Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia trotse eienaars van die woord “dekaan”

Gepubliseer op: 18 Maart 2019

Akademia is die eksklusiewe eienaars van die woord “dekaan” nadat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) dit permanent aan die instelling toegeken het. Die instelling het besluit om die woord “dekaan” te koop ter viering van die onlangse dekaanaanstellings en as simbool van die nuwe groeifase wat Akademia betree. Hierdie dekane is onder andere getaak met die uitbreiding van Akademia se programaanbod in ʼn verskeidenheid fakulteite.

Akademia is ook die eksklusiewe eienaar van die woord “universiteit” nadat dit in 2017 aan die instelling toegeken is. Dit is gepas vir Akademia om weer die WAT te ondersteun, aangesien die instelling toegespits is op moedertaalonderrig en Afrikaans as voertaal gebruik. Deur die woord “dekaan” eksklusief te koop dra Akademia by tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans.

Dr. Willem Botha, WAT-hoofredakteur, sê: “Die Borg ʼn Woord-projek is daarop gemik om mense opnuut bewus te maak van die waarde en betekenis van woorde in ons lewens. In elke mens se lewe is daar woorde wat vir hom of haar van besondere emosionele betekenis is. Deur hierdie projek van die WAT te ondersteun, ondersteun Akademia ook Afrikaans, aangesien die WAT ten doel het om die Afrikaanse taal in sy wydste omvang te weerspieël.”