Akademia en die Christelike universiteitswese

(In die tyd van die koronavirus)

Geskryf deur professor Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia

Kwalik enige historikus sal met die stelling verskil dat die wortels van die moderne universiteitswese diep in die Christelike geloof en denke lê. Die universiteite soos wat ons dit ken het immers uit die Christelike kloosters van die Middeleeue gegroei.

Tegelyk is daar min waarnemers wat met die stelling sal verskil dat hedendaagse universiteite (ondanks uitsonderings) hulle rûe op hul eie Christelike grondslae gedraai het. Universiteite is vandag eerder sekulêr en “neutraal” as om in hulle Christelike grondslae geanker te wees; eerder polities gedrewe (“sosiale geregtigheid”) as om (soos wat universiteite oor eeue gedoen het) die waarheid, goedheid en skoonheid van die skepping na te jaag; eerder ekonomies as geestelik gemotiveerd; en eerder op die belange van die indiwiduele student gerig as om ʼn gemeenskaplike denktradisie uit te bou.

Trouens, talle universiteite word vandag selfs deur ʼn vyandskap jeens hul eertydse Christelike grondslae gekenmerk. ʼn Verbintenis tot die eie tradisie, voer hulle aan, beteken om onverdraagsaam jeens ander tradisies te wees. Sonder om veel daaroor na te dink verval hedendaagse universiteite so ironies genoeg in ʼn omgekeerde vorm van onverdraagsaamheid: Om die ander ter wille te wees, moet die stem van die eie liefs stilgemaak word.

Teen die agtergrond hiervan is die vraag wat dit beteken om ʼn Christelike universiteit te wees hoogs ter sake. In antwoord hierop fokus ons hieronder op slegs drie punte, te midde van talle ander eienskappe van so ʼn universiteit.

1

Die eerste en mees vanselfsprekende eienskap is dat dit in God geanker is. Vir ʼn Christelike universiteit is God haar vaste en betroubare vertrekpunt en fondasie. As sodanig verskil dit van hedendaagse sekulêre universiteite wat in hul poging om neutraal te wees met eertydse Christelike gronde wegdoen.

Daarmee stuit ons egter meteens voor ʼn belangrike vraag. Beteken die begronding van universiteite in God nie dat hul kritiese denke aan bande gelê word nie? Trouens, verg ʼn kritiese lewenshouding nie dat ons met alle vaste gronde sal wegdoen nie, word gevra.

In antwoord hierop kan boeke vol geskryf word. As ons onsself egter tot ʼn wesenlike kwessie kan beperk: Vir die Christelike universiteit hoef die geloof in God nie in spanning met die kritiese denke te staan nie. Inteendeel, God kan juis as die voorwaarde daarvoor beskou word. Waarom? Om hierop te antwoord, loop ons ʼn effense omweg.

Een van die belangrike eienskappe van die wetenskappe tydens die afgelope drie en meer eeue (eeue wat met die sogenaamde era van die moderniteit saamval) is om dikwels ʼn bepaalde deel van die werklikheid te verabsoluteer (selfs te vergoddelik) en tot die eintlike werklikheid uit te roep.

Met dele van die werklikheid verwys ons onder meer na dinge soos die materiële, die biologiese, die psigiese, die rasionele, die geestelike, en die politieke aspekte van die werklikheid. Dikwels neig die moderne wetenskappe daartoe om alles (die ganse werklikheid) tot een van dié dinge terug te herlei en dit met behulp daarvan te verklaar.

ʼn Goeie voorbeeld hiervan is René Descartes, die 17de-eeuse rasionalis. Descartes het die rasionele denke as die sleutel tot alles verstaan. In die proses het hy al die ander aspekte van die werklikheid verdring. In reaksie op Descartes se rasionalisme het die moderne denke nie noodwendig sy eensydigheid ontsnap nie. Inteendeel, dikwels het dit op hul beurt slegs ʼn ander aspek van die werklikheid tot die eintlike sleutel uitgeroep waarmee alles verklaar kan word.

So het verskeie denkers in die nalatenskap van Descartes gepoog om alles met behulp van die ekonomiese (die Marxisme), die biologiese (die neo-Darwinisme), die psigiese (Freud), of mag (Nietzsche en Foucault) te verklaar. As gevolg daarvan word die moderne mens dikwels met ʼn verwronge beeld op die werklikheid gelaat. Die werklikheid word immers nie net deur óf materiële óf biologiese óf psigiese aspekte gekenmerk nie. Einde ten laaste is die werklikheid telkens méér as wat uit dié reduksies blyk.

