GELOOFSBELEWENIS
As ʼn klassieke en Christelike hoëronderwysinstelling is Akademia ʼn universitêre ruimte wat in die Christelike geloof geanker is. Hierdie vertrekpunt word prakties uitgeleef deur liefde vir God en medemens, asook die hoop op ʼn beter lewe nou en tot in ewigheid. Beide deur voorskrif en voorbeeld wil Akademia, in lyn met die vormingsideaal, die wesenlike aspekte van die Christelike geloof aan sy studente akkuraat en getrou kommunikeer.
Akademia se visie is om ʼn akademiese tuiste te bied waar beide die denke en die hart van studente gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms. Geloofsvorming vanuit die waarheid, goedheid, en skoonheid van die Christelike geloof speel uiteraard ʼn groot rol in hierdie visie. Gegewe Akademia se verbinding tot die klassieke Christelike geloof is dit die instelling se voorneme om ʼn gesonde en gebalanseerde godsdienstige kultuur en geestelike lewe te kultiveer en te bewaar.
Hierdie geloofsbelewenis word onder andere gevoed deur Akademia se kapeldienste, Bybelstudiegeleenthede en oop gesprek-aande oor geloof.
Kapeldienste
Alhoewel Akademia nie die kerk is nie, en ook nie die kerk wil vervang nie, staan Akademia nietemin as ʼn klassieke Christelike instelling diensbaar tot die kerk. Die kapeldienste is gevolglik nie kerk nie, maar eerder die simboliese vergestalting waar die klassieke Christelike geloof in sy algemeenheid deur die universiteitsgemeenskap uitgedruk word. Dit is gevolglik vir Akademia ʼn integrale simboliese komponent van die Christelike universiteitservaring binne die akademiese lewe wat wys hoe integraal die Christelike geloof tot elke area van die lewe is, vanaf akademiese studie tot die vorming van vriendskappe. Hierdie dienste bestaan tipies uit samesang, aanbidding, en prediking, en Akademia verwelkom enige iemand by hierdie geleenthede.
Bybelstudiegeleenthede
Daar sal gereelde Bybelstudiegeleenthede vir die studente plaasvind onder leiding van teoloë en predikante. Hierdie geleenthede se inhoud word op een van twee maniere bepaal. Aan die een kant bestaan dit uit ʼn reeks waar studente oor die verloop van ʼn aantal weke deur ʼn bepaalde Bybelboek werk. Die fokus lê gevolglik by die lees, analisering en gesamentlike oordenking van die bepaalde Bybelboek. Aan die ander kant bestaan dit uit ʼn reeks waar studente oor die verloop van ʼn aantal weke deur inleidende teologiese temas werk. Hierdie reeks geskied ook onder leiding van teoloë en predikante en die fokus lê gevolglik by die bestudering van teologiese temas aan die hand van die Bybel en die eeueoue Christelike tradisie. Op hierdie manier skep die Bybelstudiegeleenthede ruimtes waar studente saam kan groei in hul geloof en met mekaar daarrondom in gesprek kan tree.
Oop gesprek-aande oor geloof
Gegewe Akademia se begronding en klassieke vertrekpunt uit die universitêre gedagte, omhels Akademia die oop gesprek. Binne die konteks van die klassieke Christelike geloof is die oop gesprek-aande geleenthede waar studente saam kan gesels oor die groot en ou vrae van die lewe. Dit skep die ideale ruimte om te sien hoe Akademia se vormingsideaal en geloofsvorming onlosmaaklik van mekaar staan. Onder leiding van teoloë en Akademia se studenteraad sal hierdie oop gesprek-aande gefasiliteer word en sal studente vinnig ʼn begrip en fyn aanvoeling ontwikkel vir diepgaande en respekvolle gesprekke oor geloof en die rol daarvan in ons persoonlike lewens en die groter samelewing. Oop gesprek-aande word, naas diepgaande en gesonde dialoog, ook gekenmerk deur feestelike samesyn.
Enige student en personeellid van Akademia is welkom om bogenoemde geleenthede by te woon afgesien van jou kerktradisie en denominasie. Die fokus by hierdie geleenthede sal uiteraard nie op denominasies wees nie, maar eerder op die algemene Christelik geloof. Dit is egter belangrik om te noem dat algemeen Christelik nie oppervlakkigheid of afgewaterheid inhou nie, maar eerder goeie, begronde en verantwoordelike Christelike denke impliseer en aanmoedig. Om te fokus op die algemene Christelike geloof binne die konteks van die klassieke vormingsideaal van Akademia is juis om Bybelbegrond, histories bewus, en teologies diep te wees.
Akademia se kapelaan wat verantwoordelik is vir die bogenoemde reëlings is dr. Daniël Maritz. Studente kan gerus na hom toe uitreik per e-pos of telefonies om ʼn afspraak met hom te maak. Hy gee, in samewerking met Akademia se Studentesakeafdeling, geestelike en pastorale begeleiding aan studente wat dit nodig het. Vanaf leerstellige, teologiese, en kerkvrae tot en met alledaagse worstelinge van die lewe is hy beskikbaar om Akademia-studente hiermee by te staan. Kontak hom gerus by danielm@akademia.ac.za.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE