Search
Close this search box.

Van toeskouer na toekomsbouer: Só kry Akademia se kampusdroom vlerke

Gepubliseer op: 5 Desember 2024

As jy aan die dag van môre dink – aan die toekoms van jou kinders, kleinkinders en selfs agterkleinkinders, watter hoed dra jy? Is jy ʼn toeskouer wat onbetrokke vanaf die kantlyn toekyk, óf is jy ʼn toekomsbouer wat jou moue oprol, saam droom én aktief bou?

Akademia en die eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Kanton, se Toekomsbouer-veldtog bied aan lede van die gemeenskappe die geleentheid om doelgerig die toekoms van Afrikaanse hoër onderwys te help verseker. Dié veldtog, wat in Augustus 2024 bekendgestel is, verteenwoordig nie net ʼn droom van ʼn wêreldklas kampus en moedertaalstudietuiste nie, maar óók ʼn historiese keerpunt in die strewe na volhoubare vooruitgang vir en vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia sal by wyse van hierdie ontwikkeling kan voortdoen met sy roepingstaak om gehalte onderrig en opvoeding aan selfs meer studente in Afrikaans te voorsien, terwyl die instelling se eiesoortige en bruisende studentelewe verder sal gedy.

Die nuwe kampus sal aan die instelling die geleentheid bied om ’n volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite beskikbaar te maak wat onder meer ingenieurswese, teologie én gesondheidswetenskappe sal insluit. Hierdie kampus sal voorts voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves. In totaal sal die ontwikkelingskoste meer as R3 miljard beloop.

Die groeiende vraag na Afrikaanse universiteitswese

Die toenemende vraag na ʼn eietydse Afrikaanse universiteit word volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, deur ʼn hele aantal faktore gekenmerk. “Aan die een kant het lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe ʼn groot behoefte om, ten opsigte van die werkswêreld, ʼn goeie werk te beklee. Die beste manier om dit te verwesenlik, is om ʼn goeie kwalifikasie agter jou naam te skryf. Mense wil voorts ook gevorm word om ʼn daadwerklike impak te kan maak binne hierdie werksmilieu,” verduidelik Visser. Hy voeg by dat Akademia ʼn omgewing skep waarbinne studente, ongeag hul geografiese ligging óf ouderdom, die geleentheid het om diepgaande gevorm te word.

Aan die ander kant is daar volgens Visser etlike stootfaktore elders in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap aanwesig wat Afrikaans toenemend uitrangeer. In die lig hiervan sal die nuwe kampus, wat in die ooste van Pretoria ontwikkel gaan word, as ʼn baken van hoop én volhoubaarheid na vore tree. “Hierdie kampus gaan soveel méér as net ʼn dinamiese akademiese tuiste wees. Dit sal as ʼn node van uitnemendheid die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe se intellektuele én kulturele tradisies koester en bevorder,” meen Visser.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, verwoord dié kampusdroom as ʼn “reusemonument” vir Afrikaanse hoër onderwys. “Dit gaan kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ʼn ouditorium, doelgerigte navorsingslokale, ʼn kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ʼn studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelverblyf én topklas sportfasiliteite insluit,” voeg Schalekamp by. Hierbenewens word daar ook ʼn funksionele proefplaas beplan.

Só kan jy betrokke raak

Hierdie kampusontwikkelingsprojek sal deur ʼn hibriede befondsingstrategie verwerklik word. Een van die maniere waarop die gemeenskap ʼn blywende nalatenskap kan bewerkstellig, is om tot die Akademia-skenkingsfonds by te dra. Hierdie nalatenskap sal nie net momentum gee aan die kampusdroom nie, maar ook help om lewenskragtigheid aan die Afrikaanse hoëronderwysgemeenskap te verleen.

“Wanneer ons almal daadwerklik betrokke raak, kan ons soveel méér vermag as ooit tevore, en só saam bou aan ʼn instelling wat nie net vir ons eie kinders nie, maar ook vir toekomstige geslagte ʼn vrye toekoms sal verseker,” sê Visser. Met hierdie realiteit in gedagte, verduidelik Visser dat ʼn skenking tot dié fonds meer as net ʼn blote finansiële transaksie is – dit is in wese ʼn daad van toewyding en hoopverwagting wat vir jare sal voortleef.

Individue kan as volg tot die Akademia-skenkingsfonds bydra:

  • Eenmalige skenkings

Eenmalige skenkings sal Akademia help met onmiddellike en dringende behoeftes, soos byvoorbeeld die bou van nuwe infrastruktuur vir die kampus.

  • Maandelikse bydraes

By wyse van ʼn maandelikse bydrae kan individue oor tyd ʼn gereelde skenking maak wat die instelling sal help om ʼn stabiele inkomste te handhaaf en só projekte volhoubaar aan te pak. Hierdie opsie stel skenkers in staat om hul bydraes gemaklik oor ʼn tydperk te versprei.

  • ʼn Legaat of ʼn testamentêre erflating

Nóg ʼn skenkingsopsie is om ʼn legaat of erflating in jou testament te maak. Dit verseker dat jou nalatenskap voortleef in die uitbouing van Afrikaanse hoër onderwys vir toekomstige geslagte, sonder dat jou huidige finansiële posisie beïnvloed word.

  • Spesifieke skenkings

Die Akademia-skenkingsfonds bied jou voorts die geleentheid om jou skenking aan ʼn spesifieke deel van die kampusontwikkeling te koppel, soos byvoorbeeld die aanlê van infrastruktuur, of die oprigting van ʼn spesifieke gebou of fasiliteit. Hierdie keuse gee aan jou die gemoedsrus dat jou bydrae presies volgens jou wens aangewend sal word.

  • Ongespesifiseerde skenkings

Ongespesifiseerde skenkings gee aan die instelling die vryheid om jou skenking aan te wend waar dit die nodigste is, en sal voorts help om algemene ontwikkelingskoste te delg.

Hoe jy ook al besluit om tot dié fonds by te dra, jy sal kwalifiseer vir belastingaftrekkings by wyse van ʼn artikel 18A-belastingsertifikaat. Vir meer inligting besoek die Akademia-webblad of stuur gerus ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za.

“Ons weet dat elke persoon se vermoë om te skenk verskil, en daarom waardeer ons elke bydrae – groot of klein. Akademia is by uitstek ʼn gemeenskapsinstelling en ons bestaansvoorwaarde is gerig op die volhoubare groei en roepingsgedrewe uitbouing van die gemeenskappe waarin ons funksioneer. Jou bydrae tot die Akademia-skenkingsfonds is tegelykertyd ʼn erkentenis én ʼn blye viering van hierdie simbiotiese band, nie net wat die hede betref nie, maar ook veral met die oog op ʼn vrye toekoms,” sluit Visser af.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, tydens die bekendstelling van die Toekomsbouer-veldtog vroeër in die jaar.
Die Akademia-skenkingsfonds bied aan lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe die geleentheid om aktief saam te bou aan die toekoms van Afrikaanse hoër onderwys.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.