Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg
Die Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg is ʼn praktykgerigte program op NKR-vlak 5. Die doel van hierdie intreevlakkwalifikasie met spesialisering in arbeidsreg is om werknemers, werkgewers, vakbondamptenare, werkgewersorganisasie-amptenare en aspirantregslui toe te rus met ʼn sterk teoretiese basis en toepaslike analitiese en probleemoplossingsvaardighede. Hierdie kennis en vaardighede sal afgestudeerdes in staat stel om basiese arbeidsregprobleme in die werkplek te identifiseer en die tersaaklike beginsels na te vors en toe te pas ten einde praktiese oplossings te vind. Bo en behalwe algemene beginsels, beklemtoon hierdie program die betrokke prosedures binne die arbeidsregveld.
WAT KAN EK MET MY HOËR SERTIFIKAAT IN ARBEIDSREG DOEN
Hierdie program rus studente toe om ʼn bydrae te lewer in sektore wat basiese toepassing van arbeidswetgewing vereis. Studente wat die Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg suksesvol voltooi het, sal ook in staat wees om ʼn loopbaan as arbeidsregsadviseur in die kommersiële en openbare sektore na te streef. Daarbenewens het die sertifikaat dit ten doel om gegradueerdes die geleentheid te bied om verder te studeer en afgestudeerde studente kan gevolglik vir ʼn toepaslike baccalaureusgraad, onder andere ʼn LLB, aansoek doen.
WAT BEHELS DIE PROGRAM?
NKR-vlak 5
120 krediete
SAKO-nommer: 123789
ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel
KWALIFISEER EK OM ‘N HOËR SERTIFIKAAT IN KANTOORADMINISTRASIE TE STUDEER?
MODULES
Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om kerntaalbeginsels reg te verstaan en toe te pas, primêre en sekondêre regsbronne te lees en interpreteer, om argumente en teenargumente op logiese en omvattende manier te formuleer, geïntegreerde navorsing te doen, en effektief en duidelik in Afrikaans en Engels in die regskonteks te kommunikeer.
Hierdie module raak, onder andere, die volgende elemente aan:
Kerntaalbeginsels en -praktyk: Woordvorming; woordsoorte; tyd; grammatika; kontrasstrukture; redes en doelwitte; leestekens; lydende en bedrywende vorm; direkte en indirekte rede; en geslagsneutrale taalgebruik.
Lees en interpreteer van primêre en sekondêre regsbronne: Die Grondwet; wette en regulasies; hofuitsprake; partye tot ʼn saak; handboeke; stare decisis; vereenvoudiging van ingewikkelde taal; opsomming van sake; en parafrasering van wetgewing.
Formulering en argumentasie: Argumente; teenargumente; denkfoute; ingewikkelde sinne; probleemstellings; verwysing; navorsingsmetodes; geskikte bronne; onderwerpkeuse; en die reg en literatuur.
Kommunikasie en geïntegreerde vaardighede: E-posse; briewe; woordeboekgebruik; bondige taalgebruik; voltooide en onvoltooide sinne; vraagstelling; en die rig van versoeke.
Daarenteen is die doel van Inleiding tot die Reg om studente in staat te stel om ʼn begrip van die breër regskonteks, insluitende kernareas van die Suid-Afrikaanse reg en tersaaklike regsvaardighede, te vorm.
Hierdie module raak, onder andere, die volgende elemente aan:
Inleiding en geskiedenis van die reg: Wat is die reg; funksie van die reg in die samelewing; reg en sosiale norme; historiese funksie van die reg; regsgeskiedenis en regshistoriese raamwerke; Romeinse reg; Germaanse reg; kanonieke reg; reg in die Middeleeue; Europese bydraes tot regsontwikkeling; en historiese regsontwikkeling in Suid-Afrika.
Grondwet: Einde van apartheid; van ʼn tussentydse na ʼn finale Grondwet; transformerende konstitusionalisme en oorgangsgeregtigheid; doel van die reg; Handves van Regte; operasionele bepalings; en materiële bepalings.
Bronne en verdeling van die reg: Beskrywing van regsbronne; bronne van die Suid-Afrikaanse reg; internasionale wetgewing; nasionale reg; subdissiplines van die reg; integrasie van dissiplines; verskil tussen die afkondiging en inwerkingtreding van wetgewing; wetgewende proses op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak; hiërargie en status van wetgewing; wysiging en herroeping van wetgewing; en regsuitleg.
