Search
Close this search box.

BAHons (Media en Kommunikasie)

Die program rus studente toe met in diepte teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritiese vaardighede om as volronde, vaardige en aanpasbare media- en kommunikasiepraktisyns ʼn kritiese rol te vervul in veranderende en uitdagende globale, politieke, tegnologiese en sosiale kontekste.

Die BAHons in Media en Kommunikasie gee aan studente die geleentheid om te spesialiseer in Strategiese Kommunikasiebestuur óf Joernalistiek. In albei strome word die dinamiese verhouding tussen teorie en praktyk deurgaans beklemtoon, sodat afgestudeerde studente nie bloot vaardig is nie, maar ook krities kan besin oor die media- en kommunikasiebedryf om sinvolle en positiewe bydraes te maak.

Benewens die klem op teoretiese kennis en praktiese en bedryfsgerigte vaardighede, fokus die program ook op die ontwikkeling van vaardighede wat media- en kommunikasiepraktisyns nodig het om in die 21ste eeu in die werkplek te funksioneer, soos digitale en datageletterdheid, die vermoë om doeltreffend te kommunikeer, saam te werk oor dissiplines heen, kritiese en sosio-emosionele vaardighede, asook die vermoë om komplekse inligting te verwerk en ʼn hoë kognitiewe werklading te bestuur.

WAT KAN EK MET DIE BAHONS (MEDIA EN KOMMUNIKASIE)-PROGRAM DOEN?

Studente wat ʼn BAHons in Media en Kommunikasie voltooi sal loopbane kan volg in onder meer die joernalistiek, mediabestuur, sosiale media, openbare skakeling, die advertensiewese, kommunikasiebestuur, die uitgewerswese, opvoedkunde, digitale media, navorsing én die openbare sektor.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 8

130 krediete

SAKO-nommer:  122320

ONDERRIGLEERMODEL: Voltydse kampusmodel

KWALIFISEER EK OM BAHONS (MEDIA EN KOMMUNIKASIE) TE STUDEER?

MODULES

Die module fokus op sleutelteorieë en -konsepte in media- en kommunikasiestudies en het ten doel om studente toe te rus met gevorderde kennis en insig in die funksie van teorie en hoe dit toegepas kan word om hedendaagse kwessies, uitdagings en verskynsels in media- en kommunikasiestudies en -praktyk te ondersoek en te verklaar.

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus om die komplekse en uitdagende Suid-Afrikaanse media- en kommunikasiekontekste te navigeer. Die module fokus op die interne en eksterne aspekte van mediaregulering, wetlike en etiese besluitnemingsinstrumente, asook bewusmaking van uitsonderings wanneer bykomende etiese riglyne van toepassing is. Studente wat hierdie module voltooi, sal toegerus wees om die bes moontlike etiese besluite te kan neem en dilemmas op te los deur etiese beginsels, toepaslike wetgewing en beste praktykbeginsels toe te pas. Hierdie module word as twee werkswinkelsessies in semester twee aangebied. 

Die uitdagings wat die postdigitale era bied vereis van media- en kommunikasiepraktisyns om deeglik bewus te wees van die risiko’s en geleenthede wat datagedrewe tegnologieë vir die bedryf inhou. Hierdie module moedig studente aan om ʼn kritiese, kreatiewe en nuuskierige ingesteldheid tot data te ontwikkel, sodat hulle inligting kan bevraagteken en op ʼn kritiese en verantwoordelike wyse met data omgaan as navorsers of media- en kommunikasiepraktisyns. Hierdie module word as twee werkswinkelsessies in semester een aangebied. 

In hierdie module sal studente ʼn gevorderde begrip ontwikkel van die navorsingsproses en die kritiese vaardighede ontwikkel om probleme, kwessies en uitdagings in die vakgebied op ʼn etiese, verantwoordbare en wetenskaplike wyse te ondersoek. Studente sal ʼn navorsingsvoorstel voorlê, navorsing uitvoer en hul bevindinge in ʼn verslag weergee. Studente sal onderwerpe kan kies wat by hul spesialiseringsveld aansluit en deur die loop van die jaar onder leiding van ʼn studieleier die navorsingsprojek voltooi. Studente sal nie formeel kontaksessies vir hierdie module bywoon nie, maar wel aan twee werkswinkels deur die loop van die jaar moet deelneem.

