Search
Close this search box.

Akademia-kenner reken daar is steeds hoop vir Afrikaanse joernalistiek

Gepubliseer op: 29 Julie 2024

Geskryf deur Yolandi Groenewald, ʼn dosent in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia

Die onlangse aankondiging deur Media24, wat aan die Suid-Afrikaanse mediareus Naspers behoort, dat hy beplan om die gedrukte weergawe van verskeie koerante waaronder Beeld en Rapport te sluit, het skokgolwe deur die land gestuur.

Honderde mediawerkers gaan afgelê word en selfs Die Burger, wat sy gedrukte weergawe gaan behou, gaan met minder joernaliste moet klaarkom. Al wat van Rapport gaan oorbly is klaarblyklik ʼn verwaterde digitale Sondaguitgawe. Die dae van lippe aflek vir Rapport se prikkelende en soms glorieryke Sondagvoorblad is vir goed verby.

Die realiteit wat Beeld en Rapport in die gesig staar is veral betreurenswaardig. Hoewel die sirkulasiesyfers daal, is albei publikasies steeds winsgewend – iets wat Media24 oënskynlik probeer wegpraat het in sy oorhaastigheid om digitale tendense na te jaag. Om hierdie koerante summier te sluit terwyl daar nog sóveel skop in hulle is, blus ʼn noodsaaklike bron van nuus én inligting vir die Afrikaanse gemeenskap.

Media24 eet ook maar langtand aan die idee om met die twee publikasies te smous. Volgens berigte is daar wel gesprekke tussen Media24 en ander mediagroepe, soos The Witness Group en Caxton, aan die gang oor die moontlike oorname van sommige van dié Afrikaanse titels, maar daar is in hierdie stadium nog geen duidelikheid hieroor nie. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, sê enige aanbod vir Beeld sal oorweeg word, onderhewig daaraan dat sowat dertig werknemers behou word. Davidson voeg by dat Media24 wel vir Caxton genooi het om ʼn aanbod vir Beeld te maak.

Hierdie verwikkelinge kom egter nadat Media24 lank vasgeskop het teen die idee om Beeld enigsins te verkoop en net summier die koerant wou sluit. Rapport is ook klaarblyklik glad nie te koop nie. Daar word ook in die gange gefluister dat Media24 vrees dat Beeld met sy lojale lesers onder nuwe eienaarskap die Netwerk24-aanbod kan oorskadu.

Die Media24-afleggings beteken ook dat daar nou nog minder joernaliste in Media24 se verskillende nuuskantore gaan wees; oorwerkte joernaliste gaan nou nóg meer met nóg minder moet doen.

Meer as 125 jaar gelede het die bekende Amerikaanse skrywer Mark Twain geskerts “die berigte oor my dood is hoogs oordrewe” nadat ʼn vroegtydige huldeblyk vir hom gepubliseer is. In die geval van die Afrikaanse koerante, was dit ʼn grafskrif op Moneyweb. ʼn Eerste reaksie was dat dit nie kan nie – nie mág nie. Dit is, myns insiens, heeltemal te vroeg om Afrikaanse koerante se begrafnis te reël. 

In die dae na die skokaankondiging het dit duidelik geword dat die grootbase van Naspers glad nie meer lus was om wat hulle as ʼn meulsteen om hul nek beskou verder te finansier nie. Volgens hulle was dit tyd vir ʼn genadedood, want Beeld en Rapport se winsmarges krimp net só ’n bietjie te veel na hulle sin. Al het hierdie koerante steeds lojale lesers wat elke oggend van Spar tot PNA en van die hoekkafee tot straatverkoper ry om hul nuus te kry. Al is dit nog ʼn ritueel in soveel huise om die Rapport bietjie vir bietjie te verteer met ʼn koppie koffie op ʼn Sondagoggend.

Terwyl die toekoms van joernalistiek dalk in ʼn mengsel van druk en digitaal lê, moet die rol van die koerant, wat ʼn gevoel van verbondenheid en konteks bied, nie onderskat word nie. Koerante het steeds waarde. Blaaie word fyn beplan en uitgelê om die belangrikste nuus, diepgaande ontleding en ʼn platform vir uiteenlopende standpunte te bied. Die voorblad en die emosie wat dit ontlok is ʼn kuns, elke kop en plasing spesiaal uitgekies vir die leser.

As ʼn mens egter kyk na die bloedbad waarin koerante se sirkulasiesyfers ontaard het, het selfs die mees lojale koerantman of -vrou lank reeds geweet dis net ʼn kwessie van tyd. Min het egter gedink dit sal in die jaar wees wat Beeld sy 50ste bestaansjaar vier.

Wêreldwyd ondergaan die bedryf ongetwyfeld ʼn revolusie en koerante se verkope bloei. Dit is egter nie die einde van die storie nie. Afrikaanse koerante mag miskien hulle laaste stuiptrekkings beleef, maar Afrikaanse joernalistiek is nog lank nie dood nie. Afrikaanse lesers is steeds honger vir gehaltejoernalistiek en daar is legio geleenthede in ons nuwe digitale wêreld.

Navorsing wys duidelik dat lesers oor die wêreld heen hulle toenemend tot digitale platforms wend vir hul daaglikse nuusdosis. Innoverende nuusorganisasies – ook in Suid-Afrika – ding reeds suksesvol mee in hierdie ruimte.

Ondersoekende joernalistiek deur byvoorbeeld amaBhungane en Daily Maverick se Scorpio floreer aanlyn. Daar is steeds ʼn honger na gehalte-, in diepte verslaggewing – en nuwe mediaplatforms is goed geplaas om dit te lewer. Naspers en Media24 mag egter nooit weer gesien word as die bewakers van gehalte- Afrikaanse joernalistiek nie, want ná die gebeure van die afgelope tyd is dit duidelik dat rand en sent daar koning kraai.

Media24 is nie Afrikaanse joernalistiek nie. Afrikaanse joernalistiek se beste belange word definitief nie meer op die hart gedra in die binnegange van Naspers nie. Dit is nou die tyd vir nuwe lewe met nuuswebwerwe en Afrikaanse media-entrepreneurs. Die sukses van Maroela Media en die rol wat ʼn Vrye Weekblad speel, wys die weg aan, al is joernalistiek nog op soek na die perfekte volhoubare model.

Hierdie nuwe wêreld het natuurlik ook sy uitdagings. Begrotings is kleiner en joernaliste moet meer doen in kleiner nuuskantore. Gespesialiseerde verslaggewers raak al hoe skaarser en die generaliste neem oor. Hoe dit ook al sy, in hierdie poel vind jy beslis steeds die hart en siel van joernalistiek – die ware nuushonde. Hierdie is die mense wat dag ná dag, week ná week met geloofwaardigheid en harde werk oor die belangrikste stories verslag doen. Van hierdie mense is dalk nou in die pad gesteek, maar hulle verteenwoordig juis die toekoms van Afrikaanse joernalistiek. 

Die Suid-Afrikaanse medialandskap verander onmiskenbaar, en dis juis hoekom ons nooit die kernfunksie van die joernalistiek moet vergeet nie: om in te lig, mense te betrek en mag tot verantwoording te roep. Dis belangrik om hierdie waardes steeds te omarm in hierdie nuwe wêreld, sodat die joernalistiek nie vervlak nie.

Alvorens Yolandi Groenewald as dosent by Akademia aangesluit het, was sy ʼn gesoute en bekroonde joernalis met twintig jaar se ervaring in die mediabedryf. Groenewald meen die veranderende medialandskap hou groot belofte in.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.