Prosesreg en alternatiewe geskilbeslegting: Onafhanklikheid en onpartydigheid as hoekstene van geregtigheid; terminologie en tipes verrigtinge; struktuur van die regbank; die presidentestelsel; alternatiewe geskilbeslegting; regsprosesse; inleiding tot die strafprosesreg; inleiding tot siviele prosesreg; inleiding tot die bewysreg; en appèl en hersiening.
Regsvaardighede en die regsberoep: Professionaliteit; regspraktisyns; voorsittende beamptes; hofamptenare en verwante amptenare; ander regsamptenare en funksionarisse; regsinstellings; navorsing van regsbeginsels (insluitend primêre en sekondêre bronne); regsanalise en toegepassing van beginsels; en logiese argumente.
Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om die basiese regsraamwerk en grondliggende regsbeginsels van arbeidsreg in Suid-Afrika te kontekstualiseer en te verduidelik, asook om aspekte van individuele arbeidsreg te begryp, te evalueer en korrek te implementeer.
Hierdie module raak, onder andere, die volgende elemente aan:
Arbeidsregtelike raamwerk en bronne: Regsraamwerk; gemeenregtelike beginsels; konstitusionele invloed; statutêre regulering; en bronne van arbeidsreg met besondere fokus op individuele arbeidsreg.
Individuele arbeidsreg: Partye tot die diensverhouding; verskil tussen onafhanklike kontrakteurs en werknemers; statutêre raamwerk wat Tydelike Indiensnemingsdienste (TES) reguleer; Goeie Praktykskode; wie kwalifiseer as ʼn werknemer; tipes indiensneming; beskerming van atipiese werknemers; basiese diensvoorwaardes; elemente van die diensverhouding; inhoud van die diensverhouding; geldigheid en beëindiging van die dienskontrak; minimum loonvereistes; statutêre salarisaftrekkings; dissiplinêre verhore; definisies, vorms en remedies met betrekking tot onbillike arbeidspraktyke en ontslag; diensbillikheid en diskriminasie; dissipline in die werkplek; en onvermoë in die werkplek en aflegging.
Griewe, berading en dissiplinêre verhore: Doel van grieweprosedures; formaat en prosedure van ʼn grief; verteenwoordiging en rolspelers; werkgewer se reg om dissipline af te dwing en om gedragstandaarde te bepaal; rol van dissipline in die werkplek; reëls en standaarde; beginsels van natuurlike geregtigheid; prosedurele billikheid in ʼn dissiplinêre verhoor; rol van substantiewe billikheid as deel van die proses; rol van progressiewe dissipline; oorwegings vir die bepaling van skuld in wangedragverrigtinge; proef; berading vir swak prestasie; oorwegings vir die bepaling van swak werkprestasie; lang- en korttermyn-onvermoë; oorwegings vir onbevoegdheid; en ongeskiktheid weens ander redes as swak gesondheid.
Seksuele teistering as ʼn voorbeeld van onbillike diskriminasie: Definisie van seksuele teistering; beskerming; seksuele teistering as ʼn vorm van onbillike diskriminasie; elemente van seksuele teistering; werkplekbeleide; werkgewer se verantwoordelikhede en aanspreeklikheid; en Kode van Goeie Praktyk.
Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om aspekte van kollektiewe arbeidsreg te begryp, te evalueer en korrek te implementeer om basiese kollektiewe arbeidsregprobleme op te los.
Hierdie module raak, onder andere, die volgende elemente aan:
Inleiding tot kollektiewe arbeidsreg en kollektiewe bedinging: Historiese agtergrond; regsraamwerk; doelgerigte interpretasie; vryheid van assosiasie; bedingingsagente; organisatoriese regte; betekenis van “werkplek”; bedingingsforums; kollektiewe bedingingsproses; kollektiewe ooreenkomste; vakbonde; bedingingsrade; en werkplekforumgeskilbeslegting.
Industriële aksie: Beskermde stakings en uitsluitings; onbeskermde stakings en onwettige uitsluitings; afdanking van stakers tydens beskermde en onbeskermde stakings; wettige en onwettige protesaksie; vervangingsarbeid; en regsmiddels.
Kollektiewe arbeidsreg en geskilbeslegting: Doel; prosesse; instellings; howe; Arbeidshof; Arbeidsappèlhof; “spoedige geskilbeslegting”; Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie; versoening; en arbitrasie.
ANDER INLIGTING
Die program kan in ʼn minimum tydsduur van een jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is drie jaar
Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat diploma- of hoër sertifikaat-studie spesifiseer met minstens 50% in die onderrigtaal van Akademia.
Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkostes.
Handboeklyste word ná suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.
DOEN NOU AANSOEK OM ‘N HOËR SERTIFIKAAT IN KANTOORADMINISTRASIE TE STUDEER