Gepubliseer op: 17 Julie 2025
Geskryf deur Sean Botha, dosent: Opvoedkundestudies, en Nadia Herbst, koördineerder: Werkgeïntegreerde leer, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Die afgelope nasionale kongres van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het opnuut die kollig geskyn op die dinamiese en uitdagende veld van onderwysleierskap. Laasgenoemde verteenwoordig ʼn omgewing waarbinne ʼn veelheid van aspekte vanaf komplekse menseverhoudinge tot ingewikkelde sisteme asook hoë mededinging die botoon voer.
En hoewel hierdie uitdagings (en geleenthede) nie ʼn onbekende verskynsel vir leiers voorhou nie, is dit belangrik om jouself, as onderwysleier, deeglik te vergewis van wêreldwye tendense en beste praktyke ten einde jouself toe te rus om plaaslik ʼn verskil te bewerkstellig. Hiermee saam is dit ook uiters belangrik om nie die geskiedenis, as ʼn belangrike leermeester, uit die oog te verloor nie.
Neem byvoorbeeld die historiese leier, Dwight D. Eisenhower – die 34ste president van die Verenigde State van Amerika, wat deur een van die konferensiesprekers as leierskapsvoorbeeld voorgehou is. As staatshoof en aanvoerder van sy land se geallieerde magte het hy groot aansien as leier geniet en kan hedendaagse leiers en voorlopers grootliks baat by sy strategiese aanslag en leierskapsvaardighede. Dit was veral sy vermoë om ʼn saak holisties te benader, die groter geheelbeeld te sien en diensbaarheid wat van hom ʼn noemenswaardige voorbeeld maak. Hiermee saam was hy óók bekend vir sy verbondenheid tot waardes en tradisies en ʼn grootse sin vir verantwoordelikheid.
Wees globaal bewus en maak plaaslik ʼn goeie indruk
Wanneer daar nagedink word aan skoolbestuur binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit waardevol en aanbevelingswaardig om ten alle tye die groter globale prentjie – hetsy polities, akademies of sosiaal, in gedagte te hou. Leierskap kan nie in isolasie bevorder word óf floreer nie.
Verskeie studies ondersteun dié siening en slaan ʼn duidelike verband tussen onderrigontwikkeling en -uitkomstes en byvoorbeeld aspekte soos ekonomiese groei. Gedagtig hieraan, kan en moet onderwyskundiges hulself voortdurend toerus met internasionale kennis en gestaafde beste praktyke om ingeligte keuses te maak wat plaaslik vir positiewe impak sal sorg. Deur met ʼn internasionale bewustheidsbril na plaaslike onderwyskwessies te kyk, kan óók help om wetgewing beter te kan interpreteer en te navigeer.
Neem byvoorbeeld die omstrede Wysigingswet op Basiese Onderwys – of BELA soos dit in die volksmond bekendstaan. Dié wetgewing wat daarop gemik is om onder meer taal- en bestuursbeleide in openbare skole te hervorm, verteenwoordig ʼn sensitiewe aangeleentheid waarop daar nog lank nie algehele konsensus oor bereik is nie. As onderwysleier kan jy van groot waarde wees deur jou skoolgemeenskap, toegerus met ʼn groter ingeligte geheelbeeld, deur hierdie uitdagende veranderingsproses lei. En, gedagtig aan die historiese leierskapslesse van onder meer Eisenhower, kan jy in dié proses boonop brûe bou op grond van ʼn verdieping in begrip en kennis. Die uiteinde hiervan sal ʼn verskerpte gemeenskapsverbondenheid tot gevolg hê waarbinne aspekte soos moedertaalonderwys steeds met die nodige omsigtigheid benader sal word.
Dienende leiers dink én doen anders
Die skrywer John C Maxwell som dienende leierskap op deur te sê dat aksies deur karakter voorafgegaan word en dat ware leierskap ʼn hartsaak is. Op eie bodem ondersteun die teoloog, Stephan Joubert, óók hierdie gewaarwording.
