Search
Close this search box.

Regsimposium by Akademia fokus op Geneeskundige Reg in die akademie en die praktyk

Gepubliseer op: 12 September 2024

Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid het op Dinsdag 10 September 2024 die soeklig op Geneeskundige Reg en die stand daarvan in die akademie en die Suid-Afrikaanse regspraktyk geskyn. Hierdie simposium, wat deur die departement Publiek- en Prosesreg op die Leriba-kampus in Centurion aangebied is, het ʼn uitgelese groep interdissiplinêre kundiges (mediese spesialiste en gespesialiseerde regslui), nasionaal en internasionaal, byeengebring om oor die dinamiese en noodsaaklike aard van dié spesialisregsveld te besin. 

Sprekers wat aan die simposium deelgeneem het, sluit in:

  • Ilze Grobbelaar-Du Plessis, medeprofessor in die Departement Publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (UP)
  • Annelize McKay (Nienaber), hoof van Abertay Universiteit se Regskool in Skotland
  • Ryan Blumenthal, senior spesialis- forensiese patoloog en medeprofessor in die Departement van Forensiese Geneeskunde aan UP
  • Advokaat Etienne Botha, lid van die Pretoria Vereniging van Advokate en die Algemene Balieraad
  • Alexander Politis, dosent in Regsgeleerdheid by Akademia
  • Chrislie Boers, dosent in Regsgeleerdheid by Akademia

Volgens dr. Willem Gravett, departementshoof van Publiek- en Prosesreg by Akademia, oefen Geneeskundige Reg ʼn direkte en verreikende invloed uit op die samelewing deur gesondheidsorgpraktyke te reguleer en pasiënte se regte te beskerm. Hy gaan voort deur te sê dat in ʼn land soos Suid-Afrika met sy uiteenlopende bevolking en unieke historiese uitdagings, die behoefte aan ʼn duidelike en regverdige regsraamwerk met spesifieke betrekking tot gesondheidsorg nou belangriker as ooit is.

“As Suid-Afrikaners word ons gekonfronteer met ʼn gesondheidsorglandskap, wat gekenmerk word deur ʼn komplekse kombinasie van openbare en private versorgingstelsels, ongelyke toegang tot gesondheidsorg, en ʼn voortdurende stryd om gehalte gesondheidsorgdienste te verseker,” verduidelik Gravett. Ter illustrasie hiervan noem hy dat volgens statistiek wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging daargestel word, daar slegs een mediese dokter vir elke 3 000 persone in die openbare gesondheidsektor is. Hierteenoor is die privaat sektor baie beter toegerus en gerat, maar slegs vir ʼn baie klein persentasie van die bevolking vir wie dit toeganklik is. Hierdie unieke situasie vereis ʼn regstelsel wat terselfdertyd beskermend én innoverend is om seker te maak dat alle Suid-Afrikaners toegang tot gehalte gesondheidsorg verkry. Een van die knelpunte wat ʼn radikale impak op die praktyk van Geneeskundige Reg het, is die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NGV).

Die NGV-knelpunt

Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is volgens Gravett een van die mees omstrede kwessies wat die toekoms van die plaaslike gesondheidsorgstelsel beïnvloed. Hy verduidelik dat terwyl die doel van die NGV is om universele gesondheidsorg daar te stel, daar kommer vanuit beide die mediese- en regsprofessies bestaan oor die praktiese uitvoerbaarheid daarvan. Die potensiële impak van die NGV op die gesondheidsektor is voorts nóg ʼn knelpunt wat aandag moet geniet. Laasgenoemde sluit in risiko’s soos die ineenstorting van die huidige openbare gesondheidsorgstelsel en die finansiële volhoubaarheid daarvan gegewe die wankelstand van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Volgens Gravett dui ʼn onlangse verslag deur die Raad op Finansiële Dienste dat die NGV die land soveel as R450 miljard per jaar kan kos, ʼn bedrag wat ver buite die huidige begrotingsbeperkings val. Vanuit ʼn regs- en etiese perspektief is daar egter ernstige vrae oor óf en hoé die NGV sal inskakel met bestaande wetgewing en die regte van beide gesondheidsorgverskaffers en pasiënte. “Daar moet ernstig besin word oor die implementering van hierdie stelsel en hoe dit regsaanspreeklikheid en gehalte van sorg kan beïnvloed. Die vraag moet ook gevra word of dit regverdig en billik is om só ʼn stelsel in ʼn land soos Suid-Afrika af te dwing,” meen Gravett.

