Gepubliseer op: 14 Maart 2025
Geskryf deur Mariana Strydom, ʼn dosent in Professionele Studies verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Internasionale Wiskundedag word op Vrydag 14 Maart gevier en tydens dié geleentheid besin ons opnuut oor die invloed wat wiskunde op ons alledaagse bestaan uitoefen. Méér nog, daar word ook met erns gelet na vorming van jong gedagtes aan die hand van wiskundige vaardighede. As ouers kan ons van baba- en kleuterdae af ʼn voorliefde vir wiskunde by ons kinders kweek en só bydra tot die ontwikkeling van kritiese denke wat hulle in staat sal stel om met selfvertroue die lewe te kan navigeer.
Een van die sleutelareas waarop die belang van Internasionale Wiskundedag geskoei is, is die belangrikheid van effektiewe Wiskunde-onderrig. Jaarliks, op 14 Maart, word gemeenskappe van dwarsoor die wêreld aangemoedig om aktief deel te neem aan aktiwiteite wat met dié dag gepaard gaan. Op hierdie manier word bewustheid geskep én erkenning gegee aan die denkmeesters van gister, vandag én die toekoms.
Interessant genoeg herinner die datum van 14 Maart ons in wese aan wiskunde omdat dit ook as 3/14 aangedui kan word en daarom direk verband hou met die konstante Pi (π). Laasgenoemde verteenwoordig ʼn wiskundige konstante wat die verhouding tussen die omtrek en deursnee van ʼn sirkel verteenwoordig en ʼn benaderde waarde van 3,14159 het.
Wiskunde in aksie: Vaardighede vir jong denkers
Daar is verskeie belangrike vaardighede wat die boustene vorm vir die ontwikkeling van wiskundige denke by jong kinders. Dit is belangrik om daarop te let dat alhoewel die meeste mense glo dat dié ontwikkeling met telaktiwiteite begin, dit ʼn wanpersepsie is dat goeie getalkennis die uitsluitlike grondslag van wiskundige vaardighede vorm. In die lig hiervan is dit belangrik om verder te kyk as bloot getalle en telaktiwiteite en krities na te dink oor ander vaardighede waaronder: die herkenning van patrone en vorms, ruimtelike redenasie, kwantitatiewe redenasie en die verbale vermoë om dinge te beskryf.
Bogenoemde vaardighede kan op ʼn speelse wyse ontwikkel en aangewakker word en dien as ʼn wipmat vanwaar waardevolle voorbereiding vir die vaslegging van wiskundige konsepte en vaardighede kan plaasvind. Maar hoe gemaak as jy ʼn ouer met ʼn besige skedule is? Die goeie nuus is dat jy, ten spyte van ʼn uitdagende roetine, jou kleinding se begrip van wiskundige konsepte kan bevorder deur net jou fokus gedurende alledaagse aktiwiteite te verander. Hiermee ʼn paar praktiese wenke in dié verband:
Hierdie gesprekke kan enige tyd óf plek plaasvind: terwyl julle in die motor ry, inkopies doen, ete voorberei of met boublokkies speel. Speletjies op die klimraam is óók effektief en selfs ʼn eenvoudige aksie soos om met ʼn bal te speel kan ʼn waardevolle leergeleentheid wees. As jy eers gefokus op hierdie aktiwiteite let, sal jy verbaas wees oor hoeveel leersame oomblikke hierin opgesluit lê.
Vra jou kleinding om vorms en patrone te identifiseer deur vrae te vra soos: “Kyk, die verkeerslig se ligte is in ʼn sirkelvorm. Kan jy nog dinge in ʼn sirkelvorm sien?” “Die vrugte in die winkel is in rye gepak. Watter patrone sien jy nóg raak?” “Kom ons bou ʼn patroon met jou blokkies: rooi, blou, rooi, blou.” “Watter kleur kom volgende?”
Maak hierdie oefening deel van julle daaglikse gesprekke. “Is die boom langs of agter die huis?” “Sit die brood bo-op die rak en langs die vrugtebak, asseblief.” “Watter gebou is hoër, hierdie een of daardie een?” Deur kinders aan te moedig om hul omgewing op hierdie manier te beskryf, leer hulle belangrike konsepte soos proporsie, posisie en oriëntasie aan wat later onontbeerlik is in vakke soos Meetkunde.
Kwantitatiewe redenasie, oftewel die begrip van hoeveelhede en verhoudings, kan deur kreatiewe spel en vrae ontwikkel word. “Daar is meer lemoene as appels in die vrugtebak. Kan jy tel hoeveel daar van elk is?” “Kom ons pak vyf piesangs in die sak. Help my om dit reg af te tel.” “Hoeveel trappe het jy geklim om bo te kom?” Hierdie aktiwiteite leer kinders om getalle en hoeveelhede op ʼn praktiese manier te vergelyk en te verstaan.
Moedig jou kind aan om dinge in sy/haar leefwêreld in fyn besonderhede te beskryf. “Hoe lyk die appel?” “Hoe voel die sand onder jou voete?” “Wat sien jy as jy oor die see kyk?” Hierdie vrae help nie net met taalontwikkeling nie, maar leer kinders ook om patrone en eienskappe raak te sien – ʼn belangrike stap in die vestiging van kritiese denke.
Die waarde van “hoekom?”
Die eenvoudige hoekom-vraag is één van die kragtigste maniere om jou kind se denke te help stimuleer. Wanneer hulle vir jou iets vertel, vra hulle waarom hulle só dink. Dit help met redenasie, probleemoplossing en logiese denke. Selfs ʼn speelse gesprek oor hoe ʼn skaduwee verander as jy beweeg, of hoekom ʼn voorwerp anders lyk vanuit ʼn ander hoek, kan ʼn kind help om méér nuuskierig én analities oor hul wêreld te dink.
Die internet is volop praktiese raad en idees. In plaas daarvan om te soek vir “wiskundige speletjies”, soek eerder vir speletjies deur sleutelwoorde soos “herkenning van patrone en vorms”, “ruimtelike redenasie” en “kwantitatiewe redenasie” te gebruik.
Deur alledaagse aktiwiteite kan kinders op ʼn natuurlike en prettige manier patrone, vorms, posisie, hoeveelhede en beskrywings ontdek. Hulle leer sonder om dit te besef – en dit lê ʼn stewige grondslag vir wiskunde. Wanneer hulle uiteindelik skool toe gaan, sal wiskundige konsepte nie vreemd of intimiderend wees nie, maar eerder ʼn voortsetting wees van wat hulle reeds ervaar en verstaan. Hulle sal selfvertroue hê in hul wiskundige denke en nuwe uitdagings met nuuskierigheid en entoesiasme aanpak en só tot die besef kom dat wiskunde soveel meer as net formules behels. Op ʼn soortgelyke manier sal hulle weet dat dit dié vak voorts nie net ʼn kennis van getalle is nie, maar ʼn manier om die wêreld rondom hulle te verstaan.
Terwyl ons Internasionale Wiskundedag vier, laat ons saamwerk om jong kinders se liefde vir wiskundige denke te koester, sodat hulle eendag die wêreld se wonders deur wiskunde kan ontdek.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.