Wanneer dienende onderwysleiers die voortou neem en, soos Jesus in Lukas 16: 1-3 die opdrag gee om te volg, dan inspireer hulle aksie, meelewing en verbondenheid. Bó en behalwe hierdie goddelike diensopdrag openbaar diesulke leiers voorts die onderskeidingsvermoë om ander se potensiaal en sterkpunte op só ʼn wyse te inkorporeer dat dit tot gemeenskaplike waarde en groei bydra. Hierdie vermoë word in die boek: Leading in a VUCA world – Integrating leadership, discerment and spirituality as ʼn uitsonderlike geloofsleierskapsgawe voorgehou.
In praktyk is ʼn dienende onderwysleier iemand wat ander, hetsy personeel óf leerders, inspireer om self óók die aflosstokkie van leierskap te aanvaar ten einde hoopvol die toekoms te betree. Een van die maniere waarop dit gedoen kan word, is deur betekenisvolle mentorskap.
Karakter eerder as charisma
Die klakkelose afdwing van reëls en regulasie gee selde, indien ooit, aanleiding tot ʼn positiewe leeromgewing. Die teenkant en gesonde alternatief hiervan lê opgesluit in waardegedrewe onderwys.
Op die keper beskou omvang dié benadering die idee dat in stede daarvan om byvoorbeeld leerders op ʼn daaglikse basis en op ʼn drakoniese manier aan die skoolreëls te herinner, hulle aangemoedig word om die skool se waardes uit te leef. Identifiseer drie of vier waardes en fokus daarop en jy sal verbaas wees oor die wyse waarop jou skoolgemeenskap hierop reageer. En die rede vir hierdie ommekeer? Die antwoord lê opgesluit in die skepping van waardetoevoegende tradisies.
Tradisies gee gestalte aan waardes, en sodra hierdie tradisies in die goeie, die ware en die skone gefundeer is, sal dit ewigheidswaarde aanneem. Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, vertel dat dié instelling verskeie tradisies aanhang wat nie net tot mooi en edele simboliek spreek nie, maar óók van diepe verbondenheid. Wanneer studente byvoorbeeld hul finale uitslae ontvang het elkeen die geleentheid om die kampusklok drie keer te lui. Op dié manier word nie nét die boodskap van uitnemendheid uitgedra nie, maar word die studente se meelewing ʼn viering van eensgesindheid en trots. Net só word die einste klok sewe keer gelui wanneer ʼn lid van dié gemeenskap tot afsterwe kom.
Binne die skoolmilieu kan soortgelyke tradisies ʼn lansie breek vir waardes soos respek en rentmeesterskap en sal die positiewe impak hiervan ook die bestuur van die skool ten goede beïnvloed deur karakter bó charisma te kweek.
Fokus op die groter prentjie
Een van Eisenhower se waardevolste leierskapslesse was om nie fokus van die groter prentjie te verloor nie. Vir onderwysleiers ontsluit hierdie benadering ʼn deeglike fokus op beplanning en bestuur. Die Eisenhower-matriks kan in hierdie opsig van groot nut wees vir skoolbestuurspanne onder meer algemene bestuur- of finansiële take betref.
Dié matriks bestaan uit vier kwadrante, naamlik:
Nie dringend of belangrik nie (onnodige take wat tydverkwisting tot gevolg kan hê).
Deur hierdie beplanning- en besluitnemingsproses te gebruik kan skoolleiers ingeligte besluite maak op grond van die groter geheel, en só nie in die onderliggende detail verstrengel raak nie.
Ná afloop van die leierskapskongres is dit belangrik om met hernieude fokus en doelgerigtheid na onderwysleierskap te kyk. Die oproep is duidelik: Begin vandag nóg daar waar jy jouself bevind en diensbaar kan wees. Omarm jou skool se waardes, skep betekenisvolle tradisies, bou verhoudinge met ewigheidswaarde en neem besluite op ʼn strategiese manier.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.