Kredietwaardigheid is soos ʼn valskerm wat jy moet onderhou – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 26 Maart 2025

Kredietwaardigheid is soos ʼn valskerm. En alhoewel jy nié elke dag nodig het om uit ʼn vliegtuig te spring nie, is dit van kardinale belang dat dié stuk toerusting na behore funksioneer en in stand gehou word vir wanneer jy dit die nodigste het. Só gesels Thinus Nienaber, dosent: Ekonomie en Finansiële Wetenskappe, by Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Volgens Nienaber is die valskerm-metafoor veral van toepassing op kredietwaardigheid en die belangrikheid daarvan vir jong werkendes.

Maar wat is krediet, en waarom moet jong werkendes vroeg reeds daarvan kennis neem?

Nienaber verduidelik dat krediet die vermoë verteenwoordig om geld te leen vir dinge wat ʼn individu dadelik benodig, met die onderneming om hierdie geld – sowel as die gepaardgaande toepaslike rente, later terug te betaal. Hierdie vermoë gaan gepaard met ʼn gróót verantwoordelikheid en volgens Nienaber is dit belangrik om hierdie aanspreeklikheid ten volle te verstaan alvorens daar skuld aangegaan word.

Die kredietooreenkoms en afbetalingsproses

Gevolglik vereis finansiëlediensteinstellings wat krediet verleen dat ʼn formele afbetalingsooreenkoms gesluit word, wat dui op ʼn spesifieke bedrag ter sprake asook die ooreengekome hoeveelheid rente wat terugbetaalbaar is. Hierdie terugbetalings sal in vaste, gelyke paaiemente oor ʼn vasgestelde periode plaasvind. Voorbeelde van diesulke afbetalingskredietooreenkomste sluit onder meer persoonlike lenings, studielenings, motorlenings en huislenings in.

Alvorens krediet goedgekeur word, behoort jy as aansoeker seker te maak dat jy oor ʼn goeie kredietrekord beskik om sodoende jouself in staat te stel om die skuld betyds terug te kan betaal. Tydens die aansoekproses sal die finansiëlediensteverskaffer jou kredietverslag en -telling noukeurig oorweeg. Nienaber verduidelik dat ʼn gesonde en gunstige kredietgeskiedenis sal verseker dat jou aansoek om krediet teen gunstige terme gevalueer sal word.

Die belangrikheid van ʼn gesonde kredietrekord

Nienaber meen ʼn positiewe kredietrekord is veral belangrik in die volgende gevalle:

  • Die goedkeuring, terme en rentekoers wat aan jou kredietkaart gekoppel is;
  • Keuring wat verband hou met die huur van ʼn eiendom;
  • Die aankoop van ʼn eiendom;
  • Motorfinansiering;
  • Korttermynversekering;
  • Werksaansoeke; en
  • Besigheidsfinansiering.

“Wanneer ʼn jong werkende byvoorbeeld hul eerste motor koop, kan dit lei tot ongunstige kredietterme, hoë deposito vereistes en beduidende hoë rentekoerse deur finansierders omdat jy dalk nóg nie ʼn sterk kredietrekord het nie,” verduidelik Nienaber. In die lig hiervan raai hy aan dat individue reeds tydens hul studie begin om aan ʼn gesonde kredietgeskiedenis te werk. In die geval van korttermynversekering vir byvoorbeeld ʼn nuwe motor of huisinhoud, sal ʼn goeie kredietgeskiedenis gunstiger tariewe verseker.

Nienaber verduidelik voorts dat Suid-Afrika ʼn mengsel van vier internasionale en nasionale kredietagentskappe gebruik, naamlik XDS (SA), Experion, TransUnion en Campuscan (SA). Hierbenewens maak kredietburo’s, finansiëlediensteverskaffers en banke dit voorts vir kliënte moontlik om hul kredietverslag – gewoonlik kosteloos, te bekom. Hy raai individue aan om van hierdie dienste gebruik te maak en só hulself deeglik van hul kredietstatus te vergewis.

