Search
Close this search box.

Matrikulant: Benader jou Fisiese Wetenskapsvraestel só

Gepubliseer op: 15 Oktober 2024

Is jy ʼn matrikulant wat besig is om voor te berei vir die eksamen? Dié belangrike eksamentydperk begin op Maandag 21 Oktober 2024 met die skryf van die eerste Engels-vraestel, en loop ten einde op Donderdag 28 November met ʼn praktiese sessie vir Rekenaartoepassingstegnologie (RTT).

Die kuns van geïntegreerde leer en begripsvorming

Het jy geweet dat daar ʼn kuns daaraan verbonde is om ʼn eksamenvraestel te beantwoord? Moreen Coetzee, ʼn fisiesewetenskappe-onderwyskenner en dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat die suksesvolle beantwoording van ʼn vraestel oor baie méér as net die weergee van feite gaan.

“Hierdie kuns behels ʼn dinamiese – en ja, soms ook angswekkende –  wisselwerking tussen voorbereiding en aflegging. Dit behels die vermoë om nie net jou kennis effektief weer te gee nie, maar ook om dit in nuwe situasies en kontekste te kan integreer,” verduidelik Coetzee. Sy voeg by dat afrigting, met die doel om ʼn eksamen te voltooi, dikwels slegs op die blote memorisering en weergee van antwoorde vir spesifieke vraagsoorte fokus en dat dit geensins geïntegreerde leer bevorder nie. Vraagsoorte soos byvoorbeeld die weergee van definisies, die opnoem van teorieë en wette, asook die weergee van (wetenskaplike) feite waarborg nie noodwendig konsepsuele begripsvorming nie. Die gevaar bestaan gevolglik dat jy nie geleer word om soms hierdie komplekse en meer abstrakte konsepte met ander onderwerpe te verweef, of in nuwe kontekste toe te pas nie.

Geïntegreerde leer behels ʼn meer ondersoekende proses en sal jou in staat stel om raakvlakke tussen verskillende konsepte en selfs vakke te vind. Hierdie integrasie sal, volgens Coetzee, ʼn besliste impak op jou probleemoplossingsvaardighede hê deur jou in staat te stel om uitdagende kontekste, soos wat byvoorbeeld in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe voorkom, kreatief en dieperliggend te kan analiseer. Laasgenoemde sal meebring dat jy nie voortdurend hoef te probeer om dié berekeninge of probleme uit jou kop te herroep nie, omdat jy met groter begrip sal kan antwoord.

Fisiese Wetenskappe: ʼn Kombinasie van kennis en praktiese vaardighede

Volgens Coetzee is die belangrikste oorweging waarvan jy moet kennis neem as dit by ʼn vak soos Fisiese Wetenskappe kom, dat dit ʼn kombinasie van beide akademiese kennis én praktiese vaardighede vereis.

“Dit is ʼn bewese feit dat indien jy oor die vermoë beskik om teoretiese kennis in praktiese situasies te gebruik, jy aan aktiewe leer deelneem en só jou potensiaal vir prestasie verhoog,” sê Coetzee. Sy verduidelik dat hierdie toepassingsvaardigheid angs in die eksamenlokaal verminder omdat jy nie bloot inligting soos ʼn papegaai hoef weer te gee nie, maar vrae met dieper en groter konsepsuele insig kan beantwoord.

Maar hoe word hierdie toepassingsvaardigheid aangekweek? Coetzee meen dat jy kennis progressief ontwikkel, met ander woorde deur voortdurende ervaring en waarnemings. Hierdie proses begin reeds in graad tien en bereik ʼn hoogtepunt in jou matriekjaar. Twee vakke wat baie goed met mekaar verbind kan woord, ook in jou voorbereiding vir die eksamen, is Fisiese Wetenskappe en Wiskunde.

Bou ʼn begripsbrug tussen Fisiese Wetenskappe en Wiskunde

Jy het seker al opgelet hoe wiskundige begrippe, veral in Algebra en Meetkunde, óók in Fisiese Wetenskappe ter sprake kom? Dink maar aan toepassings in beide chemie en fisika soos die manipulering van formules en die interpretering en analisering van resultate. Hierdie is ʼn goeie voorbeeld van die noue verband tussen dié twee velde.

