostigbaar is met inagname van onverwagse toekomstige rentekoersverhogings.

Ter afsluiting, die voormalige Harvard-regsgeleerde, prof. Elizabeth Warren, het bekendheid verwerf vir die ontwikkeling van ʼn praktiese spaarplan. Volgens hierdie plan behoort spandering soos volg gekategoriseer word: 50% vir noodsaaklike behoeftes, 30% vir begeertes en 20% vir besparing. Hierdie is ʼn baie handige riglyn, maar moet sinvol vir jou eie begroting aangepas word, indien nodig.

Dit is belangrik om eerlik en moontlik ʼn bietjie strenger met jouself te wees as dit kom by die saamstel en implementering van ʼn begroting. Jy sal jouself ewig dankbaar wees as jy dié proses met selfdissipline en toewyding aanpak.

Klik hier om gebruik te maak van Akademia se begrotingstemplaat.

Nikki Kennedy, dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, meen individue moet erns maak met hul finansiële gesondheid en die begrotingsproses met durf en toewyding aanpas.