Gepubliseer op: 19 November 2024
Geskryf deur Monique Alberts, ʼn dosent in Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Daar lê ʼn groot les vir Suid-Afrikaanse onderwys opgesluit in die bekende satiriese werk, Animal Farm, deur die Britse skrywer George Orwell. Hierdie les word verder baie duidelik verwoord deur nóg ʼn bekende Engelsman, Lord Acton, wanneer hy sê: “Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely”.
Terwyl ek myself onlangs by duisende ander lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe skaar tydens die Bela-protesaksie in Pretoria, weerklink bogenoemde woorde opnuut in my gedagtes. Die stelling dat absolute mag onherroeplik korrup maak vergestalt ʼn tydlose waarskuwing oor die gevare wat met onbeperkte mag gepaard gaan. Hierdie waarskuwing is besonder gepas wanneer daar na die voorgestelde wysigings in die Bela-wetsontwerp gelet word. Deur die regering ʼn selfs méér beslissende stem te gee oor belangrike aspekte van onderwys, soos taal- en toelatingsbeleide, kan hierdie wetgewing die plaaslike onderwysstelsel hervorm op maniere wat die stemme van gemeenskappe oraloor verdoof.
Orwell se klassieke fabel, wat reeds in 1945 geskryf is, handel oor die Russiese Rewolusie en die gevare van outoritêre beheer. In dié satire neem ʼn groep plaasdiere beheer oor hul onderdrukkende menslike eienaar en vestig hulle gevolglik hul eie regering met die ideaal om ʼn samelewing te skep waar álmal gelyk en vry is. Aanvanklik bring dié ommeswaai in leierskap vir ʼn kort tydperk wel voorspoed te weeg. Die varke leer byvoorbeeld hulself om te lees, en hul sin van doelgerigtheid en onafhanklikheid blyk belowend.
Maar helaas. Soos die mag in die hande van een enkele leier, Napoleon die vark, al hoe meer gekonsentreerd raak, begin die dinamiek op die plaas verander. Die varke monopoliseer beheer en begin om stelselmatig beginsels te herdefinieer om hul eie belange te dien. Onderwys, wat in die begin gebruik is om die diere beter toe te rus, verander mettertyd in ʼn instrument van manipulasie. Dié in beheer gebruik onderwys om die reëls, en daarom ook die geskiedenis, goedsmoeds te verander om hul eie narratief te ondersteun en só word die rigtinggewende ideale – om te verenig en te versterk – net nóg ʼn fasade. Korrupsie, sensuur en magsbeheptheid neem gevolglik met rasse skrede toe.
Dié fabel herinner ons hoe maklik waardes kan wegkwyn as dit nie gekoester word nie, terwyl die onderwys eintlik ʼn kritieke rol in die samelewing moet speel, veral in die handhawing van vryheid en gelykheid. Gevolglik is die ooreenkomste met die huidige kwessies en verwikkelinge wat die plaaslike onderwyssektor betref diep onstellend.
Die Bela-wetsontwerp, onder die dekmantel van vooruitgang en verbetering, kan lei tot ʼn soortgelyke konsentrasie van mag in die hande van provinsiale onderwysowerhede. Die nadraai hiervan is dat besluite oor taal- en toelatingsbeleide dan nie meer die eiesoortige behoeftes van plaaslike gemeenskappe sal weerspieël nie. Onlangse statistieke, soos dié van die 2023-PIRLS-studie, wat kommerwekkende lae leesgeletterdheidsvlakke in Suid-Afrika aandui, beklemtoon juis die grootse behoefte aan opvoedkundige outonomie. Terselfdertyd spieël die statistiek die belangrikheid van ʼn taalbeleidsbenadering wat die veelheid van tale sal onderskraag ten einde geletterdheid, leer en identiteitsvorming te bevorder. Die sentralisering van hierdie besluitnemende mag sal sonder twyfel uiteindelik unieke gemeenskapsbehoeftes op die agtergrond plaas en die opvoedkundige potensiaal van leerders benadeel.
Méér nog, die waardes wat deur die Bela-wetsontwerp bevorder word, staan in ʼn skrille kontras met dié van Akademia as ʼn onafhanklike Afrikaanse hoëronderwysinstelling. Akademia beywer homself vir die vestiging en uitbouing van ʼn onderwyssektor wat gekenmerk word deur onderwyslui met ʼn sterk pioniersgees. Dit wil sê, opvoeders wat bydra tot die algehele vorming van leerders se denke én hart. Deur voortgesette rentmeesterskap poog diesulke onderwysers om die deugde van verantwoordbaarheid en respek in die sektor te vestig terwyl die vestiging van taal, identiteit en ʼn sin van gemeenskap gekweek word. Laasgenoemde behoort nie onder ʼn enkele gesag gesentraliseer te word nie.
Gedagtig aan die etos van Animal Farm, is dit duidelik waarom die handhawing van gebalanseerde mag, veral in onderwys, belangrik is. Wanneer plaaslike stemme soos dié van ouers, onderwysers en beheerliggame gehoor én gerespekteer word, vervul onderwys sy hoogste doel: om te bou, te inspireer en toekomsgedrewe toe te rus.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.