Uitstel van begrotingsrede: ʼn Ekonomiese én politieke waterskeidingsoomblik vir SA

Gepubliseer op: 21 Februarie 2025

Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het op Donderdag 20 Februarie 2025 ʼn paneelgesprek in reaksie op die uitstel van die nasionale begrotingsrede aangebied. Dié gesprek is in samewerking met mediavennote, Maroela Media en Pretoria FM, by die instelling se Leriba-kampus aangebied.

ʼn Paneel kundiges vanuit die ekonomie, politiek en belastingsveld het tydens hierdie geleentheid die implikasie van Enoch Godongwana, minister van finansies, se ongekende stap – ʼn eerste in die Suid-Afrikaanse demokratiese geskiedenis, bespreek. Luidens mediaberiggewing volg die uitstel van die begrotingsrede op onenigheid tussen die vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) en verteenwoordig ʼn voorgenome verhoging van 2% in BTW en ʼn gepaardgaande 5,5%-loonverhoging vir staatsamptenare onder andere twee van die mees kritiese geskilpunte.

Die paneel wat aan die gesprek deelgeneem het, sluit in:

  • Dawie Roodt, stigterslid en hoofekonoom by die Efficient Group
  • JD Symington, uitvoerende hoof van Pallidus en ʼn Akademia-direksielid
  • Leonard Willemse, direkteur: SA Indirekte belastingspraktyk by AJM Tax
  • Monica Mynhardt, bestuurder: Debatsportaal by Maroela Media

Susan Botha, ʼn omroeper by Pretoria FM en Rika Calitz, departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, het as gespreksfasiliteerders opgetree.

Gesprekspunte wat vir lewendige debatvoering gesorg het, sluit onder meer in:

  • Die rol van die RNE in die demokratiese proses,
  • Die veranderende politieke omgewing waarbinne die ANC homself bevind,
  • Implikasies van ʼn BTW-verhoging,
  • Moontlike reaksies van die beleggersgemeenskap – plaaslike en internasionaal,
  • Die dreigende Amerikaanse diplomatieke krisis, en
  • Die hersiene begroting.

Op die openingsvraag oor hoe die uitstel van die begrotingsrede geïnterpreteer moet word, is die paneellede dit eens dat alhoewel dit beslis nie meer ʼn geval is van besigheid soos altyd nie, daar tóg aspekte is wat as positief beskou kan word.

Roodt meen dat dié gebeurlikheid ʼn ekonomiese én politieke waterskeidingsoomblik vir Suid-Afrika verteenwoordig. Hy sê voorts dat daar géén regverdiging vir ʼn verhoging in BTW kán wees nie, en dat die spreekwoordelike skrif aan die muur is dat belastingbetalers nie meer die regering ekonomies kan dra nie. Hy is ook van mening dat dié BTW-verhogingsvoorstel ten einde loonverhogings te fasiliteer “politieke selfmoord” vir die ANC sou beteken.

Symington meen op sy beurt dat die besluit om die nasionale begroting terug te hou as demokrasie in aksie gesien moet word, en dat dit verblywend is om te weet dat daar teenwigte in plek is om onverantwoordelike finansiële besluitneming te stuit. Willemse, vir wie BTW ʼn spesialisbelangstelling is, meen die minister speel met vuur en hy verduidelik dat BTW nie ʼn onderskeid tref tussen wie ʼn persoon is, wat hy/sy doen óf hoeveel geld ter sprake is nie; dit raak almal. “Uit die gelekte begrotingsrededokument voel dit kompleet vir my asof die minister ʼn doodgewone pleister op ʼn gapende koeëlwond wou plak,” sê Willemse.

Volgens Mynhardt behoort die fokus nie soseer op die feit te wees dat die begroting teruggehou is nie, maar eerder hoe dié proses ter laaste minuut ontvou het. “Geen ontleder het dié ongekende stap voorsien nie, en dit wil voorkom asof die ANC self onkant gevang is,” meen Mynhardt. Sy skryf dié omstandighede toe aan die ANC se onvermoë om sy nuwe politieke posisie, as ʼn 40% party, te navigeer. “In die verlede, as ʼn meerderheidsparty, was die nasionale begroting niks anders as ʼn formaliteit nie. Dit is baie duidelik dat die ANC baie ver ontkoppel is van sy huidige politieke posisionering,” sê Mynhardt.

Die paneel stem ooreen dat geldmarkte nie net op krisisse reageer nie, maar dat onsekerheid – soos tans die geval is in terme van die plaaslike ekonomie, ook ʼn beduidende rol speel. Hulle meen egter dat alles nie verlore is nie.

Roodt meen dat op die kort termyn daar op die vermindering van staatsbesteding gefokus moet word, terwyl daar oor die medium en langer termyn meer konstruktiewe maatreëls voorgestel moet word om ekonomiese groei te fasiliteer. Symington meen beleggers kan die teenwigte wat tans onverantwoordelike ekonomiese besluitneming teëstaan as ʼn stap in die regte rigting beskou. Hy waarsku egter dat Suid-Afrika sy status as welsynstaat sal moet herbesin omdat dit nie volhoubaar is nie.

Mynhardt stem hiermee saam en meen dat staatstoelaes lank reeds nie meer ʼn finansiële vangnet is nie, maar eerder ʼn sosiale hangmat geword het. Ter afsluiting meen Willemse dat die afskaffing van mediese krediete dalk as ʼn alternatief tot die voorgestelde BTW-verhoging kan wees. Hy spreek verder die hoop uit dat effektiewe politieke leierskap die huidige onsekerheid en ongemak sal kan aanspreek.

Kyk die volledige paneelgesprek hier.

Akademia se begrotingsredegesprek, met mediavennote Maroela Media en Pretoria FM, het die implikasies van die uitgestelde nasionale begrotingsrede op die voorgrond geplaas. Kundiges wat aan dié insiggewende gesprek deelgeneem het, sluit in: Dawie Roodt (stigterslid en hoofekonoom van die Efficient Group), Monica Mynhardt (bestuurder: Debatsportaal by Maroela Media), dr. Rachel Maritz (dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia), Leonard Willemse (direkteur: SA Indirekte belastingspraktyk by AJM Tax), JD Symington (uitvoerende hoof van Pallidus en ʼn Akademia-direksielid) en Rika Calitz (departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia).

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.