Search
Close this search box.

Die gesin is die hartklop van die samelewing – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 30 Mei 2024

Geskryf deur Susan O’Reilly, dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Moedersdag is in Meimaand gevier en gedurende Junie sal Vadersdag én Jeugdag aan die beurt kom. Gedagtig aan hierdie spesiale gesinsgeleenthede deel ek graag my siening dat die gesin die kerneenheid oftewel die hartklop van die samelewing is. Méér nog, as die oudste sosiale struktuur moet die impak en rol van die gesin nooit onderskat word nie.

Sedert die vroegste tye het gesinne ʼn sentrale rol gespeel in die vorming en ontwikkeling van menslike gemeenskappe. Die konsep van ʼn gesin is immers deurspek met diepgesetelde betekenisse van liefde, ondersteuning en verbondenheid, wat die kern vorm van alle menslike interaksie en sosiale organisasie.

Die bekende en bekroonde Afrikaanse skrywer, Miemie Rothman, alombekend as M.E.R, stipuleer in die Carnegie-kommissieverslag (1932) – wat oor die huisgesin (moeder en dogter) handel, dat die gesin die fondament van die beskawing is. Net só bevestig die Amerikaanse president, Lyndon B. Johnson, in 1965 tydens ʼn toespraak by die Howard Universiteit hierdie sentiment as hy sê: “Die gesin is die hoeksteen van ons samelewing. Meer as enige ander krag of invloed vorm dit die gesindheid, die hoop, die ambisies én die waardes van ʼn kind. En, wanneer die gesin in duie stort, is dit die kinders wat gewoonlik benadeel word. Wanneer dié verbrokkeling egter op groot skaal gebeur, kreupel dit die gemeenskap.”

Vanuit hierdie perspektief kan dit dan aanvaar word dat indien die grondslag verbrokkel, dieselfde uitkoms deurgaans in die gemeenskap en samelewing gevoel sal word. Gesinne lyk juis vandag heelwat anders as in die verlede. In plaas daarvan dat die gesin deur hegte bande van verbondenheid gekenmerk word, blyk die realiteit vandag die teenoorgestelde voor te stel.

Gesinne speel ʼn fundamentele rol in die proses van primêre sosialisering, waar waardes, norme en kulturele erfenisse van die een generasie na die volgende oorgedra word. Hierdie funksie is noodsaaklik nie net in terme van stabiliteit nie, maar ook die voortbestaan van die samelewing.

Een van die mees merkwaardige eienskappe van die gesin as ʼn sosiale eenheid is sy aanpassingsvermoë. Gesinne mag dalk oor kultuurgrense, historiese tydperke en sosio-ekonomiese omstandighede verskil, maar dit bly ʼn nukleus van veerkragtigheid. Óf dit nou ʼn uitgebreide familie is in ʼn landelike gemeenskap, ʼn kerngesin in ʼn stedelike omgewing, óf selfs ʼn samestelling van individue wat nie biologies verwant is nie, die gesinstruktuur bly ʼn bron van ondersteuning en verbondenheid vir sy lede.

Dit is dan juis ook binne hierdie intieme ruimte waar individue hul identiteite vorm, waar hulle leer hoe om te kommunikeer, om konflikte te hanteer en om empatie te toon. Hierdie proses van sosialisering skep ʼn sterk band tussen gesinslede en dien as die grondslag waarop die samelewing homself berus. Die intieme verbintenis dien voorts as ʼn beskermende faktor teen die uitdagings en struikelblokke wat individue in die lewe mag ervaar. Dit is in die gesinsomgewing waar kinders leer om te vertrou, om hulself uit te druk en om ʼn gevoel van selfwaarde te ontwikkel.

In ʼn tyd waar persone dikwels hulself in ʼn stortvloed van digitale interaksie bevind, bly die gesin ʼn bron van ware en eerlike verbondenheid. Dit is die plek waar geselskappe gevier word, waar emosies gedeel word, en waar herinneringe geskep word wat ʼn leeftyd lank sal duur.

Deur die gesin te prioritiseer en Christelike waardes as die grondslag daarvan uit te oefen, is daar hoop vir ons toekoms. Die gesin bly immers die kern van ons menswees.

Akademia fokus vanjaar op verbondenheid as tema. Die instelling is onder meer verbonde aan die gesinstruktuur van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe wat hy dien. Ten grondslag van ons gemeenskapsverbondenheid lê norme soos geregtigheid, vriendskap, betrokkenheid en diensvaardigheid die instelling na aan die hart.

Susan O’Reilly, dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen die verbondenheid van ʼn gesin verteenwoordig die hartklop van die samelewing en moet daarom gekoester en bevorder word.