Fisiese Wetenskappe bestaan nie in isolasie nie, en om daarom vir dié vak in isolasie voor te berei, word nie aanbeveel nie omdat dit jou sal verhoed om die groter (konsepsuele) prentjie te sien. Laasgenoemde verwys na die raaksien van patrone wat jou sal help om vir Fisiese Wetenskappe en Wiskunde voor te berei.

Neem die volgende voorbeeld as ʼn demonstrasie van hierdie integrasie:

Die eksamenvraag handel oor die onderwerp van kragte en vektore en lui soos volg: Drie kragte word toegepas op ʼn voorwerp soos aangetoon in die meegaande diagram. Bereken die resulterende krag wat op die voorwerp uitgeoefen word.

Om die vraag suksesvol te kan beantwoord sou jy tipies van Pythagoras se stelling gebruik moet maak. Hierna sal jy van trigonometriese funksies gebruik moet maak om die berekening te voltooi. Indien jy jou voorbereiding in isolasie gedoen het, sou jy nie die raakvlakke kon sien en só die berekening kon aanpak nie.

Nóg ʼn voorbeeld. In chemie word daar van jou verwag om van logaritmes gebruik te maak om die pH-waarde van ʼn sterk suur of ʼn basis te bereken. Dieselfde geld vir stoigiometriese berekeninge, waar daar van jou verwag word om deur middel van ʼn goeie begrip van wiskundige verhoudings die gepaardgaande berekeninge uit te voer.

Praktiese raad vir jou eksamenvoorbereiding

Coetzee deel graag die volgende praktiese advies vir jou voorbereiding in aanloop tot die Fisiese Wetenskappe-vraestel:

  • Leer om konsepsuele begripsvorming te vestig eerder as om jou vakinhoud soos ʼn papegaai te memoriseer.
  • Onthou dat Fisiese Wetenskappe ʼn kombinasie van teorie en praktiese toepassing is. Deur slegs die feite, teorieë of wette te memoriseer gaan jou nie help om dit in verskillende kontekste weer te gee nie. En laasgenoemde sal die fokus van die eksamen wees.
  • Werk op ʼn gereelde basis deur vrae oor ʼn bepaalde tema. Moenie net ou eksamenvraestelle ʼn week voor die eksamen deurwerk nie, want dan is jy besig met afrigting en die memorisering van die memorandum. Hierdie vrae kan die vorm van addisionele huiswerk aanneem, of die gebruik van verskillende handboeke en/of aanlyn bronne. Die idee is dat jy die berekeninge op soveel as moontlik scenario’s sal kan toepas.
  • Bou jou kennis progressief op deur byvoorbeeld met eenvoudiger konsepte en vrae te begin. Namate jou selfvertroue toeneem en jou begrip versterk, beweeg aan na meer komplekse idees. Onthou dat eksamenvrae dit ten doel het om jou op verskillende denkvlakke te toets – van vrae wat lae orde denke uitdaag, na meer komplekse vrae wat hoër orde denke vereis.
  • Analiseer komplekse vrae, veral wanneer dit integrasie met ander vakgebiede soos Wiskunde en Chemie insluit. Hierdie analise stimuleer jou probleemoplossingsvaardighede, kritiese en logiese denke, én sal jou help om die groter prentjie raak te sien.
  • Vestig ʼn gesonde roetine vir jouself. Effektiewe voorbereiding vir die eksamen gebeur nie die aand of die dag voor die tyd nie. Maak seker dat jy genoeg slaap, fisiese oefening inkry en gesond eet. Terselfdertyd moet jy besef dat voorbereiding ʼn daaglikse en herhalende proses is.

Akademia het onlangs die goeie nuus bekendgemaak dat hy die goeie matriekprestasie van vanjaar se matrikulante gaan beloon by wyse van akademiese merietebeurse. Hierdie merietebeurse sal op die instelling se 2025- akademiese jaar van toepassing wees. Aldus dié toekenningsglyskaal verteenwoordig Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Lewenswetenskappe Kategorie A-vakke, en word R8 000 per onderskeiding as merietebeurs toegeken. Klik hier vir die bepalings en voorwaardes.

Moreen Coetzee, ʼn fisiesewetenskappe-onderwyskenner endosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat die suksesvolle beantwoording van ʼn vraestel oor baie méér as net die weergee van feite gaan.

 

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.