BA (Kommunikasie en Joernalistiek)
Die program rus studente toe met diepgaande teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritiese vaardighede om as volronde, vaardige en aanpasbare media- en kommunikasiepraktisyns ʼn kritiese rol te vervul in veranderende en uitdagende globale, politieke, tegnologiese en sosiale kontekste.
Die BAHons in Media en Kommunikasie gee aan studente die geleentheid om te spesialiseer in Strategiese Kommunikasiebestuur óf Joernalistiek. In albei strome word die dinamiese verhouding tussen teorie en praktyk deurgaans beklemtoon, sodat afgestudeerde studente nie bloot vaardig is nie, maar ook krities kan besin oor die media- en kommunikasiebedryf om sinvolle en positiewe bydraes te maak.
Benewens die klem op teoretiese kennis en praktiese en bedryfsgerigte vaardighede, fokus die program ook op die ontwikkeling van vaardighede wat media- en kommunikasiepraktisyns nodig het om in die 21ste eeu in die werkplek te funksioneer, soos digitale en datageletterdheid, die vermoë om doeltreffend te kommunikeer, saam te werk oor dissiplines heen, kritiese en sosio-emosionele vaardighede, asook die vermoë om komplekse inligting te verwerk en ʼn hoë kognitiewe werkslading te bestuur.
WAT KAN EK MET DIE BA (KOMMUNIKASIE EN JOERNALISTIEK) DOEN?
WAT BEHELS DIE PROGRAM?
NKR-vlak 7
400 krediete
ONDERRIGLEERMODEL: Voltydse kampusmodel (Centurion- en Paarl-kampusse)
KWALIFISEER EK OM BA (KOMMUNIKASIE EN JOERNALISTIEK) TE STUDEER?
MODULES
Neem kennis dat die keusemodules nie noodwendig op alle kampusse aangebied word nie.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met ʼn grondige kennis van die basiese teorieë in die veld van kommunikasiestudies, sodat hulle dit in verskeie kommunikasiekontekste en alledaagse situasies kan toepas. Daar word in hierdie module besin oor verskillende teorieë, sleutelkonsepte, asook die aard en eienskappe van kommunikasie in verskillende praktiese kontekste.
Die doel van hierdie module is om studente voor te berei op verdere studies in organisasie- en ontwikkelingskommunikasie in ʼn Suid-Afrikaanse konteks. Studente word bekend gestel aan sleutelteorieë en kernkonsepte en -benaderings tot hierdie velde in kommunikasie. Hierdie sluit in die funksie van organisasiekommunikasie, organisasiekultuur en -identiteit, sowel as die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met ʼn grondige begrip van die ontwikkeling, rol en funksie van massakommunikasie en joernalistiek in ʼn demokratiese samelewing – met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks. In hierdie module word klem geplaas op die teorieë, benaderings en modelle wat van toepassing is op die media in die 21ste eeu. Daar word ook besin oor die veranderende rol van die joernalis in ʼn digitale en globale wêreld. Die module rus studente verder toe met die nodige vaardighede om basiese take uit te voer wat van ʼn nuusjoernalis in druk- en uitsaaimedia vereis word.
Die doel van hierdie module is om studente bekend te stel aan die basiese teorieë en konsepte wat betrekking het op skryf en redigering vir die media. In hierdie module ontwikkel studente die vaardighede om te skryf en redigeer vir nuusmedia in ’n druk- en uitsaaikonteks.
Die doel van hierdie module is om studente voor te berei op akademiese studies in ʼn tersiêre omgewing. Studente word toegerus met die kennis en praktiese vaardighede om hulle akademiese studie te benader, uit te voer en te bestuur. Die module fokus daarop om studente se vaardighede te ontwikkel wat betref die kritiese lees en ontleding van en besinning oor akademiese tekste en vraagstukke in die media- en kommunikasiebedryf. Studente word ook begelei om toepaslike reaksies en argumente op ʼn duidelike en samehangende wyse te ontwikkel. Die module berei studente dus voor om hulle akademiese aktiwiteite suksesvol te voltooi.
Keusemodule (kies een)
Hierdie inleiding kursus in filosofie – met beide ʼn historiese en sistemiese fokus – gaan in op hoe antieke samelewings en klassieke bronne van filosofie steeds van toepassings is op hedendaagse denkwyses en optrede. Daar word in hierdie module gekyk na van die mees prominente filosofiese vraagstukke, deur eerstens te kyk na vooraanstaande filosowe uit die Antieke, Grieks-Romeinse en Middeleeuse tydperke. Hierdeur word die dinamiese aard van filosofie as dissipline geïllustreer, en word die studente voorsien van die kennis om hulself verder in die studie van filosofie te verdiep.
Hierdie inleidende module in politiek fokus op die basis van politieke wetenskap deur studente te lei om konsepte, teorie, modelle, ideologieë en breë politieke strukture te verstaan en te begin toepas om sin te maak van spesifieke politieke gevalle. Konsepte en teorie – wat definisies van politiek, die staat, politieke stelsels en owerheidsvorme, partystelsels, kiesstelsels, die verdeling van magte en staatsvorme insluit – word ook toegepas op voorbeelde vanuit die Suid-Afrikaanse politiek.
