Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademici besoek vyf lande in Julie

Gepubliseer op: 30 Julie 2019

Akademici van Akademia het onlangs bande in die buiteland gaan smee tydens akademiese besoeke aan Duitsland, Griekeland, Italië, Switserland en Taiwan. Tydens hierdie besoeke is konferensies bygewoon, werkswinkels aangebied, referate gelewer en ʼn rondetafelbespreking gefasiliteer.

“Ten grondslag van hierdie internasionale besoeke lê die ideaal van Akademia om die hoogste standaarde in sowel onderrig as opvoeding te handhaaf,” sê professor Danie Goosen, akademiese hoof van die instelling. “Daarom meet Akademia haarself nie net aan plaaslike universiteite nie, maar aan die beste internasionale voorbeelde. Daarbenewens is dit belangrik om as gemeenskapsinstansie goeie verhoudinge en wedersydse samewerking in die universitêre wêreld te handhaaf.”

Duitsland

Twee dosente, Felicia Snyman en Mareli van der Merwe, het onderskeidelik ʼn referaat gelewer en rondetafelgesprek gefasiliteer by die Internasionale Konferensie vir die Verbetering van Hoër Onderwys. Die referaat handel oor “Mooting into the gap of transition”, en die rondetafelgesprek was ʼn ondersoek na “Closing the gap between qualification and employability through innovative practices in Akademia’s Business Management Programme”.

Griekeland

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het vanjaar weer ʼn weeklange werkswinkel oor Aristoteles op Lesvos in Griekeland aangebied. Hierdie werkswinkel het gehandel oor die kontemporêre begrip ​​van antieke wysheid, en is aan deelnemers van regoor die wêreld aangebied.

Italië

Twee dosente het referate by konferensies in onderskeidelik Milan en Rome gelewer. Chalté Venter se referaat, “Volatility modelling and trading volume of the CARS equity” is by die Internasionale Kongres vir Toegepaste Ekonomie gelewer. Chazanne Grobler se referaat is by die 36ste Internasionale Kongres vir Reg en Geestesgesondheid aangebied. Haar referaat het gehandel oor die “Recognition of South African traditional health practitioners in mental health law: Complicity in the abuse of human rights or promotion thereof?”

Switserland

Erik Heppell het ʼn referaat gelewer by die 6de Konferensie vir die Regulering van Gepaste Werkspraktyk wat in Genève, Switserland gehou is. Sy referaat het gehandel oor “A case for legal intervention aimed at top earners in the labour market”.

Taiwan

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het ʼn referaat by die Nasionale Universiteit van Taiwan in Taipei gelewer. Die referaat met die titel “An investigation on the potential for fog water harvesting from Table Mountain, South Africa” is tydens die 8ste Internasionale Konferensie oor Vog, Vogversameling en Dou gelewer.

Bo en behalwe die onlangse internasionale besoeke gaan verskeie personeellede ook in die maande wat voorlê universiteite in Europa, die VSA en ook in die noorde van Afrika besoek. Die doelwit van hierdie besoeke is onder meer om akademiese kongresse by te woon en referate aan te bied. Verskeie klassieke opvoedingsuniversiteite in die VSA gaan ook besoek word. Tydens hierdie besoeke sal personeellede nie net verdere blootstelling aan die bestuurs- en opvoedingsbenaderings van dié universiteite kry nie – ʼn belangrike oogmerk is ook om goeie bande met uitnemende akademici te smee en in Akademia se programaanbod en onderrigpraktyke terug te ploeg.