Die volgende krediettellings dien as riglyn:

Krediettelling

Interpretasie

781 tot 850

Uitstekend

661 tot 780

Goed

610 tot 660

Redelik

500 tot 610

Swak

300 tot 499

Baie swak

Faktore wat ʼn rol in kredietwaardigheid speel

Volgens Nienaber is daar verskeie faktore wat in wisselwerking met mekaar ʼn individu se kredietwaardigheid kan beïnvloed. Hierdie faktore sluit onder meer in:

  • Betalingsgeskiedenis

Word ooreengekome betalings gereeld, betyds en volledig gemaak? Kredietverskaffers wil kan sien dat ʼn kliënt ʼn gereelde en betroubare betaler is.

  • Vlak van kredietgebruik

Lae vlakke van kredietgebruik, veral in terme van kredietkaarte, het ʼn positiewe effek op jou kredietprofiel. Vlakke rondom die 30%-kerf word in die algemeen as ʼn goeie gebruiksvlak bestempel. Die goue reël is hoe laer jou gebruikersvlak, hoe beter.

  • Duurte van kredietgeskiedenis

Hoe langer jou kredietgeskiedenis is, en hoe gesonder dié geskiedenis is, hoe meer verantwoordelik gaan jy met krediet om.

  • ʼn Mengsel van kredietprodukte

ʼn Goeie mengsel van kredietprodukte soos ʼn huislening, motorfinansiering, ʼn kredietkaart of twee wat ʼn oortrokke fasiliteit insluit dui daarop dat jy oor die vermoë beskik om krediet met verantwoordelikheid te bestuur.

  • Kredietaansoeke

Hoe meer kredietaansoeke jy doen, hoe groter word die impak daarvan op jou kredietrekord. Beperk dus die aantal aansoeke wat jy indien.

Bestuur en bou só jou kredietprofiel

Volgens Nienaber is dit belangrik dat jy jou kredietrekord beskerm, bestuur en doelgerig en sistematies ontwikkel. Hy bied die volgende advies in dié verband:

  • Leef binne jou perke en vermoëns deur ʼn begroting op te stel en jou finansies doelgerig te bestuur;
  • In terme van ʼn eerste kredietkaart, doen aansoek vir ʼn kaart met ʼn lae limiet by dieselfde bank as waar jou ander transaksionele rekeninge is;
  • Verhoog jou kredietlimiete jaarliks, gebaseer op die voorafgaande jaar se kredietrekord;
  • Dra jou selfoonkontrak so gou as moontlik oor op jou naam en bankbesonderhede, dit stel jou in staat om prakties jou kredietgeskiedenis op te bou;
  • Hou by ooreengekome betalingsooreenkomste. Laat betalings en veral die onsuksesvolle verhaling van debietorders beïnvloed jou kredietrekord nadelig;
  • Gebruik jou kredietkaart gereeld en los dan die uitstaande balans op die kaart maandeliks af. Die aktiewe gebruik van ʼn kredietkaart en die gedissiplineerde aflos daarvan vertoon gunstig op jou kredietprofiel;
  • Hou kredietrekeninge lank oop. ʼn Klererekening of kredietkaart wat vir baie jare ʼn geskiedenis het – al is die transaksies daarop beperk, ondersteun jou kredietprofiel.

Nóg ʼn praktiese brokkie advies is om as jong werkende ʼn eerste kredietaankope te maak. Volgens Nienaber ondervind baie jong mense ʼn uitdaging as dit kom by die verkryging van krediet juis vanweë die feit dat hulle nie ʼn kredietgeskiedenis het nie. “Doen aansoek vir ʼn klererekening met ʼn baie lae limiet soos byvoorbeeld R2 000. Gebruik dié krediet en los die paaiement vinnig af en bou só jou kredietgeskiedenis,” meen Nienaber.

“ʼn Goeie en gesonde kredietrekord is die resultaat van noukeurige beplanning en doelbewuste aksies. Maak seker dat jou kredietvalskerm in ʼn goeie toestand is, en gereed is vir die dag wanneer jy jouself in ʼn krisis bevind,” sê Nienaber. Hy sluit af deur jong werkendes aan te raai om met professionele finansiële beplanners in verbinding te tree vir hulp met finansiële beplanning en verwante besluitneming.

Thinus Nienaber, dosent: Ekonomie en Finansiële Wetenskappe, by Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, meen ʼn goeie en gesonde kredietrekord is die resultaat van noukeurige beplanning en doelbewuste aksies.