Gepubliseer op: 24 Maart 2025
Geskryf deur Monique Alberts, dosent: Professionele Studies, en dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent: Opvoedkundestudies, beide verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Hoe sien die Suid-Afrikaanse hoëronderwysveld daarna uit ná meer as drie dekades binne ʼn demokratiese bedeling? Dié kritiese vraag was die fokuspunt van die onlangse Raad op Hoër Onderwys-konferensie wat aan die einde van Februarie 2025 in Johannesburg plaasgevind het. Die doel van die konferensie was om ʼn platform te skep vanwaar interdissiplinêre gesprekke en navorsingsgebaseerde aanbevelings gemaak kon word met die oog op die bevordering van volhoubare en gehalte hoëronderwys.
Aspekte waaroor daar in erns besin is, sluit onder meer in die indiensneembaarheid van afgestudeerde studente, die voorkoms van hoë uitvalsyfers, die dinamiese – maar veranderende aard van hoër onderwys asook die rol van digitale media en kunsmatige intelligensie (KI).
Met inaggenome van hierdie temas, het één belangrike insig telkemale na vore gekom: Vra ons die regte vrae? Gedagtig aan Akademia se leuse, Ad futurum per fontes (na die toekoms deur die bronne), is dit belangrik om nooit uit die oog te verloor dat vooruitgang nooit kan plaasvind as daar nie uit die lesse van die verlede geleer word nie. En méér nóg: as daar in die strewe na gehalte hoër onderwys die verkeerde vrae gevra word, sal die oplossings telkens te kort skiet. Om dié rede moet uitdagings in dié veld opgelos word deur aannames krities te bevraagteken en uit te daag, grondbeginsels te hersien en benaderings tot die onderrigproses voortdurend innoverend te herbedink.
Die vraagstuk oor indiensneembaarheid
ʼn Akademiese kwalifikasie alleen waarborg lank nie meer indiensneembaarheid nie. Tydens die konferensie is hierdie realiteit in diepte ondersoek. Daar is bevind dat studente dikwels met ʼn daadwerklike vaardigheidstekort gekonfronteer word, veral met betrekking tot die verwagtinge wat deur die arbeidsmark gestel word.
In die lig hiervan moet die fokus van hoëronderwysinstellings op méér as net teoretiese bevoegdheid val en praktykgebaseerde leer én -vaardigheidsontwikkeling geprioritiseer word. Hierdie prioritisering sluit onder meer in die kweek van kritiese denkprosesse, probleemoplossingsvaardighede, en veerkragtigheid as kernkomponente van enige kurrikulum, ongeag die studieveld. In dieselfde lig moet die vraag na samewerkende leermodelle, bedryfsvennootskappe en werksgeïntegreerde leerervarings vervul word. Indien die onderwysstelsel nie daarin slaag om studente met toepaslike en praktiese vaardighede toe te rus nie, loop hoër onderwys die risiko om nie net as irrelevant gebrandmerk te word nie, maar ook as ontoereikend.
Die krisis van hoë uitvalsyfers
Beskikbare statistiek toon aan dat binne die Suid-Afrikaanse hoëronderwysmilieu méér studente hul studies voortydig staak as dié wat dit suksesvol voltooi. Hierdie kommerwekkende tendens kan egter nie nét voor die deur van uitdagende ekonomiese faktore gelê word nie. Ander oorwegings wat ʼn rol speel sluit in psigososiale uitdagings, akademiese vervreemding en ʼn daadwerklike tekort aan institusionele ondersteuning.
Uit die verlede en by wyse van vorige onderwysbeleide is dit duidelik dat retensiestrategieë nie net holisties benader moet word nie, maar ook geïntegreerd van aard moet wees. Die vraag is dus daarom nie net hoe uitval voorkom kan word nie, maar eerder hoe ʼn leeromgewing geskep kan word wat studente motiveer om akademies te volhard.
Hoëronderwysinstellings behoort gevolglik buigsame leerpaaie, doelgerigte mentorskapsprogramme en uitgebreide geestesgesondheidsondersteuning daar te stel ten einde die onderliggende oorsake van akademiese uitputting doeltreffend te ondersoek.
Verandering binne die hoëronderwyskonteks
Wat behels die konsep van verandering, soos van toepassing in die plaaslike hoëronderwysveld? Dié konsep word dikwels sonder enige kritiese betragting gebruik, met die gevolg dat die bedoeling daarmee verlore raak. Konferensiegangers is uitgedaag om verandering in die lig van beleidsaangeleenthede en demografiese verskuiwings te definieer en só die impak daarvan op studente en die breë samelewing te verwoord. Die antwoord op dié begripsaanpassing is dat verandering ʼn multidimensionele benadering vereis, wat die volgende faktore insluit:
ʼn Wegdoening met die gedagte dat verandering ter wille van verandering nodig is.
Die rol van digitale media en KI
Die impak van digitale media en KI binne die kennisproses is groot, vir beide studente en opvoeders. Gevolglik moet daar nie net bloot gevra word na maniere waarop hierdie nuwe tegnologieë gebruik kan word nie, maar eerder hoe dit tradisionele praktyke kan verbeter.
Binne hierdie tegnologies gedrewe omgewing behoort etiese KI-gebruik en integrasie van kardinale belang te wees. Dié tegnologie moet die onderwysproses dien, en nie andersom nie.
Die Akademia et al.-kortkursus: Digitale media en kunsmatige intelligensie in die klaskamer, rus reeds ervare onderwysers, onderwysstudente en beginnerdosente toe met die vaardighede en strategieë wat benodig word om digitale media en KI doeltreffend in hul lesse te integreer. Dié aanlyn kortkursus vind op 3 Mei 2025 plaas.
Só sien die toekoms van hoër onderwys daarna uit:
die effektiewe bestuur van studenteverwagtinge.
Kenners is dit eens dat die speelveld van hoër onderwys teen 2036 drasties sal verander. Hierdie verandering sal aangevuur word deur hiperverpersoonliking, tegnologiese vooruitgang en uiteenlopende gemeenskaplike behoeftes. Ten einde toekomsfiks te wees sal die regte vrae indringend gevra moet word. Krities en sonder voorbehoud.
*Alberts en Le Hanie het die volgende referate tydens die konferensie gelewer:
Uncovering Hidden Insights: A meta-Study of Business Education Research in South Africa, 1997–2018. Dr. Chris-Mari Le Hanie
Through the Looking Glass: Enhancing Educators’ Digital and AI Competencies for Quality Teaching, Learning, and Assessment Practices. Monique Alberts en Dr Chris-Mari Le Hanie
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.