Die module fokus op die elemente van strategiese kommunikasiebestuur (soos belangegroepbestuur, openbare en mediaskakeling, geïntegreerde bemarkingskommunikasie en handelsmerk- en reputasiebestuur) in die konteks van kommunikasie vir sosiale verandering. Studente word deur die jaar begelei om ʼn kommunikasieprobleem of -uitdaging te identifiseer en op te los deur onafhanklik ʼn strategiese kommunikasieplan vir ʼn nie-winsgewende organisasie te ontwikkel, implementeer, evalueer en te meet. Hierdie module word in formele kontaksessies op die kampus aangebied en studente sal deur die loop van die jaar twee maal per week vir twee ure klas bywoon.

Die module fokus op die dinamika tussen strategiese kommunikasiebestuur en die historiese, tegnologiese en sosio-ekonomiese kontekste waarin praktisyns funksioneer. Studente kry die geleentheid om op ʼn kritiese wyse hedendaagse kwessies en debatte in strategiese kommunikasiebestuur, asook die impak van sleutelgebeure, -teoretici en -figure in die veld, te ondersoek. Temas wat in hierdie module aan die orde kom, sluit in die openbare sfeer, sosiale verandering, korporatiewe sosiale verantwoordelikheid en belangegroepaktivisme. Hierdie module word in formele kontaksessies op die kampus aangebied en studente sal deur die loop van die jaar een maal per week vir twee ure klas bywoon.

Hierdie module rus studente toe met gevorderde kennis en vaardighede om hoë gehalte, goed nagevorsde en boeiende multimediainhoud vir verskeie platforms te skep deur die toepassing van ʼn wye verskeidenheid tegnieke. Die module plaas veral klem op nuus-, spesialis- en narratiewe joernalistiek in die digitale omgewing en studente ondersoek ook innovasie en geleenthede vir entrepreneurs in die joernalistiekbedryf. Hierdie module word in formele kontaksessies op die kampus aangebied en studente sal deur die loop van die jaar twee maal per week vir twee ure klas bywoon.

Die module fokus op die dinamika tussen joernalistiekpraktyk en die historiese, tegnologiese, politiese en sosio-ekonomiese kontekste wat ʼn impak het op die medialandskap, veral in Suid-Afrika. Temas soos sleutelfigure in die joernalistiek, nuwe neigings, kunsmatige intelligensie, digitalisering, geopolitiek en mediarepresentasie kom in hierdie module aan die orde. Hierdie module word in formele kontaksessies op die kampus aangebied en studente sal deur die loop van die jaar een maal per week vir twee ure klas bywoon.

ANDER INLIGTING

Minimum tydsduur vir die program is een jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is drie jaar.

Toelating tot die program om te spesialiseer in Strategiese Kommunikasiebestuur:

  • ʼn BA-graad of Gevorderde Diploma (NKR-vlak 7) in Kommunikasiestudies of ʼn verwante dissipline met ʼn minimum gemiddeld van 60%.

Toelating tot die program om te spesialiseer in Joernalistiek:

  • ʼn BA-graad of ʼn Gevorderde Diploma (NKR-vlak 7) in Joernalistiek, Mediastudies of enige ander dissipline met ʼn minimum gemiddeld van 60%.

Benewens die toelatingsvereistes, moet voornemende studente ook aan bepaalde keuringsvereistes voldoen om tot die program toegelaat te word. Dié vereistes is:

  • Uitstekende lees- en skryfvaardighede
  • Uitstekende algemene kennis en ʼn sterk belangstelling in aktuele sake
  • Die vermoë om onafhanklik en ook in groepe saam te werk
  • Bogemiddelde digitale geletterdheid

 

Voornemende studente moet die volgende doen om bewys te lewer dat hulle aan die bostaande kriteria voldoen:

  • Die Taalsentrum se taalvaardigheidstoets slaag.
  • ʼn Assessering slaag wat voornemende studente se algemene kennis en belangstelling in aktuele sake toets.
  • ʼn Portefeulje indien om bewys te lewer van die voornemende student se veelsydigheid, skryfvaardighede, belangstelling in die bepaalde veld en die vermoë om onafhanklik te werk. Studente kan byvoorbeeld ʼn verslag, kommunikasieplan, akademiese opstel(le) of enige ander media-inhoud in geskrewe, oudio- of visuele formaat by die portefeulje insluit. ʼn Maksimum van tien items sal oorweeg word.
  • Aan ’n onderhoud deelneem om bewys te lewer van hul belangstelling, veelsydigheid, vaardighede en passing.

 

Die portefeulje moet saam met die student se aansoek ingedien word. Voornemende studente sal dan verdere besonderhede ontvang oor die keuringsproses.

Programkoste vir 2025

Jaar een: Vanaf R61 120

Handboeklyste vir 2025 word ná suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

DOEN NOU AANSOEK OM ‘N BAHONS (MEDIA EN KOMMUNIKASIE)-GRAAD TE STUDEER