Gepubliseer op: 21 Julie 2025
Die halfjaarlikse konferensie van die Internasionale Vereniging vir Forensiese en Regslinguistiek (IAFLL) het vanaf 30 Junie tot 4 Julie 2025 in Kaapstad plaasgevind. Tydens dié geleentheid, wat vir die eerste keer op die Afrika-kontinent aangebied is, het drie van Akademia se kundige akademici nie net die instelling nie, maar óók hul onderskeie spesialisareas, as lede van hoëprofielgesprekspanele gestand gedoen.
Vanuit die Fakulteit Regsgeleerdheid het prof. Hermie Coetzee, dekaan, en Natasha Venter, dosent: Publiek- en Prosesreg, die instelling verteenwoordig, terwyl Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe, haar kundigheid vanuit die Fakulteit Geesteswetenskappe gedeel het. Dié trio het onderskeidelik aan die volgende paneelsessies deelgeneem:
Tolking, vertaling en tegnologie.
ʼn Waardevolle geleentheid om geregtigheid te laat seëvier – Coetzee
Volgens Coetzee was die konferensie besonder insiggewend, nie nét weens die gehalte van die akademiese voordragte nie, maar ook vanweë die feit dat die meerderheid van dié aanbiedings werklike uitdagings in die konteks van regspleging, en bepaald die strewe na geregtigheid, aangespreek het. “Forensiese en regslinguistiek verteenwoordig aspekte wat direk tot toegang tot geregtigheid, en daarom uiteindelik ook geregtigheid self, spreek,” verduidelik Coetzee en voeg by dat dit kragtige instrumente is in die strewe na en verwesenliking van die geregtigheidsideaal.
Coetzee meen dat die veelvlakkige uitdagings wat binne die groter stelsel ervaar word slegs deur multidissiplinêre oplossings oorkom kan word. In die lig hiervan bied die konferensie aan akademici en praktisyns (onder meer regspraktisyns, lede van die uitvoerende en regsprekende gesag, maatskaplike werkers en sielkundiges) ʼn waardevolle geleentheid om hande te vat en kragte saam te snoer.
ʼn Kykie agter die globale juristiese gordyn – Venter
Vir Venter het die waarde van die konferensie daarin gelê dat konferensiegangers as’t ware ʼn kykie agter die globale juristiese gordyn kon geniet. “Dit is soms goed om te besef dat Suid-Afrika nie die enigste land is wat uitdagings ten aansien van taal en die reg ervaar nie. Selfs ontwikkelde lande soos Kanada en die VSA ondervind daadwerklike forensiese linguistieke uitdagings,” sê Venter.
Nóg ʼn positiewe ervaring van die konferensie was vir Venter die geleentheid om eerstehands te hoor watter praktiese oplossings ander ewekniedeskundiges in ander jurisdiksies bedink ten einde uitdagings die hoof te bied en só tot die uitbouing van taal en regspleging by te dra. Sy voeg by dat die bekendstelling van ʼn prototipetoepassing, wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingespan kan word om oudio-opnames van getuies se verklarings te neem, die vernuwende aard van die genoemde oplossings illustreer.
Die feit dat Engels, binne die plaaslike veeltaligheidsmilieu, as die enigste taal van rekord in howe gestand gedoen word, veroorsaak volgens Venter groot uitdagings vir die publiek – veral wat begrip ten opsigte van regsprosesse betref. Sy verduidelik dat hierdie uitdagings van meet af begin wanneer klaers sake by die polisie open en gevolglik ook die hofproses beïnvloed. In dié verband haal Venter een van die konferensiesprekers aan wat gesê het dat geregtigheid wat nie verstaan kan word nie, in wese geregtigheid is wat nie toegepas kan word nie.
Taalveelheid is ʼn spesiale voorreg – Brits
Volgens Brits, wat as voorsitter in haar spesifieke paneelgesprek opgetree het, was dit ʼn besonderse ervaring om te beleef hoe Afrikaans en Xhosa, naas Engels, as konferensietale gedien het. Hierdie ervaring is veral gepas in die jaar waarin Afrikaans sy eeufeeswording as amptelike landstaal vier.
Soos in die geval van Venter, het Brits moed daaruit geput dat Suid-Afrika nie alleen met vraagstukke in die taal- en regswêreld worstel nie, en dat daar oor grense heen waardevolle lesse én oplossings gedeel kan word. “Die uiteinde van hierdie samewerking sal stukrag gee aan die gedeelde strewe om taal tot sy volle reg in die regswese te laat kom.”
Brits verduidelik dat forensiese en regslinguistiek ʼn relatiewe jong dissipline op eie bodem is, en dat konferensies soos hierdie gesprekke aanmoedig om dit steeds verder te vestig. Laasgenoemde gesprekke is volgens haar nie beperk tot blote akademiese dampkringe nie, maar het praktiese implikasies vir Jan en San Alleman. Hierdie fokus sal dit volgens Brits in die toekoms hopelik makliker maak om byvoorbeeld ʼn verklaring by die polisie af te lê, óf om as getuie in die hof te praat.
Akademia as gemeenskapsinstelling met ʼn grootse taalverbondenheid en verantwoordelikheid
Op die vraag waarom dit vir Akademia-akademici belangrik is om aan internasionale gesprekke soos hierdie deel te neem, is Coetzee, Venter en Brits al drie van mening dat dit tot die instelling se taalverbondenheid en verantwoordelikheid spreek. Coetzee voeg hierby dat, binne die regskonteks, die fakulteit voorts as vaandeldraer van effektiewe en verantwoordbare regspleging diensbaar aan die gemeenskap is.
“Die fakulteit is aktief en passievol verbind tot die voortgesette uitbouing van Afrikaans as funksionele regstaal, en dit is ons strewe om deur hierdie verbondenheid hoop aan ander inheemse taalgemeenskappe te bied,” sê Coetzee en verduidelik dat hierdie gemeenskappe nie alleen staan in hul droom na regspleging in hul eie taalkonteks nie. Sy glo dat hoe meer inheemse taalgemeenskappe aandring op regsprosesse in hul eie tale, hoe groter die geleentheid ook vir Afrikaans word om as amptelike hoftaal erken te word. Venter voeg hierby dat die konferensie voorts ʼn waardevolle lansie gebreek het vir moedertaalonderrig as ʼn oplossing vir taalversperrings in die regsproses.
Brits sluit af deur te sê dat Akademia as gemeenskapsinstelling daartoe verbind bly om aktief deel ten neem aan enige gesprek wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe raak. Sy voeg by dat deelname aan diesulke gesprekke voorts aan studente toegang tot die jongste ontwikkelings en tendense in hierdie spesialisvelde verseker. Op hierdie manier is die instelling getrou aan sy vormingsideaal deur ʼn brug te slaan tussen akademiese navorsing, rentmeesterskap en diensbaarheid tot die gemeenskap.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.