Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Die grondslag van die Christelike geloof

Gepubliseer op: 30 Mei 2024

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia

Akademia is in sy wese diep gesetel in sy bestaansrede as ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling. Gegewe hierdie baie spesifieke begronding word die instelling gereeld gekonfronteer met vrae oor wat sy Christelike aard behels en hoe hierdie identiteit in die praktyk uitgelééf word. In hierdie meningstuk poog ek om hierdie vrae te beantwoord.

Alhoewel hierdie vraag vanuit die eeu-oue Christelike tradisie beantwoord kan word, voel ek dit sinvol om eerstens op die betekenis van “Christelik” te fokus. Met Akademia se begronding in gedagte sou dié vraag op ʼn individuele vlak soos volg gestel word: Wat is die minimum vereiste of aantal geloofsekerhede waaroor ʼn persoon moet beskik om hom-/haarself as Christelik te klassifiseer? Nóg ʼn vraag kan wees: Wat is dit wat alle Christene oor eeue heen met mekaar verbind?

Vanuit die staanspoor klink hierdie vrae dalk vreemd. Dit is egter nie uniek tot die Christelike geloof en tradisie om juis antwoorde op diesulke vrae te bied nie. Islam, as ʼn wêreldgodsdiens, beskik byvoorbeeld ook oor sekere geloofsoortuigings waaraan iemand moet glo om in die eerste plek as ʼn Moslem geklassifiseer te kan word. Dieselfde met Judaïsme, Hindoeïsme, Boeddhisme en, waag ek dit byvoeg, Ateïsme en/of Sekularisme. Hierbenewens kan woke-isme, soos dit vandag daaruit sien, ook as ʼn vorm van godsdiens beskou word. Laasgenoemde verwys na die eie oortuigings wat volgelinge van dié beweging omhels.

In sy boek, Mere Christianity, vra CS Lewis pertinent wat die gemeensaamheidsaspekte is wat Christene – hetsy Rooms Katoliek, Anglikaans, Metodisties, Lutheraans of Gereformeerd, deur die eeue heen verenig. Hy gaan voort deur dit duidelik te stel dat dit nie sy bedoeling met die boek is om iets bloot te lê of uit te lê wat as sy godsdiens beskryf kan word nie. Lewis besig homself egter met die aard en wese van wat hy as “blote Christenskap” beskryf. Laasgenoemde konsep het reeds lank voor Lewis se geboorte vorm aangeneem en hy aanvaar dat daar oor die eeue heen sekere waarhede is wat Christene oor alle tye verenig, ongeag van denominasie.

Daar bestaan enkele skrifgedeeltes wat op ʼn implisiete wyse baie sterk by Lewis se uitgangspunt aansluit. Oorweeg vir ʼn oomblik Handelinge 11:26. Die skrifgedeelte verwys na Antiogië waar die dissipels vir die eerste keer Christene genoem word. Hierdie gedeelte handel oor Barnabas en Paulus wat beide vir ʼn jaar lank by die gemeente van Antiogië onderrig en geleer het. Op die mees eenvoudige manier moontlik sou mens kon sê dat ʼn Christen in hierdie konteks iemand is wat die leringe van die apostels omhels het, en in daardie omhelsing volgelinge van Jesus Christus geword het.

In Handelinge 6:7 kom ʼn mens ook af op die frase “die geloof”. Meer volledig staan daar dat baie priesters aan “die geloof” gehoorsaam geword het. In Judas 3 word hierdie frase ook gebruik. Dié keer word die gelowiges deur Judas aangemoedig “om te stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is”. Hierdie geloof word duidelik nie as ʼn persoonlike geloofsoortuiging deur Lukas en Judas verwoord nie. Hulle praat byvoorbeeld nie van “my geloof” of “julle geloof” nie, maar “die geloof”. Die bepaalde lidwoord voor die woord “geloof” stipuleer dat dit verwys na geloofswaarhede buite die self wat waar is of die self dit glo of nie.

Die geloof is uiteindelik ʼn samehangende liggaam van geloofsaansprake wat in die konteks van Handelinge 6:7 gehoorsaamheid daaraan vra, en in die konteks van Judas 3 voor gestry moet word en “eens en vir altyd” aan die heiliges van God toevertrou is.

In die lig van hierdie enkele opmerkings is die reguit antwoord op die vraag oor die geloofsaspekte wat alle Christene oor alle tye heen in gemeen het eenvoudig: dit is dié geloof soos wat dit deur die Christelike tradisie opgeteken is in dokumente en belydenisse. Dink maar aan die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Chalcedon, en die Geloofsbelydenis van Athanasius. Hierdie dokumente verteenwoordig die kerk se pogings om van vroeg af alreeds die geloof saam te vat en op te som. Dit was die kerk se pogings om blote Christenskap te verwoord. Méér nog, dit was die kerk se poging om te stry vir die geloof wat aan haar toevertrou is.

Akademia omhels daarom die geloof wat deur die eeue vir die Christelike tradisie as ʼn onuitputbare bron gedien het en opgesom is in die ekumeniese belydenisskrifte. Om dié rede neem Akademia die identiteit van ʼn klassieke en Christelike instelling aan.

Dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia, verduidelik dat die instelling die Christelike geloof as ʼn onuitputbare bron omhels en só sy Christelike begronding uitlééf.