Die kompleksiteit van moderne mediese tegnologieë

Benewens die NGV is daar, volgens Gravett, verskeie ander belangrike kwessies wat binne die Geneeskundige Regsmilieu aandag verg, soos onder meer die ontwikkeling van moderne mediese tegnologieë en die komplekse etiese uitdagings wat daarmee saam gaan. Hierdie tegnologieë sluit in kunsmatige intelligensie (KI), genetiese ingenieurswese, en nuwe diagnostiese tegnieke en vereis ʼn deurlopende herwaardering van regs- en etiese norme.

“Terwyl KI byvoorbeeld groot verbetering kan teweeg bring in die akkuraatheid en spoed van mediese diagnoses, vertroebel dit die duidelike grense van aanspreeklikheid. Op dieselfde manier moet daar anders gedink word oor die manier waarop hierdie tegnologieë gebruik word ten einde onregverdige diskriminasie teë te werk en privaatheid te beskerm.

Volgens Gravett verteenwoordig genetiese ingenieurswese en die toenemende voorkoms daarvan ʼn verdere uitdaging vir die Geneeskundige Reg. Hy verduidelik dat die beskerming van individue se genetiese inligting van kardinale belang is. “As regspraktisyns sal ons moet verseker dat ons regsraamwerk robuus genoeg sal wees om aan hierdie uitdaging te voldoen, terwyl dit steeds genoeg ruimte laat om die voordele wat genetiese ingenieurswese en navorsing bied te kan benut,” sê Gravett.

Ander fokuspunte wat tydens die simposium bespreek is, sluit in die forensiese landskap, deursigtigheid en billikheid, kruisondervraging van deskundige getuies in Geneeskundige Regsake, die hantering van taalhindernisse en die gebruik van tolke, die regte van mense met gestremdhede en die stand van huidige wetgewing, asook en die gebruik van kunsmatige intelligensie in gesondheidsorg en die Suid-Afrikaanse Reg in die era van CRISPR Cas9 genoomredigering. “Hierdie oorwegings is noodsaaklik vir die daarstelling van ʼn regsraamwerk wat nie net voldoen aan internasionale standaarde nie, maar wat effektief spreek tot Suid-Afrika se eiesoortige behoeftes en konteks,” meen Gravett.

Ter afsluiting sê Gravett dat die instelling opgewonde is oor die vooruitsig van ʼn toekomstige LLM-program in Geneeskundige Reg. ʼn Behoefte vir dié gespesialiseerde program is geïdentifiseer en die ontwikkelingsproses daarvan word deur dr. Alexander Politis, dosent in Privaat- en Handelsreg, en Chrislie Boers, dosent in Publiek- en Prosesreg, aangevoer. “Dit is die fakulteit se hoop dat dié simposium, ʼn eerste van sy soort, die grense van kennis en begrip in terme van Geneeskundige Reg sal help definieer en só ʼn daadwerklike bydrae lewer tot die voortgesette ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse regspraktyk,” sê Gravett.

Die simposium is deur ʼn uitgelese groep interdissiplinêre kundiges (mediese spesialiste en gespesialiseerde regslui), nasionaal en internasionaal, bygewoon.
Prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, het gaste verwelkom en die hoop uitgespreek dat die simposium ʼn daadwerklike bydrae sal lewer tot die voortgesette ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse regspraktyk.

Dr. Willem Gravett, departementshoof van Publiek- en Prosesreg by Akademia, meen Suid-Afrika benodig ʼn robuuste Geneeskundige Regsnetwerk wat nie net aan internasionale standaarde voldoen nie, maar wat effektief spreek tot die land se eiesoortige behoeftes.