Search
Close this search box.

Sakeplankompetisie 2024: Só lyk ’n wenpreneur

Gepubliseer op: 6 Augustus 2024

Akademia se gewilde BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie is in volle swang en deelnemende senior studente (vanaf tweedejaarsvlak) is hard besig om hul sakevernuf en -planne op die proef te stel.

Dié gewilde kompetisie word vanjaar vir die vierde keer deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied en betrek ook studente vanuit die instelling se sentrumnetwerk in Bloemfontein, Centurion, die Moot, George en Somerset-Wes. Alle inskrywings sal deur ʼn beoordelingspaneel geëvalueer word en die topdrie sal op 20 September aangekondig word. Die finale ronde, waartydens dié sakeplanne vir die paneel aangebied sal word, vind op 4 Oktober plaas.

Studente kan in twee kategorieë deelneem, naamlik ʼn sakeplan vir nuwe en bestaande besighede óf ʼn sakeplan spesifiek vir ʼn aanlyn winkel.

Volgens Monique Visser, programkoördineerder vir BCom (Ondernemingsbestuur) en die sameroeper van die kompetisie, verteenwoordig ʼn sakeplan ʼn belangrike eerste stap in enige entrepreneur se besigheidsreis. In die lig hiervan bied die kompetisie aan studente die geleentheid om binne ʼn veilige omgewing en met behulp van ervare mentors en kundige akademici, besigheidslui en beleggers hul sakedrome te verwesenlik. “Entrepreneurskap is ʼn noodsaaklike lewensaar vir die ekonomie, en as roepingsgedrewe entrepreneurs kan Fonties ʼn daadwerklike verskil in hul gemeenskappe bewerkstellig,” sê Visser.

Visser gaan voort deur te verduidelik dat die vestiging van entrepreneurskapsvaardighede noodsaaklik is vir studente om hulself doeltreffend toe te rus om die komplekse en dinamiese wêreld waarin hul hulself gaan bevind te navigeer. Die langtermynuiteinde van diesulke vaardigheidsoordrag is, volgens Visser, nie net die bevordering van selfonderhoudende besigheidspioniers nie, maar ook die bevordering van ʼn generasie van innoverende, bekwame en selfversekerde individue.

Maar hoe lyk ʼn suksesvolle sakeplan? Visser verduidelik dat ʼn wensakeplan ʼn entrepreneur se storie suksesvol oordra – dit sluit die entrepreneurs se passie, besigheidsoortuigings, waardetoevoeging én haalbare uitkomstes in. Goeie navorsing en realistiese finansiële projeksies verteenwoordig ook belangrike ononderhandelbare toevoegings tot enige sakeplan. Visser bied die volgende praktiese advies aan entrepreneurs as dit kom by die samestelling van dié plan:

  • Omskryf jou produk- of diensgedrewebesigheid so goed as wat jy moontlik kan. Op hierdie manier dien jou sakeplan as ’n padkaart vir jou besigheid met besliste aksieplanne en uitkomste.
  • Wees realisties. Jou sakeplan moet prakties uitvoerbaar wees, ʼn daadwerklike probleem of geleentheid aanpak en finansieel slim wees. As dit kom by finansiële aspekte, verduidelik waarom jou syfers werkbaar is en waak teen buitensporige vooruitskattings.
  • Gedetailleerde marknavorsing verteenwoordig die grondslag van enige sakeplan. Vermy statistieke en navorsing wat nie ʼn direkte invloed op jou besigheid het nie. Bly gefokus op dié aspekte wat tot jou besigheid spreek.
  • Wees bewus van enige potensiële risiko’s en hanteer dit in jou sakeplan.
  • Bly aanpasbaar. Onthou dat ʼn sakeplan ʼn lewende dokument is wat aangepas moet kan word soos wat jou besigheid groei en ontwikkel.

Tydens die bekendstelling van vanjaar se kompetisie het Joachim Lubbe, stigter en besturende direkteur van Termite Labs 3D Printing, ook sy ervaring as ʼn bewese entrepreneur met die studente gedeel. Vir Lubbe, wat ook op die kompetisie se beoordelingspaneel dien, is die volgende aspekte van kritiese belang as dit kom by die samestelling van ʼn sakeplan:

  • Wees duidelik oor watter bestaande probleem jou diens of produk sal kan oplos.
  • Neem die nodige tyd en ontwikkel ʼn prototipe wat jy saam met jou sakeplan kan voorlê. ’n Werkende prototipe sal jou kop en skouers bo jou eweknieë laat uitstaan.
  • Omskryf jou mark baie goed, asook hoe jy op hierdie marksegment besluit het.
  • Onthou om as deel van jou finansiële oorsig ook ʼn vooruitskatting te doen. Gewoonlik moet só ʼn vooruitskatting oor 24 maande gedoen word, of totdat jou besigheid gelyk breek. Daar moet voorts ook vir drie scenario’s voorsiening gemaak word: jou verwagte finansiële uitkomste, die beste moontlike uitkomste en ook die swakste moontlike uitkomste.
  • Jou sakeplan moet dit duidelik stel wat die belegger(s) se opbrengs op sy/haar belegging gaan wees. Neem in gedagte die hoeveelheid risiko wat die belegger moet aanneem, asook die mededinging vanuit ander beleggingsklasse.
  • Moenie die waarde van ʼn span onderskat nie. Wees verseker van jou eie vaardighede en sterkpunte. Onthou dat entrepreneuriese sukses ʼn kombinasie van innoverende idees, verkoopsjarme en ʼn charismatiese persoonlikheid is. Om dié rede is vennootskappe belangrik.

Akademia staan met trots sy plek vol as ʼn katalisator vir entrepreneurskap, en deur onderrig en opleiding, en inisiatiewe soos die Sakeplankompetisie, speel die instelling volgens Visser ʼn aktiewe rol om ʼn kultuur van entrepreneurskap aan te wakker. Die instelling is betrokke by verskeie entrepreneuriese inisiatiewe, waaronder:

Indien jy ook jou entrepreneursvernuf wil verbeter en as ʼn wenpreneur ʼn impak in jou gemeenskap wil maak, doen vandag nog aansoek vir studie in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program vir die 2025- akademiese jaar.

Monique Visser, programkoördineerder vir BCom (Ondernemingsbestuur) en die sameroeper van die kompetisie, meen ʼn effektiewe sakeplan is ʼn belangrike eerste stap in enige entrepreneur se besigheidsreis.