Gepubliseer op: 15 November 2024
Geskryf deur Landi Slatter, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia en ’n ervare vryskutjoernalis.
As ʼn deel van Rapport se redaksie in 2020, het ek die volgende Facebook-plasing ten tye van dié publikasie se 50ste verjaarsdagvieringe geplaas:
Sondae ná kerk het ons altyd ʼn vars brood, croissants of een of ander varsgebakte lekkerny gaan koop. Daarna het ons óf by Rooies naby Spar óf die bejaarde oom by die stopstraat gestop om ʼn Rapport te koop. Dié oom het altyd geskarrel vir kleingeld en dan sou my Pa altyd sê: “Nee, dit is reg, hou Oom maar.” Terug by die huis sou ons ʼn pot tee op die stoof aan die gang kry en dan die Rapport saam met ʼn koppie tee en ʼn broodjie wat geelblink van die gesmelte botter is, lees. Lékker. Vandag skryf ek al langer as twee jaar vir die Rooi-mashoof. Dis net só lekker soos destyds se geelblink brood. Geluk met 50 jaar, Rapport!
Ek glo nie my Rapport-storie is uniek nie. Dié lees-ritueel van ʼn Sondagkoerant, met een lid van die gesin wat eerste die Sport-afdeling en ʼn ander die Sakenuus gryp, is iets wat weekliks in derduisende Suid-Afrikaanse huishoudings afgespeel het. Gedagtig hieraan het ek ook ʼn Beeld-storie wat van my universiteitsdae kom: ek sou altyd baie seker maak dat ek genoeg geld op my studentekaart oor het om ʼn koppie koffie én ʼn Beeld te koop om in die lesingskokaal te lees.. Ook hierdie koerantherinnering is nie eie aan myself nie.
Die feit dat ons binnekort finaal moet sê: “Totsiens, Rapport!”, is ʼn bitter pil om te sluk. Dit is nou die weergawe van Rapport wat jy fisies in jou hande kan vashou. Dieselfde is óók waar vir Beeld, waarvan jy die blaaie voor jou kon oopsprei op die koffietafel. Dié koerante was vir dekades lank die wegspringplek van ontelbaar baie gesprekke in kantore en om die braaivleisvure oral oor die land.
Media24 het in Oktober vanjaar finaal aangekondig dat Rapport op 22 Desember 2024 vir die laaste keer in gedrukte formaat sal verskyn. Beeld, City Press en die Daily Sun se gedrukte weergawes word óók gestaak, terwyl die pdf-weergawes van Rapport, Beeld en die Volksblad gevolglik nie meer beskikbaar gestel gaan word nie.
Maar hoe sien hierdie nuwe digitale era daarna uit en lyk ’n tipiese digitale nuusverbruiker?
Eerstens. Die goeie nuus is dat hierdie publikasies se onderskeie redaksies – met van ons land se voorste joernaliste – bly net waar hulle is. Ten tweedens: Sondag bly steeds Rapport-dag, voortaan net in ʼn nuwe digitale gedaante.
Iemand vra my nou die dag waarom moet studente nog Joernalistiek studeer as “die media dood is”. Die media is nie dood nie, die lesers het net migreer. Gehore verkies toenemend om hulle nuus aanlyn te lees, en dit is redaksies wêreldwyd se werk om te leer hoe om hierdie gehore te ontmoet waar hulle nou tuis is. Hierdie ontmoeting moet geskied by wyse van nuwe inhoud en vars maniere om hierdie nuus op ’n boeiende manier aan te bied. Die behoefte aan hoë gehalte, interessante, billike én regverdige joernalistiek is groter as ooit.
Ek reken mense gaan steeds Sondag ná kerk Rapport lees, net op hulle fone of hulle skootrekenaars. Die inhoud verdwyn nie, dit is nou net op jou foon saam met die res van jou bestaan …
Digitale nuus bring soveel heerlike moontlikhede. Jy kan onmiddellik reageer op artikels, jy kan jou sê sê in die kommentaarveld van stories en nuus kan regstreeks vir jou gebring word. Méér nog, jy hoef nie net te lees oor die jongste scoops en skandale, nuus en sport nie, maar ook na video’s kyk en klankpakkies daaroor luister. Dink aan die tipe dekking wat ons vroeër vandeesmaand oor die Amerikaanse verkiesing gesien het – regstreekse verkiesingsuitslae met kenners wat gebeure ontleed soos dit gebeur. Foto- en video-aanbod van dwarsoor die wêreld, markontledings en regstreekse toesprake. Sondag kan jy benewens vir nuus met vars hoeke steeds staatmaak op meningstukke wat jou eie idees uitdaag.
Koerante weet al lank die wolf is by die deur, en werk agter die skerms kliphard aan ’n uitgebreide nuusaanbod. Hulle doen opwindende nuwe dinge met blitsdokkies, multimedia-onderhoude, podsendings en boeiende nuusvideo’s waarvan gehore nie genoeg kan kry nie. Die doodsklok vir gedrukte media het gelui, maar die tafel staan gereed en gedek vir ’n nuwe era.
By Akademia lei ons elke dag joernaliste op wat veerkragtig is en nie terugstaan vir uitdagings en aanpassings nie. Ons weet dat hierdie studente steeds ’n belangrike rol gaan speel in die joernalistiek. Al moes baie koerante in ons land reeds die knie buig, is joernalistiek allermins dood en nog net so belangrik – indien nie meer belangrik – soos altyd.
Eintlik is dit nie “Totsiens, Rapport (en kie)” nie, dit is “Jy lyk goed, het jy ’n nuwe baadjie gekry?”
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.