Search
Close this search box.

Deur die vergrotingslens van die mikroskoop – só word jong wetenskaplikes geprikkel

Gepubliseer op: 8 Oktober 2024

Die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia het in Augustus vanjaar sy eerste besending mikroskope in ontvangs geneem. Dié mikroskope, as belangrike wetenskapsonderwysinstrumente, sal voortaan gebruik word om studente-onderwysers in die Natuur- en Fisiesewetenskapsvelde vir die praktyk voor te berei. Volgens Moreen Coetzee, dosent verbonde aan die fakulteit en fisiesewetenskappe-onderwyskenner, speel die integrasie van tegnologie in die wetenskapsklaskamer ʼn toenemend belangrike rol in leerders se begeerte na kennis en die verkenning van die wetenskapswêreld.

“Die dae is lank reeds verby dat mikroskope as net nóg ʼn stuk laboratoriumtoerusting beskou moet word,” meen Coetzee. Sy voeg by dat mikroskopie vandag as ʼn belangrike onderrighulpmiddel gebruik word om konseptuele begripsvorming in wetenskap te stimuleer en aan te moedig.  Coetzee verduidelik dat ten einde wetenskaplike denke en -geletterdheid aan te moedig en komplekse konsepte tuis te bring onderwysers in die wetenskapsklas van eksperimente, praktiese demonstrasies, waarnemings en verduidelikings gebruik móét maak. Daar behoort in wese ʼn simbiotiese wisselwerking te wees tussen die leer van feite, wette, teorieë en die aanleer en ontwikkeling van praktiese vaardighede, om sodoende kennis in nuwe kontekste toe te pas.

Hierdie tegnieke beklemtoon en ontwikkel leerders se aktiewe betrokkenheid by die inhoud, stimuleer hul kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede wat onontbeerlike eienskappe is vir onderrig in die fisiese en natuurwetenskappe op welke graadvlak ook al.

“Dit is binne híérdie konteks dat dit belangrik is dat studente-onderwysers hulself reeds vanaf hul studie deeglik vergewis van nie net metodologiese vaardighede rakende eksperimente en waarnemings nie, maar dat hulle ook praktiese ervaring met laboratoriumtoerusting, soos mikroskope, sal opdoen,” sê Coetzee. Hierdie kombinasie van akademiese begronding en praktiese ervaring dra by tot holistiese onderwyserbevoegdheid en sal diesulke toekomstige onderwysers nie net effektief vir die klaskamer voorberei nie, maar hulself ook bevoeg om as kennis- en vaardigheidsambassadeurs na vore te tree.

“Die KABV-kurrikulum, wat binne die raamwerk van die konstruktivistiese benadering hersien is, bevorder aktiewe leerderdeelname en -betrokkenheid op ʼn baie gestruktueerde wyse. Binne hierdie raamwerk is daar ruimte vir onderwysers om ʼn meer omvattende fasiliterende rol in te neem met betrekking tot die oordrag van wetenskaplike kennis en vaardighede,” verduidelik Coetzee. Sy voeg by dat kurrikulumuitkomste dit benadruk dat leerders self eksperimente en wetenskapsaktiwiteite moet kan uitvoer en bemeester. Binne hierdie milieu word daar baie klem gelê op die toepassingsgebaseerde bevoegdhede van onderwysers in die wetenskapsklas. Laasgenoemde kan problematies wees omdat laboratoriumlesse dikwels in praktyk óf slegs teoreties van aard is, óf slegs via ʼn demonstrasiemetode aangebied word. Daar is ook gevalle waar hierdie lesse heeltemal agterweë bly vanweë onkunde of ʼn totale gebrek aan laboratoriuminfrastruktuur by skole.

“Bewese navorsing dui daarop dat leerders wat wetenskaplike onderwerpe en konsepte met behulp van wetenskapstoerusting, soos mikroskope, aanleer aansienlik meer sukses het in die vorming en bemeestering van konseptuele begrippe as dié daarsonder,” verduidelik Coetzee. Daarteenoor, is dit ook bevind dat onderwysers wat reeds in hul studiejare reeds genoegsame blootstelling gehad het aan laboratoriumpraktyke, en wat dit met selfvertroue in ʼn wetenskapklaskamer kan demonstreer, ʼn hoër vlak van nuuskierigheid en natuurlike motivering in hul leerders aanwakker.

