Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Selfies en sosiale media: Watter impak het dit op jou loopbaanvooruitsigte?

Gepubliseer op: 30 Junie 2024

Geskryf deur dr. Annerie Geyer en dr. Hélanie Jonker, dosente in Kommunikasiebestuur by Akademia.

Wêreldsosialemediadag word op 30 Junie gevier en op dié dag word daar veral gelet op die manier waarop sosiale media aangewend word. Tegnologie het nou al só ʼn groot deel van ons daaglikse lewens geword, dat die meeste van ons nie eens meer agterkom presies hoe vervleg ons persoonlike sosialemediagebruik met dié van ons werkswêreld is nie.

Onlangs het die selfies van Fabio Sedeman, ʼn deeltydse dosent by die Universiteit Stellenbosch (US), asook dié van Devan Cox, ʼn lid van die SAPD-blitspatrollie in Oos-Londen, groot reaksie op sosiale media uitgelok. Laasgenoemde was in die moeilikheid omdat hy foto’s van homself, geklee in sy polisie-uniform, op sy persoonlike sosialemediaplatforms geplaas het. Ná aanleiding hiervan, kan ʼn mens straks wonder wat die impak van selfies op jou toekomstige loopbaanvooruitsigte mag wees?

Voordat hierdie vraag beantwoord kan word, is dit eerstens belangrik om te verstaan wat ʼn selfie is, en hoekom dit so gewild is. ʼn Selfie is ʼn vinnige selfportret wat ʼn persoon neem deur selfoonkamerategnologie te gebruik en wat dan vinnig deur middel van verskeie sosialemediaplatforms versprei kan word. Dit is ʼn belangrike vorm van uitdrukking, veral onder die jonger generasies en sommige meen dat ʼn selfie vergelykbaar is met selfportrette wat bekende kunstenaars soos Van Gogh op ʼn gereelde basis geskep het. Die selfie is dus ʼn tipe kunsvorm met bepaalde kenmerke wat onder meer insluit: die persoon wat self die foto neem, ʼn gedeelte van hul arm of die gewraakte selfiestok, soms vreemd verdraaide horisonne en natuurlik die manipulasie (meestal subtiel) van gelaatstrekke vanweë die aard van die selfoonkamera.

Sommige meen weer dat dit kwalik gesien kan word as ʼn kunsvorm óf ʼn vorm van selfuitdrukking, maar eerder ʼn teken van selfbeheptheid en -gesentreerdheid is. Diesulkes meen die mensdom is veels te behep met hul eie beeld en daarom spandeer hulle soveel tyd daaraan om hulself in elke moontlike foto te verewig, eerder as om die oomblik vas te vang vanuit ʼn derde persoon se oogpunt. Dit is hierdie kritiek wat baie keer gelewer word wanneer bekendes (en onbekendes) in die strik betrap word van ʼn selfie (of ʼn reeks selfies) by die werk neem.

Dit is egter hierdie uitdrukking van kreatiwiteit óf selfgesentreerdheid wat al so deel is van ons kultuur dat dit nie geïgnoreer kan word nie, nie deur voornemende werknemers of besighede nie. Prakties gesproke het werknemers wel ʼn groot verantwoordelikheid om goed te besin voordat hulle selfies neem en plaas – veral in die werksplek.

Eerstens, moet werknemers bewus wees van die werkgewer se spesifieke regulasies en beleid oor sosialemediagebruik. Onthou ook dat internet- en e-poskommunikasie gemonitor en onderskep kan word volgens die elektroniese kommunikasiebeleid van die werkgewer. Die gedragskode van die maatskappy moet ten alle tye gerespekteer word en as die leidende reël beskou word.

Tweedens, moet jy onthou dat jy maatskappy-inligting altyd as vertroulik moet hanteer. Die maatskappy se naam of logo mag nie op privaat profiele gebruik word nie. Jy mag nie jou kollegas, bestuurders of inligting rakende die maatskappy op individuele sosialemediaplatforms bespreek nie.

Verder moet jy ook onthou dat voornemende werkgewers jou gaan Google. Dus gaan hulle jou album vol selfies en ander sosialemediaplasings onder oë kry. Onthou dat dit wat jy as ʼn lawwe universiteitstudent vasgevang het op jou Instagram-profiel nooit verdwyn nie en dalk word dit nie só goed ontvang deur jou huidige werkgewer nie. Dink dus voor jy neem en dink veral voor jy plaas!

Jy kan egter wel jou eie talente op ʼn kreatiewe manier op sosiale media met selfies ten toon stel sonder om jou werkgewer op welke wyse te na te kom. Dink byvoorbeeld aan die talentvolle fotograaf wat haar selfies op Instagram plaas en sodoende haar eie klein besigheid op dié manier bemark.

Selfies as kuns óf ʼn vertoonkas van narsissisme maak egter nie saak solank as wat die mensdom aanhou neem nie. Dit is eerder wat mense met daardie foto’s doen wat goed of sleg gaan verouder, en uiteindelik gaan bepaal of jou hoof van menslike hulpbronne jou gaan inroep vir ʼn dringende gesprek al dan nie.