Presies op hierdie punt moet ons weer na God as grond van die denke verwys. Om te verhoed dat die denke enige deelaspek van die werklikheid verabsoluteer (en te keer dat die denke so skeefgetrek word), is God noodsaaklik. Waarom?

Volgens die Christelike geloof en denke is God nie ʼn ding te midde van ander dinge nie. God behoort nie tot die orde van materiële, biologiese, psigiese en ensovoortse dinge nie. God is selfs nie maar bloot die magtigste van enigeen van hierdie dinge nie. As onpeilbare werklikheid behoort God eerder tot ʼn radikaal ander orde as die orde van dinge. Alhoewel God, volgens Augustinus, juis daarom ook selfs meer intiem by die dinge betrokke is as wat ek aan myself aanwesig kan wees.

Vanuit hierdie diep Christelike insig kan God as die “groot Redder” van die denke beskou word. As ʼn werklikheid wat elke deelaspek radikaal oorstyg, herinner God die denke immers aan haar eie begrensdheid, haar eie voorlopigheid, haar eie nederige status in die geheel van dinge.

As ons dit in positiewer terme kan formuleer: as gevolg van die feit dat God as’t ware die denke van haar eie selfverheffing red, word die denke oopgestel vir die onpeilbare wonder wat die werklikheid is – en vir die oneindige reis, selfs avontuur, wat die denke moet aflê om slegs maar net ʼn skerf van dié wonder te begryp.

2

Vanuit die tradisie van Christelike denke leer ons dat die skeppingsgeheel deur drie belangrike eienskappe gekenmerk word: die waarheid, goedheid en skoonheid van die skepping. Oor eeue het die universiteitswese sigself as’t ware in diens van dié eienskappe verstaan. Buiten om studente so goed as moontlik in verskillende beroepe op te lei, het universiteite hul doel rondom genoemde eienskappe gedefinieer. Ten diepste het die universitêre denke daarna gestrewe om die ware, die goeie en die skone eie aan die skepping na te jaag.

Aan talle hedendaagse universiteite het die ware, die goeie en die skone ongelukkig in onguns verval. Ten grondslag van hierdie enigsins dramatiese gebeure lê die (hiper-, laat- of post-moderne) oortuiging dat daar nie so iets as waarheid, goedheid en skoonheid is nie. Alles is eerder relatief, blote konstruksie, gemaak, gefabriseer, gefingeer deur ons eie vaardigheid. Trouens, uiteindelik word alles deur toeval, vormloosheid en ʼn sinlose niks onderlê.

In spanning hiermee staan die hedendaagse Christelike universiteite. In aansluiting by die oeroue tradisie van die universiteitswese – en in afgrensing van talle hedendaagse universiteite – is hulle daartoe verbind om die denke op die goeie, die ware en die skone te rig. Ook so word die denke gered van die sinisme waarin dit vandag dreig om vas te val. Om die waarheid te sê, so word die denke as’t ware bo die vlam gehou wat dit oor eeue gemotiveer het om steeds lewendig, oop en dinamies te wees.

3

Laastens moet veral verwys word na die vraag waar die Christelike universiteit vandag tot haar reg kan kom. As ons kort daarop kan antwoord: Dwarsoor die Westerse wêreld word staatsuniversiteite steeds meer sekulêr, neutraal en afstandig jeens hul oeroue Christelike wortels. Niks dui daarop dat dit in die afsienbare toekoms anders sal wees nie.

Daarteenoor bevind die Christelike universiteitwese sigself (toenemend?) binne die private sfeer – en veral binne die konteks waarin gemeenskappe die ruimte daarvoor skep. Ook wat dit betref dui niks daarop dat dit in die afsienbare toekoms anders sal wees nie. Inteendeel, alles dui daarop dat die toekoms van die Christelike universiteitswese ʼn funksie van gemeenskappe se eie inisiatief binne die wêreld van die private sal wees. Akademia is reeds ʼn uitnemende voorbeeld van hierdie punt.

Kortom, dit is ons gemeenskaplike roeping (ook die roeping van Akademia) om ook in hierdie krisistyd te vra na die vaste grond van alles: God wat intiem by die werklikheid betrokke is en ten diepste die grond daarvan verteenwoordig.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG