Só vier ek Internasionale Moedertaaldag – Akademia-taalkundige

Gepubliseer op: 21 Februarie 2025

Geskryf deur DJ Cloete, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe.

Ons vier vanjaar nie net die 25ste herdenking van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie nie, maar óók die 100ste bestaansjaarviering van Afrikaans as ʼn amptelike taal. Hierdie grootse gebeurlikhede is voorwaar ʼn geleentheid om fees te vier terwyl ons besin oor die verlede en hoopvol beplan vir die toekoms van Afrikaans.

In Suid-Afrika is Afrikaans naas elf ander amptelike tale die derde grootste moedertaal in die land. Oor die afgelope eeu het Afrikaans met rasse skrede vooruitgang gemaak – as wetenskapstaal, as digterlike taal, as digitale taal, as omgangstaal. Dit is ʼn taal waarin soveel sprekers tuis voel met bykans agt miljoen Afrikaanse moedertaalsprekers.

Ek onthou met deernis die besoeke wat ek as kind afgelê het aan die dorpsbiblioteek saam met my ouma. Vakansietyd was gevul met lekkerlees-leesstof. Die boeke wat ek gelees het, het my weggeneem na ander wêrelde – soos ʼn goeie verhaal altyd doen – en in ʼn kort tydjie het dit kompleet gevoel asof ek ure in die biblioteek deurgebring het. Dit was telkens só moeilik om ʼn boek of drie te kies wat ek saam huis toe kon neem, want die keuse was net té groot en uiteenlopend.

Ek onthou ook nog die braaivleisvuur en stywepap (my oupa was ʼn gebore Vrystater) op Saterdae-aande net vóór die rugbywedstryd afgeskop het. Vasgenael voor die televisie, weerklink die kommentaar van elke speler se beweging én die gejuig van die skare deur my grootouers se woonstelletjie. Die skerp Afrikaanse beskrywings van die kommentator het die spel tot in die fynste besonderhede beskryf. As jy met jou oë toe daarna geluister het sou jy die spel voor jou oë kon sien afspeel. Elke drie, skepskop en systap.

Ek onthou my Afrikaansjuffrou wat op laerskool vir ons voorgelees het in die klaskamer. Haar liefde vir die taal was aansteeklik, en alhoewel sy die nodige dissipline moes handhaaf om die taalreëls by ons tuis te bring, het sy ook so af en toe haar Liewe Heksie-versameling nader getrek. Sy kon elke karakter se stem presies namaak – net soos ek dit onthou van die plate onder die naald van die draaitafel.

Ek onthou my Afrikaans Huistaal-mondeling in my matriekjaar. Die onderwerp niks anders as my moedertaal Afrikaans nie. In dié mondeling beklemtoon ek dat elke variëteit die stroompies is wat die taal voed. Teen hierdie tyd het ek reeds kennis gemaak met skrywers en digters soos Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Adam Small, Daleen Mathee en vele ander. Dit was vir my besonders hoe elkeen met hul eiesoortige manier met die taal omgaan – elkeen ʼn moedertaalstroompie wat uitloop in die ryke taalsee.

Ek onthou as jong student die verdieping wat ek beleef het van ʼn taal wat wortel geskiet het hier aan die suidpunt van Afrika. Waar ek kon kennis maak met die taal se tweestrydige verlede, maar ook saam kon droom oor die toekomsmoontlikhede. Hier het ek ook kennis gemaak met groot geeste in die wetenskaplike veld, en het daarna gestreef om ook só met die taal te kan woeker in my eie opstelle met die hoop om eendag op dieselfde wyse met die taal om te kan gaan.

Vandag besef ek die waarde van elke onthou – en is dankbaar. Dankbaar dat daar soveel Afrikaanse boeke op die boekrakke was in daardie dorpsbiblioteek, dat die rugbykommentator blitsbeelde kon skep in ʼn taal wat ek verstaan, dat daar soveel mooi stories is waarna ek kon luister. Ek is dankbaar dat ek met ander my denke én hart kan deel wanneer ek in my moedertaal praat, én dat ek kan skryf in die taal wat haarself so uniek daartoe leen om komplekse inhoud te kan omskryf.

As koördineerder: Akademiese taalvaardigheid by Akademia se Taalsentrum is ek opgewonde oor die instelling se roepingstaak om Afrikaans as akademiese, algemene én vreemde taal uit te bou – plaaslik en in die buiteland. Hierdie uitbouing geskied aan die hand van die bevordering van die akademiese taalvaardigheid van Akademia-studente (Fonties) tot op die hoogste vlak sodat hulle as moedertaalsprekers groot sukses in hul studie en toekomstige beroepe in die werksplek kan ervaar. Hiermee saam fokus die Taalsentrum daarop om Afrikaans as akademiese taal te bevorder deur aan Akademia-personeel ondersteuning te bied met navorsing en onderrig-en-leeraktiwiteite.

Mag elkeen hierdie jaar sy eie tuishoort in sy/haar moedertaal ontdek. As Afrikaanse moedertaalspreker sal ek aanhou om my onthou-oomblikke te deel ter viering van my taal. My moedertaal Afrikaans.

Vir DJ Cloete, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe ontketen Internasionale Moedertaaldag nie net ʼn gevoel van nostalgie en heimwee nie, maar ook ʼn opwindende toekomsvooruitsig.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.