Search
Close this search box.

Groot Boeke-projek: Kerntekste lei Fonties na dieper begrip en vars perspektiewe

Gepubliseer op: 3 Desember 2024

Akademia het vanjaar met gróót sukses die Groot Boeke-projek van stapel gestuur. Hierdie projek, wat voortspruit uit die klassieke tradisie van die Vrye Kunste, is vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum gefasiliteer. Die doel van die projek, wat in 2025 voortgesit sal word, is om Fonties toe te rus met die nodige ideetoerusting om die komplekse uitdagings van die tyd met selfvertroue aan te durf.

Volgens Daan Goosen, spesialis: Vormingsideaal by Akademia, volg die instelling in die spore van talle ander van die wêreld se mees vooraanstaande universiteite wat sy verbintenis tot die lees van hierdie kerntekste vanuit die Westerse beskawingsliteratuur betref. “Deur van nader met hierdie tekste bemoeienis te maak word Fonties – wat ook die instelling se personeelkorps insluit – deel gemaak van die groter en eeueoue gesprek met die verlede. Hierdie kritiese gesprek behels baie méér as net ʼn blote nostalgiese oefening omdat dit deelnemers nie net in tradisie anker nie, maar hul ook blootstel aan die groter vrae oor die lewe,” verduidelik Goosen. Hy voeg by dat studente en personeel sodoende in staat gestel word om die hede én die toekoms op ʼn begronde manier aan te pak.

Op die keper beskou versterk dié projek Akademia se visie, naamlik om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms. Goosen beklemtoon hierdie waarheid deur te sê dat die lees van hierdie klassieke literatuur help toesien dat studente by wyse van ʼn uitgebreide verwysingsraamwerk, historiese kennis en kritiese denkvaardighede die toekoms met selfvertroue tegemoet kan gaan.

Die projek se aanvangsleeslys het gefokus op werke wat ʼn breë oorsig bied oor Akademia se kernwaardes as ʼn klassieke en Christelike instelling, en het ingesluit:

  • How the West won deur Rodney Stark (gelees deur die Akademia-personeel)
  • Mere Christianity deur C.S. Lewis (personeel en studente)
  • The Hobbit deur J.R.R. Tolkien (personeel en studente)

Goosen verduidelik dat die projek as aanvullende aanlyn modules en kortkursusse gedurende die 2024- akademiese jaar aangebied is, en daar deurentyd klem gelê is op lees- en taalvaardighede, interpretasievermoë sowel as morele vorming. “Hierdie werke dien as ʼn lewensgids waardeur die leser lesse oor sedes, dieperliggende begrip én vars perspektiewe ontdek wat groter is as individuele denkraamwerke. Hierdie fundamentele temas vanuit die Westerse kultuur help ons om ʼn beter begrip te kry van hoe die samelewing gevorm is, terwyl dit ons help om die probleme en kwessies wat ons in ons daaglikse lewens in die gesig staar, beter te verstaan,” meen Goosen. Hy voeg by dat hierdie benadering nie net waarde tot die studente se akademiese aktiwiteite gevoeg het nie, maar hul ook voorberei vir die dinamiese werkswêreld en hul roepingstaak in die gemeenskap.

Só gesels Fonties oor hul Groot Boeke-leeservaring

Nina Smuts, ʼn eerstejaarstudent in die LLB-program, meen almal behoort dié boeke minstens een keer in hul lewens te lees, omdat die lewenslesse wat daarin opgesluit lê waarlik insiggewend is.

Vir Carike Langner, ʼn tweedejaarstudent in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program, meen dat dié program aanvanklik vir haar na net nóg meer leeswerk gelyk het. Groot was haar verbasing egter toe sy nie die boek Mere Christianity kon neersit nie. “Die boek het in die begin vir my ʼn uitdaging voorgehou, maar hoe meer ek gelees het, hoe groter het my begrip geword en hoe meer het die inhoud vir my duidelik geword. Ek was verstom oor die teorieë in die boek en die manier waarop teenargumente aangevoer is,” sê Langner. Sy voeg by dat sy uitsien na die 2025-leeslys.

As ʼn eerstejaar BCom (Ondernemingsbestuur)-student meen Simoné Engelbrecht dat die Groot Boeke-program vir haar ʼn nuwe wêreld blootgelê het. “Ek was aan die begin bekommerd dat ek nie genoeg tyd sou hê om die leeswerk te doen nie, maar ná die eerste drie bladsye was ek oortuig dat hierdie beslis nie sommer net nóg ʼn boek is nie! As jy my vra, is Mere Christianity ʼn moet-lees boek, nie net om die lewe beter te verstaan nie, maar ook die Bybel en die Christelike geloof. Ek sal Akademia altyd dankbaar wees vir hierdie geleentheid!” sê Engelbrecht.

Ander groot denkers aan wie studente gedurende hul studies blootgestel gaan word, sluit in Van Wyk Louw, Homerus, Augustinus en Plato. Lees gerus ook dr. Ernst Roets, beleidshoof van die Solidariteit Beweging en ʼn genoot van die NP van Wyk Louw-sentrum se meningstuk: Die Groot Boeke leer ons van onsself.

By wyse van Akademia se Groot Boeke-program word Fonties se verwysingsraamwerk verbreed, historiese kennis uitgebou én kritiese denkvaardighede gevestig ten einde die toekoms met selfvertroue en ʼn vars perspektief te betree.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.