Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Belê in jouself ten tye van ekonomiese krisis

Gepubliseer op: 14 Mei 2020

Deur Liana Venter, die registrateur by Akademia

Die huidige pandemie en gepaardgaande inperking lê talle sektore lam. Die hoëronderwys­sektor word ook nie uitgesluit van hierdie uitdagings nie, veral wat kontakinstellings betref. Dit is egter waar die uitdagings behoort te stop vir veral studente, gegewe die woorde van Winston Churchill: “Moenie ʼn goeie krisis mors nie”. Die huidige ekonomiese krisis bied verskeie opsies en geleenthede vir huidige en voornemende studente.

Die mensdom se onmiddellike reaksie wanneer ons onsekerheid ervaar is om die rem te trap, ons wil alle aktiwiteite stop by die eerste teken van die onbekende en die onsekerhede wat die toekoms mag inhou. Ons word vertel dat die veiligste is om op te hou met dit waarmee jy besig is en wat jy beplan het. Maar om op te hou om te studeer en jouself verder te bemagtig met kennis is ʼn groter risiko, veral in tye waarin die wêreld rondom ons reeds soveel veranderings ervaar. Dit is nou die ideale geleentheid om aan jou toekoms te bou sodat jy, ten spyte van onsekere tye, jou loopbaanreis kan bevorder.

So wat moet huidige en voornemende studente dan doen tydens die ekonomiese krisis waarin ons onsself bevind?

1. Kies om doeltreffende aksies te neem vir jou toekoms

Nou is die tyd om op studies, asook verdere studies en vaardigheidsontwikkeling, te fokus. Daar is geen bewyse dat die behoefte aan geskoolde en ʼn goed opgeleide arbeidsmag gaan afneem nie, ongeag watter roete voorlê word vir die herstel van die ekonomie. Wanneer daar na internasionale en plaaslike studente-registrasiesyfers gekyk word, is dit merkbaar dat daar ʼn toename in registrasies is by alle hoëronderwysinstellings in tye van resessie. Hierdie kan ook in Suid-Afrika gesien word wanneer daar na die 2008-resessie gekyk word, wat as die grootste finansiële krisis van ons tyd beskou is. Die gepaardgaande studente-registrasiesyfers soos verskaf deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding oor die periode 2008-2010 was soos volg:

 

 200820092010
Aantal geregistreerde studente799 387837 779892 936

 

Die ekonomiese vooruitsigte is egter op die beste bewolk, met toestande wat waarskynlik erger sal wees as na die 2008-resessie of selfs die Groot Depressie voor die Tweede Wêreldoorlog. Professionele persone met gevorderde en kundige werkvaardighede sal egter steeds in aanvraag wees en die werkloosheid onder gegradueerdes is ook laer as vir persone sonder ʼn kwalifikasie.

2. Gryp die geleentheid aan om gemaklik te raak met die ongemaklike

Daar is net een manier om relevant te bly in ʼn post-Covid-19-wêreld en dit is om verbind te bly tot ʼn leeftyd van leer. Alhoewel uitnemende opleiding belangrik is om studente vir die arbeidsmark voor te berei, gaan deeglike opvoeding daarmee saam studente help om aanpasbaar en buigsaam te wees in hul denke, en sal hulle die kognitiewe vaardigheid hê om tred te hou met die vinnige verskuiwings en veranderings wat nuwe werksomgewings gaan vereis.

Verandering is moeilik en baie mense is ongemaklik as dit kom by verandering, maar verandering na Covid-19 is ʼn gegewe. Dit is belangrik om te verseker dat jy die regte toerusting het om jou te help om aan te pas by die veranderinge wat voorlê.

3. Belê in jouself

Geleentheidskoste verwys na die koste van die keuses wat ʼn verbruiker (of student) moet maak. Die geleentheidskoste van studies is die werksgeleentheid wat ʼn student prysgee om verder te studeer. Hierdie geleentheidskoste is tydens ʼn resessie baie laer omdat dit moeiliker vir ʼn ongeskoolde persoon is om werk te kry, as gevolg van die hoë werkloosheidvlakke wat in die ekonomie bestaan, asook die laer salarisse wat betaal word en beperkte bevorderingsgeleenthede.

Belê dus in jouself gedurende hierdie tyd – jy mag dalk nooit weer die geleentheid kry om dit so koste-effektief te doen nie.

Liana Venter is die registrateur by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia.

Bronne

Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 2008. DoE Stats at a Glance 2008. http://www.dhet.gov.za/DHET%20Statistics%20Publication/DoE%20Stats%20at%20a%20Glance%202008.pdf.

Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 2009. DoE Stat sat a Glance 2009. http://www.dhet.gov.za/DHET%20Statistics%20Publication/DoE%20Stats%20at%20a%20Glance%202009.pdf.

Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 2016. Statistics on Post-School Education and Training in South Africa. http://www.dhet.gov.za/DHET%20Statistics%20Publication/Statistics%20on%20Post-School%20Education%20and%20Training%20in%20South%20Africa%202016.pdf.

Janse van Rensburg, J., McConnell, C.R., Brue, S.L. 2015. Economics. 2de uitgawe. Berkshire: McGrawHill Education.