Search
Close this search box.

Balanseer jou werk en studies só as nauurse afstandstudent

31 Augustus 2023

Geskryf deur Megan Ferreira, Fontiepos-joernalis

Almal kry nou en dan ʼn dag waar mens voel dat jy eintlik voor is so agter is jy. Jy kom net by niks uit wat in jou dagboek staan nie. Tog kan mens soms rustigheid in die chaos vind, soos nauurse studente wat gelyktydig by werk en studies moet uitkom.

Wat elke nauurse student al beleef het, is dat hulle dag en nag sit om opsommings klaar te maak, of opdragte te finaliseer, en bykans geen rus inkry nie. Dit is belangrik om te onthou, dat rus en werk hand-aan-hand gaan. Die een kan nie sonder die ander nie.

Die enigste manier om jou daaglikse lewe in stand te hou en te verseker dat jy by alles uitkoms, is deur middel van ʼn dagboek. Elke dag moet jy ʼn lysie opstel, en dan afmerk wat gedoen is en wat nog gedoen moet word. Dit vat ʼn rukkie om aan gewoond te raak, maar dit is die moeite werd. As ʼn nauurse student moet jy ʼn groot gedeelte van die dag werk, en dit lyk met oogopslag doenbaar, maar die sukses lê absoluut in beplanning.

Om die dag optimaal te gebruik, kan jy die volgende probeer:

  • Beplan jou week vooruit op Sondae-aande, om presies te weet wat die week inhou.
  • Prioritiseer die take volgens belangrikheid en skryf neer wanneer jy wat moet doen.
  • Bepaal hoeveel tyd jy nodig het om aan elke taak te spandeer.
  • Familietyd en tyd vir jouself is bitter belangrik en moet in jou skedule ingereken word.
  • Doen een taak op ʼn slag en moenie probeer om alles gelyk te doen nie.
  • Som elke dag se werk op ná ʼn klas om verwarring te vermy, jou geheue te verfris en op datum te bly met alles.
  • Kyk mooi na jou fisiese en geestelike welstand.
  • Vra om hulp indien nodig.

Effektiewe tydsbeplanning kan die beste in jou na vore bring. Meeste nauurse studente het ʼn beperkte sosiale lewe, maar dit kan bekamp word deur middel van ʼn dagboek, herinneringe op jou selfoon en familielede wat jou ondersteun in moeilike tye.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.