Kan Covid-19 ons laat herbesin oor die waarde van ons leefruimtes?

Geskryf deur professor Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.

Die aarde bied aan ons ʼn lewensruimte waarbinne ekosisteme kan oorleef. ʼn Ekosisteem bestaan uit gemeenskappe van lewende organismes wat interaktief saamleef binne ʼn bepaalde gebied. Die oorlewing van ekosisteme hang van omgewingsfaktore af, soos byvoorbeeld die klimaat, die beskikbaarheid van anorganiese hulpbronne en die simbiotiese interaksie tussen organismes binne die ekosisteem.

Die mens bestaan ook binne die leefruimtes en orde van ekosisteme. In die Bybel (Genesis 1:28) word daar egter aan die mens ʼn spesifieke opdrag gegee, naamlik: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip”.

Uit hierdie Bybelvers is daar verskillende interpretasies vir die woord “heers”. In antroposentriese denkrigtings byvoorbeeld, wat ook byval vind by vlak-ekologie aanhangers, word “heers” geïnterpreteer as “domineer”. In vlak-ekologie word die bewaring van ʼn ekosisteem slegs van waarde geag as dit tot voordeel van die mens se belang kan dien. Die mens tree dus hier dominant en selfgesentreerd op. Daarenteen het die Noorweër Arne Naess in 1973 die grondslag gelê vir die begrip “diep-ekologie”, waar gepostuleer word dat alle lewende wesens op aarde van waarde geag moet word en dus die morele reg het om te lewe en te floreer.

In hierdie denkrigting word daar daarop aangedring dat ekosisteme beskerm moet word “teen die vernietiging van miljarde mense”. In diep-ekologie word die woord “heers” veral geïnterpreteer as “omvattende ekosisteemgeregtigheid en -beskerming”, terwyl daar daarteen gewaak moet word dat die mens se heerskappy verval in ekosisteemvernietiging. Daar word algemeen aanvaar dat die mens slegs volhoubaar kan voortbestaan indien die fundamentele skeppingsopdrag teenoor ekosisteme nagekom word – ʼn opdrag wat uitgevoer moet word deur ʼn diepe verantwoordelikheidsbesef, eerbied en ekologiese wysheid.

Op vele vlakke van die moderne samelewing, wat gedomineer word deur sporadiese nywerheidsrevolusies en snelle tegnologiese ontwikkeling, het die vlak-ekologiese benadering aantrekliker begin raak in die mens se denkpatrone en optredes. Menslike leefruimtes word dus op vele vlakke getransformeer na eksklusiewe tegnologiese gemaksones waar min of geen ag geslaan word op ons verantwoordelikheid teenoor die natuurlike orde nie. Binne hierdie raamwerk word die groter natuurlike orde toenemend beskou as ʼn risiko vir die mens se nuwe tegnologiese leefwyse, wat daartoe aanleiding gee dat natuurlike impakte op die mens vandag oor groot dele van die aarde deur gedistansieerde geregtigheidsaandrang teengestaan word. Simbolies kan die moderne mens se bestaan dus uitgebeeld word as ʼn pendulum wat wissel tussen selfgesentreerde dominasie en slagofferskap, met ʼn kleinerwordende begrip vir ons fundamentele verantwoordelikheid teenoor die lewende skepping.

Teen hierdie agtergrond het die menslike bevolking van 1,2 miljard mense in 1850 (met die aanbreek van die eerste nywerheidsrevolusie) tot vandag se 7,8 miljard mense toegeneem. Dit is ʼn astronomiese vermeerdering van 6,6 miljard mense oor ʼn skrale 170 jaar. Die Verenigde Nasies projekteer ʼn verdere bevolkingstoename van tot 9,7 miljard mense teen 2050, gevolg deur 10,9 miljard mense in 2100. Alhoewel ʼn afplatting in die bevolkingsgroei vir 2100 voorsien word, is die onsekerheidsgrense van hierdie projeksie ± 2 miljard – ʼn volle 4 miljard, of nagenoeg die helfte van vandag se bevolking. Daar bestaan dus geen twyfel dat die mens ʼn oorbevolking in die gesig staar nie, wat beteken dat die kapasiteit van natuurlike hulpbronne aan die mens oorskry sal word. Natuurlike hulpbronne word vandag reeds so oorbenut dat tradisionele ekosisteme óf totaal opgebreek is, óf tot afgesonderde natuurreservate afgeperk is.

Met die uitbreek van Covid-19 in 2020 het dit teen alle verwagtinge gebeur dat een van die kleinste lewende wesens op aarde, naamlik ʼn virus (as ʼn virus as lewend geklassifiseer kan word), die antroposentriese leefruimtes van die moderne mens tot stilstand geruk het. Hierdie ingryping, wat nog nie deur moderne tegnologie teengewerk kon word nie, het veroorsaak dat die mens, ter wille van oorlewing, in uiters beperkte leefruimtes (selfgeskepte reservate) afgesonder of ingeperk word. Verblywend is nie net dat hierdie inperking reeds aanleiding gegee het tot ʼn merkbare verbetering in die gehalte van die natuurlike leefruimtes wat agtergelaat is nie, maar ook dat daar tekens is van vernuwende ekosisteem transformasie in hierdie ruimtes.

Daar word algemeen aanvaar dat die samelewing soos wat ons dit tot nou toe geken het wesenlik gaan verander ná die Covid-19-ingryping. Kom ons hoop dat hierdie ingryping die mens uit ʼn antroposentriese gemaksone sal ruk, en dat ons weer bewus sal raak van ons fundamentele verantwoordelikheid teenoor ekosisteme en die lewende skepping. Hierdie omwenteling bied aan ons ʼn gulde geleentheid om te herbesin oor die waarde van toekomstige leefruimtes op aarde.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG