Search
Close this search box.

Argumente vir ’n eie Afrikaanse universiteit

Gepubliseer op: 8 Mei 2017

Universitêre Afrikaans gaan tans drasties agteruit. Dit is aan hoofsaaklik twee kragte te wyte. Die eerste is die homogeniserende beleid van die huidige regering, waarby staatsgedepartementaliseerde universiteitsowerhede geredelik ingeval het. Die produk is die soort van staatsuniversiteit, wat herhaaldelik in hierdie bundel ter sprake is – ’n staatsuniversiteit wat nouliks van ’n staatsdepartement onderskeibaar is. Die tweede is die sogenaamde globale universiteite, wat hulle losgemaak het van hulle gemeenskappe en gevolglik ook hul verbintenis met hulle eertydse plaaslike tale en taal- en kultuurgemeenskappe verbreek het. Suid-Afrika se staatsuniversiteite streef almal die status van globale universiteite na. Afrikaans en sy mense ly hier onder net soos talle ander tale en hulle gemeenskappe.

Die universiteitswese as sodanig – dit wil sê nie net in Suid-Afrika nie – is egter ook in die gedrang. Trouens, dit verkeer in ’n verdiepende krisis. Dit is nie slegs ’n probleem vir kleiner taalgemeenskappe soos die Afrikaanse taalgemeenskappe nie, maar vir alle gemeenskappe. Die krisis van die universiteitswese is ’n integrale deel van ’n algemene beskawingskrisis, meer bepaald die krisis van die Westers-Christelike beskawing.

Die Westers-Christelike beskawing verkeer in ’n krisis omdat hy sy verbintenis tot en waardering vir sy oerbronne – sy fontes pristini – verloor het. Daardie bronne behels die Christelike godsdienstige, die Griekse wysgerige en die Romeinse regstradisies soos wat dit veral deur die gemeenskappe van noordwes-Europa – soms vrywillig, soms gedwonge – ontvang is en in ’n enkele omvattende beskawing saamgevoeg, verfyn, gekoester en voortgesit is.

Lees die volledige artikel deur prof Koos Malan op die NP van Wyk Louw-sentrum se webblad, waar dit oorspronklik verskyn het.