Hierdie inleidende module in internasionale verhoudinge en internasionale politieke ekonomie gee ʼn breë oorsig van die verskeie komponente en akteurs in internasionale verhoudinge (wat ook as internasionale of globale politiek bekendstaan). Die module stel studente in staat om sin te maak van die verweefde aard van verhoudinge in die internasionale gemeenskap. Temas in die module sluit in die staat en buitelandse beleid, mag en die globale orde in die 21ste eeu, menseregte, humanitêre intervensie, internasionale reg, internasionale organisasies, regionalisme, globale regering, die Bretton-Woods-stelsel, en China se rol in die globale ekonomie.
Hierdie module bied studente ʼn breë bekendstelling aan die ekonomiese dissipline. Na voltooiing van hierdie module sal studente in staat wees om die fundamentele elemente van ekonomie in teorie en praktyk te begryp, en vorm die basis vir verdiepende studies in ekonomie.
Die doel van die module is om studente op te lei in die studie van die taal- en letterkunde van Afrikaans en Nederlands deur middel van inleidings tot aspekte van die linguistiese en letterkundige samestelling van Afrikaans – ook in sy verhouding tot Nederlands. Daarom sal ʼn kort oorsig gegee word van die verskillende komponente van die taalkunde van Afrikaans en van sy geskiedenis. Om die student voor te berei vir die akademiese diskoers oor Afrikaans sal normatiewe besinning oor die gebruik van Afrikaans deel vorm van die kursusinhoud in die eerste jaar.
In die letterkundekomponent word verteenwoordigende poësie-, prosa- en dramatekste bestudeer in die raamwerk van ʼn oorsig oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en van die sentrale temas en poëtiese raamwerke daarvan. Studente sal ook opgelei word in die vakkundige lees en ontleding van tekste.
Engels 1 stel studente bekend aan die akademiese bestudering van die Engelse taal- en letterkunde. Die module hanteer inleidende aspekte van die literatuurtradisie en letterkunde deur middel van die bestudering van tekste uit die hoofgenres, naamlik poësie, prosa en drama. Studente sal opgelei word om tekste te lees en analiseer. Die module lê verder ook klem op Engelse fonetiek en fonologie om begrip en waardering vir die verskillende uitsprake van Engels te kweek. Studente word ook voorberei op die gebruik van akkurate akademiese diskoers in Engels deur die bestudering van die grammatika.
Die doel van hierdie module is om studente bekend te stel aan basiese Sepedi-grammatika met ʼn fokus op die linguistiese strukture met ʼn hoë funksionele lading. Die studente word bekendgestel aan die 300 mees gebruikte woorde in Sepedi wat gebaseer is op ʼn lys wat verkry is van ʼn elektroniese datakorpus. Die module fokus verder op die lees en verstaan van eenvoudige, kort tekste en die skep van eenvoudige sinne. Eenvoudige luister- en gespreksoefeninge gee vir studente blootstelling aan die uitspraak van moedertaalsprekers en die geleentheid om dit in te oefen.
Die taalkomponent van hierdie module stel ten doel om studente se basiese taalvermoë in Duits te ontwikkel tot op B1+-bevoegdheidsvlak, soos voorgeskryf deur die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale (CEFRL). Die module lê dus klem daarop om studente se taalvaardigheid te ontwikkel sodat hulle basiese Duits met gemak kan verstaan en gebruik in verskeie kontekste, eenvoudige tekste kan skep oor ʼn verskeidenheid onderwerpe, hul ervaringe kan beskryf en ook hul opinies kan verduidelik. Die module fokus gevolglik op die kernaspekte van taalverwerwing: die bemeestering van luister-, praat-, lees- en skryfvaardighede.
Hierdie module stel verder ten doel om studente ʼn oorsigtelike inleiding tot Duitstalige letterkunde binne die historiese gegewe van die twintigste eeu te bied. ʼn Keur van geskrewe en visuele tekste sal krities bespreek word, met spesifieke verwysing na die sosio-politieke en kulturele Europese konteks waarbinne dit ontstaan het.
Verskeie genres word in die Frans 1-module bestudeer, soos die verhaal (of conte), kortverhaal en ʼn keur van gedigte. Die geskiedkundige gebeure in Frankryk wat bepaalde betekenis vir die Afrikaanssprekende student inhou, kom in die tweede semester van die eerste jaar aan die orde. Die module ontwikkel studente se vaardighede wat betref die interpretasie van tekste en die formulering van samehangende argumente om bepaalde interpretasies te motiveer.
Wat die taalkundekomponent van die module betref, fokus die module daarop om studente se taalvaardigheid tot op B1-vlak te ontwikkel volgens die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale (CEFRL).
