Search
Close this search box.

Fiskale desentralisasie en die regering van nasionale eenheid

Gepubliseer op: 16 Julie 2024

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Handel aan Akademia, en prof. Niek Schoeman, emeritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria (UP).

Suid-Afrika staan op die drempel van ʼn opwindende nuwe hoofstuk in die land se geskiedenis, en alle oë is op die regering van nasionale eenheid (RNE). Desondanks die talle mislukkings wat voor die deur van die vorige bewind geplaas kan word, bestaan die hoop nou dat die plaaslike ekonomie ʼn welkome blomtyd kan beleef. Hierdie hoop is gesetel in die vooruitsig van verbeterde dienslewering en effektiewe bestuur.

Dit is egter belangrik om realisties te wees, en ongelukkig draai die ratwerk van verandering soms baie lank, veral in terme van die ekonomie, en neem daadwerklike verandering tyd. Bestaande argaïese beleid moet deurgevoer word en die nuwe toetredende ministers moet opgelei word in hul onderskeie portefeuljes. Hiermee saam, en dit is ongelukkig, sal sekere politici hulself steeds besig hou met populisme en gepaardgaande leë beloftes.

As deel van ʼn werkbare oplossing vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme behoort daar fyn gelet te word na die stand van die staatsfinansies. Die feit bestaan dat staatskuld steeds buite verhouding toeneem en alle moontlike opsies moet as ʼn saak van erns oorweeg word om hierdie tendens teë te werk.

Een só ʼn opsie sal wees om die verskillende owerheidsvlakke te verminder ten einde dié raamwerk finansieel meer bekostigbaar te maak. Sodanige fiskale desentralisasie behels die oordrag van fiskale verantwoordelikhede en magte vanaf die sentrale regering aan laervlakentiteite soos provinsiale-, streeks- of plaaslike regeringsvlakke. Sodoende sal plaaslike outonomie, aanspreeklikheid en doeltreffendheid in die daarstelling en verskaffing van openbare dienste verbeter. Op die keper beskou is plaaslike regerings beter geposisioneer om plaaslike behoeftes te verstaan, daaraan te voldoen en openbare besteding meer doeltreffend te bestuur.

ʼn Gedesentraliseerde regering behoort nie deel te wees van ʼn proses  op kaderontplooiing nie en kan daarom nie saamgestel word uit persone wat nie opgelei of toegerus is vir die werk wat hulle moet doen nie. Gevolglik sal verhoogde doeltreffendheid bydra tot groter fiskale volhoubaarheid vanweë die oordeelkundige aanwending van hulpbronne en die vermindering van verkwistende besteding. In hierdie konteks sal fiskale beleid maatreëls insluit wat daarop gemik sal wees om die fiskale tekort te verminder en skuldvlakke uiteindelik te verlaag. Diesulke maatreëls sal direk bydra tot die verbetering van makro-ekonomiese stabiliteit.

Oor die langer termyn behoort die verspreiding van fiskale verantwoordelikhede en hulpbronne tussen sentrale en plaaslike regeringstrukture ook tot die optimale bestuur van staatsfinansies aanleiding te gee. Hiermee saam sal strenger begrotingsbeperkinge op plaaslike regeringstrukture ook tot die meer effektiewe aanwending van staatsfondse lei. Laasgenoemde sal beteken dat plaaslike regerings verplig word om hul begrotings te balanseer en nie soos in die onlangse verlede swaar te steun op bykomende owerheidshulp nie.

ʼn Goeie voorbeeld wat hier as verwysing gebruik kan word, is dié van Japan waar ʼn desentralisasieproses die plaaslike owerheidstruktuur van meer as 3 000 plaaslike owerhede na sowat 1 500 gekrimp het. Tesame met die desentralisering is streng fiskale monitering vir beide inkomste en uitgawes geïmplementeer. Vrye ekonomiese sones behoort ook te ontwikkel as gevolg van dienooreenkomstige prestasie-beoordelingsmeganismes.

Natuurlik is die proses van fiskale desentralisasie nie sonder uitdagings nie. So byvoorbeeld beskik die meerderheid van plaaslike owerhede op eie bodem nie oor die noodsaaklike administratiewe en finansiële vermoëns wat benodig word nie. Die gevolg hiervan is dat desentralisasie kan lei tot selfs verdere ondoeltreffendheid en wanbestuur van hulpbronne wat fiskale volhoubaarheid sal ondermyn. Boonop, sonder behoorlike koördinasie en toesig, kan gedesentraliseerde fiskalestelsels lei tot die duplisering van besteding en ondoeltreffendheid.

In die lig hiervan is dit daarom noodsaaklik dat die korrekte balans gevind word tussen sentrale beheer en plaaslike inisiatief ten einde plaaslike owerhede toe te rus om optimaal in die behoeftes van die gemeenskap te kan voorsien. Faktore soos die algehele vlak van ekonomiese ontwikkeling, die sterkte van demokratiese instellings, en die bestaande fiskale kapasiteit van plaaslike regerings sal voorts ʼn deurslaggewende rol speel om te bepaal of desentralisasie fiskale volhoubaarheid bevorder of ondermyn.

Gedagtig aan die kloue van staatskaping, die reikwydte van korrupsie en die skadu van Suid-Afrika se Gryslys-status, is dit belangrik dat die RNE werk maak van die sukkelende ekonomie. Inisiatiewe soos die President se Vulindlela-eenheid is in hierdie opsig ʼn skuif in die regte rigting. Dié eenheid het dit ten doel om die bestaande strukturele probleme met behulp van die privaat sektor op te los.

Uiteindelik pleit elke Suid-Afrikaner vir ekonomiese groei, die daadwerklike aanspreek van armoede en werkloosheid, en die verwydering van strukturele hindernisse wat beleggings en uitvoere na behore sal stimuleer. Indien hierdie groei gepaard gaan met die bekamping van misdaad sal Suid-Afrika ʼn toekoms kan betree waar daar optimaal vir die nageslag gebou en voorsien kan word.

Dr. Sandra Adendorff is ʼn dosent in Ekonomie en Internasionale handel by Akademia. Sy is ʼn ervare akademikus en ekonomiese kenner op die gebied van finansiële markte en -instrumente sowel as makro-ekonomiese beleid.
Prof. Niek Schoeman is ʼn emeritusprofessor in Ekonomie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy is onder meer ʼn kenner op die gebied van fiskale finansies en beleid.

Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit. Ut elit tellus, luctus nec ullamcorper mattis, pulvinar dapibus leo.