Volgens Coetzee is dit hartseer dat die realiteit toon dat mikroskopie dikwels oor die hoof gesien word omdat dit as té moeilik en kompleks afgemaak word. Óf soos vroeër genoem slegs teoreties aangebied word omdat sommige skole nie oor die nodige toerusting beskik nie. Die gevolg hiervan, en die gepaardgaande uitdaging is dat sommige onderwysers gevolglik nie oor die nodige gebruikskennis beskik om mikroskopie suksesvol in die kurrikulum te integreer nie.

“Deeglike beplanning en voorbereiding word vereis wanneer wetenskapstoerusting, soos ʼn mikroskoop, as deel van ʼn praktiese eksperiment gebruik word,” sê Coetzee en voeg by dat ingeligte opvoedkundige keuses deurentyd gedurende hierdie proses gemaak moet word. Laasgenoemde verteenwoordig ʼn intensionele en bewese onderwyspraktyk en het ʼn direkte impak op die gehalte en betroubaarheid van die eksperiment of toepassing en sodoende ook op die vlak van onderrig wat plaasvind. Op die keper beskou, vra dié onderwyspraktyk na ʼn omgekeerde denkbenadering, ʼn vaardigheid wat wetenskapsonderwysers moet aanleer.

Ter verduideliking hiervan sê Coetzee dat die mikroskopiese wêreld, soos deur die lens van die mikroskoop waargeneem word, direk verbind is tot die leerder se begrip van groter wetenskaplike konsepte. Hierdie verbintenis speel ʼn kritieke rol in prestasie én konseptuele begripsvorming. Sekondêr tot hierdie uitkomste word praktiese vaardighede ontwikkel, probleemoplossingsvaardighede aangekweek en die leerder se belangstelling in wetenskap as ʼn toekomstige loopbaankeuse aangewakker.

In die klaskamer bied die bestudering en vergelyking van byvoorbeeld plantselstrukture teenoor dié van dierselle onder die lens van die mikroskoop nie net ʼn visuele praktiese ervaring nie, maar breek dit voorts abstrakte wetenskaplike konsepte vir leerders oop wat begrip versterk. Terselfdertyd raak die leerders vertroud met die gebruik van ʼn mikroskoop deur hulself te vergewis van die verskillende funksies, soos fokus, vergroting, die versameling van monsters en die voorbereiding van plaatjies. Sagte vaardighede wat hierdeur verder ontwikkel word sluit onder meer in geduld,  noukeurigheid en samewerkende leer.

“As jy daaroor nadink, skep mikroskopie ʼn natuurlike skakel tussen verskillende vakdissiplines soos biologie, chemie, en selfs fisika,” meen Coetzee. Sy verduidelik dat hierdie integrasie van dissiplines bydra tot ʼn holistiese leerbenadering waartydens leerders konsepte oor vakgebiede heen kan verbind en toepas en só begrip en prestasie verbeter.

Mikroskope as onderrig- en leerinstrument verleen volgens Coetzee die nodige breedte en diepte aan leerders se akademiese vaardighede, en bevorder ʼn aktiewe en gemotiveerde houding teenoor leer, wat hul algehele prestasie in die wetenskapklaskamer verbeter. Om dié redes is mikroskope onontbeerlik as ʼn wetenskaponderwysinstrument in die wetenskapklaskamer.

“Om leerders op skool bloot te stel aan die wonder van klein mikroskopiese strukture wat die blote oog nie kan sien nie, vergroot hul waardering vir die ongelooflike kompleksiteit en harmonie van die natuurlike wêreld, wat hulle in staat stel om die goeie, die skone en die ware in die skepping te sien en te waardeer,” sluit Coetzee af.

Personeel van die Fakulteit Opvoedkunde het onlangs ontvangs geneem van die eerste besending mikroskope wat gebruik gaan word om studente-onderwysers vir wetenskapsleer voor te berei. Van links is dr. Maretha Steyn (departementshoof: Professionele Studies), Moreen Coetzee (Dosent: Professionele Studies) en Jhani Pottas (Dosent: Opvoedkundestudies).