B1-gebruikers van ʼn taal kan die belangrikste inhoud verstaan wanneer dit oor algemene onderwerpe handel (soos reis, werk en universiteit) en in duidelike, standaardfrans gekommunikeer word.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met ʼn grondige begrip van die teorieë, benaderings en beginsels wat media- en openbare betrekkinge en bemarkingskommunikasie onderlê. Die module rus studente boonop toe om teoretiese beginsels en praktiese strategieë en tegnieke te gebruik om gevallestudies te bestudeer en basiese kommunikasie- en bemarkingsplanne vir organisasies te ontwikkel.
Die doel van die module is om studente toe te rus met ʼn grondige begrip van die rol van digitale media in die media- en kommunikasiebedryf. Die module stel studente bekend aan die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om digitale media vir bemarkings-, mediaskakeling- en joernalistiekdoeleindes te gebruik. Korporatiewe Media 2 bevorder boonop studente se digitale geletterdheid en rus hulle toe met die kennis en vaardighede om digitale media op ʼn doelgerigte, verantwoordelike en etiese wyse vir media- en kommunikasiedoeleindes te gebruik.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met die kennis en praktiese vaardighede om nuus te ontwerp vir druk- en digitale media. Die module fokus ook op die beplanning, bestuur en ontwerp van nuuspublikasies, wat die neem en redigeer van foto’s vir nuusdoeleindes insluit. Die module lê ook klem op media- en visuele geletterdheid.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met die kennis en vaardighede om te skryf en redigeer vir media-, openbare betrekkinge- en bemarkingskommunikasiedoeleindes. Die module fokus veral op skryfwerk vir digitale platforms en gehore.
Die doel van hierdie module is om vir studente ʼn grondige begrip van en insig te gee in die verhouding tussen die media en politieke instellings. Dit word gedoen deur te fokus op die sleutelteorieë, -benaderings en -beginsels wat van toepassing is op politieke en regeringskommunikasie binne die Suid-Afrikaanse konteks. Die module rus studente toe om teoretiese beginsels toe te pas en politieke en regeringsboodskappe en -strategieë te beplan en evalueer.
Die doel van hierdie module is om vir studente ʼn in-diepte oorsig te gee van die beleide, wetgewing en etiese oorwegings wat van toepassing is op die media- en kommunikasiebedryf in Suid-Afrika. In hierdie module sal studente toegerus word om te besin oor die teoretiese en filosofiese fondamente van etiek en normatiewe diskoers, interne en eksterne mediaregulering, sowel as kwessies soos naamskending, objektiwiteit en privaatheidskending, deur praktiese voorbeelde en gevallestudies te bestudeer. Die module fokus daarop om studente toe te rus met die kennis, vaardighede en insig om binne die etiese en wetgewingsraamwerke as media- en kommunikasiepraktisyns hul take te verrig.
Hierdie module rus studente toe om strategiese kommunikasie-aktiwiteite in ʼn organisasie te bestuur en volhoubare sosiale verandering in die konteks van plaaslike ontwikkelingskommunikasie te fasiliteer. Die module fokus op in-diepte teoretiese kennis en vaardighede om ʼn strategiese kommunikasieplan in die konteks van ontwikkelingskommunikasie saam te stel, te bestuur en te evalueer. Studente sal begelei word om verskeie kommunikasiefunksies – soos mediaskakeling, bemarking en advertensies – te integreer om uiteindelik ʼn geïntegreerde kommunikasieplan saam te stel.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om korporatiewe media vir interne en eksterne teikengehore te beplan, bestuur en ontwerp. Die module rus studente dus toe om inhoud te skep en te ontwerp vir korporatiewemediaplatforms.
Hierdie module rus studente toe met die kennis en vaardighede om as multimediajoernaliste te funksioneer in ’n digitale en gekonvergeerde nuuskantoor,met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks. Skryfvaardighede vir joernalistiek word in-diepte behandel.
Studente wat hierdie module voltooi, sal in staat wees om gehalte-inhoud vir verskeie mediaplatforms en teikengehore te skep deur gebruik te maak van teks, klank, beeld en video.
Die doel van hierdie module is om studente vertroud te maak met navorsing in die sosiale wetenskappe en om hulle toe te rus met die kennis en vaardighede om veral kwalitatiewe navorsing op ʼn selfstandige, etiese en verantwoordelike wyse uit te voer. Die module fokus op kwalitatiewe, kwantitatiewe en gemengde navorsingsmetodes wat van toepassing is op die sosiale en geesteswetenskappe. Die module berei studente voor vir nagraadse studie.
ANDER INLIGTING
Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.
Toelatingsvereistes
- Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook: Afrikaans 50%
- Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien ʼn ander skoolverlaterkwalifikasie as NSS behaal is.
- ʼn Hoër sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.
Matriek-Duits/matriek-Frans of ʼn A2-vlaksertifikaat volgens die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale, in die onderskeie tale, indien die student Duits/Frans as keusemodule kies.
Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkostes.
Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.
DOEN NOU AANSOEK OM BA (KOMMUNIKASIE EN JOERNALISTIEK) TE STUDEER