Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-student deel spaarwenke vir troues

Gepubliseer op: 30 Julie 2020

Ter viering van Spaarmaand in Julie deel Jo-Mari Fouché, ʼn finalejaarstudent in BCom (Finansiële Beplanning), wenke vir hoe om vir jou troue te spaar. Sy het op 14 Desember 2019 in Groblersdal getrou en ʼn sprokiestroue met verblyf vir 22 mense gehou. Sy deel vyf van haar beste wenke.

1. Bly kalm

Bly kalm deur die hele proses, sit terug en kry perspektief oor jou groot dag. Moet nie vergeet waaroor julle troudag gaan nie.

2. Dink aan alternatiewe opsies

Daar het soveel meer alternatiewe opsies deur hierdie tydperk uitgekom. Gesels met jou verskaffers rondom alternatiewe opsies om steeds binne regulasies te bly. Baie diensverskaffers het spesiale aanbiedings om hulle eie kontantvloei aan die gang te hou. Idees rondom alternatiewe opsies kan ’n inry-troue met naastes insluit, ’n virtuele troue oor Skype of Zoom, of om ʼn troue by jou huis met net naastes te hou. Indien jy steeds beoog om na die inperkingstydperk te trou, oorweeg alternatiewe byeenkomsplekke wat jou nie ʼn arm en ʼn been hoef te kos nie. “Ons het by ʼn plaas met die naam Slypsteen getrou,” vertel Fouché. “Dit is glad nie vir troues bekend nie, en daarom het ek dit gekies.”

3. Nooi minder gaste

Hierdie is baie gepas vir die korona-tydperk, maar hoekom nie ook spaar op toekomstige troues nie? “Die venue waar ons getrou het, het ʼn beperkte hoeveelheid slaapplek gehad en ek het gesien ek kan baie spaar deur om my gastelys korter te maak,” deel Fouché.

4. Maak gebruik van helpende hande

Vra vriende en familie om te help. Daar is dalk iemand in die familie wat jou blomme kan doen, of ’n gewillige vriendin wat jou koek wil bak. Elke bietjie spaar stop dalk later weer ’n onvoorsiene betaling toe. “Die blomme van ons troue het my R852,75 gekos en is deur my ouma gedoen, die res van die lowwe is uit tannies se tuine gehaal en in boksies gesit. Tafeldoeke en servette is by ’n vriendin van my ma geleen. Ek het ’n broodtafel vir voorgereg gehad, wat my ouma en tannies ook vir my gedoen het. Al die gevolg moes hulle eie hare en grimering gedoen het en myne is as ʼn geskenk deur my sussie gedoen. My oupa het gesorg vir wyn vir die tafels. My trourok het ek op 50%-afslag gekoop, en ek kon dit nou vir dieselfde prys verkoop het,” vertel sy verder.

5. Belangrike B-woorde: Beplan, begroot en belange

Gesels met mekaar oor wat die begroting is, asook wat elkeen se belange vir die groot dag is. Dis belangrik om realistiese belange te hê wat by die begroting pas. Beplan volgens dit, en neem in ag dat hoe vroeër jy begin, hoe meer tyd jy het om te spaar.

Fouché meen dat deur om slim met die hulpbronne tot jou beskikking te werk te gaan, kan jy hope geld spaar en steeds die troue van jou keuse hê – sonder om enige skuld aan te gaan.

Jo-Mari Fouché, ʼn finalejaarstudent in BCom (Finansiële Beplanning), deel wenke vir hoe om te spaar vir jou troue