Pasop só dat goedkoop koop nie duur koop word nie – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 8 Julie 2025

Die gesegde, goedkoop koop is duur koop, is alombekend – méér nog in ʼn land waar dit vir die meeste jong werkendes nie moontlik is om uit die staanspoor ʼn splinternuwe voertuig vanaf die handelaarsvloer af te kan koop nie. Maar hoe werk die proses om ʼn tweedehandse motor te koop? Hoe verseker jy dat jy nié jou geld in die water gooi deur dié goedkoper opsie te volg nie?

Volgens Thinus Nienaber, dosent: Ekonomie en Finansiële Wetenskappe by Akademia, moet eerste motorkopers dié groot transaksie met omsigtigheid benader en hul huiswerk deeglik doen. Hy vertel dat menigte Suid-Afrikaners ʼn nagmerrieverhaal te vertel het oor ʼn winskopie wat net té goed was om waar te wees en dan oor die langtermyn vir hulle ʼn fortuin aan herstelwerk óf instandhouding gekos het. Sy beste advies is om van ʼn betroubare handelaar met ʼn goeie en bewese reputasie gebruik te maak. Só ʼn handelaar sal kan help om die gepaardgaande risiko’s te beperk en jou as koper deur die aankoopproses te lei.

Risiko’s waarop kopers vanuit die staanspoor bedag moet wees, sluit volgens Nienaber onder meer in:

  • Uitstaande finansieringskostes

Die voertuig kan steeds onder ʼn bindende finansieringsooreenkoms staan wat beteken dat die verkoper dit nóg nie wederegtelik in sy/haar besit het nie. Die gevolg hiervan is dat dit nie na ʼn nuwe eienaar oorgedra kan word nie.

  • Ongelukskade

Dit kan gebeur dat vorige ongelukskade nie bekendgemaak word nie, óf dat die herstelwerk van swak gehalte was en tydens die koopproses verbloem word.

  • Odometerbedrog

Daar kon met die voertuig se odometer gepeuter word om ʼn laer kilometerlesing te vertoon.

  • Die voertuig kan gesteel wees

Dit gebeur soms dat ʼn niksvermoedende koper ʼn gesteelde voertuig wil aankoop en daarom moet die oorsprong van die voertuig duidelik ondersoek word. Hiermee saam moet dit duidelik gestel word of die voertuig ingevoer of herbou is.

  • Geen waarborg of diensgeskiedenis nie

Dit gebeur dikwels in privaat kooptransaksies dat daar geen waarborg gebied word nie en in heelwat van dié gevalle ontbreek ʼn diensrekord. Laasgenoemde is nodig om die meganiese stand van die voertuig te staaf.

Bykomende en/of verskuilde kostes

Derhalwe vir hierdie ooglopende risiko’s, moet onervare kopers ook dééglik kennis neem van bykomende, dikwels verskuilde, kostes. Diesulke kostes kan onder meer die volgende aspekte insluit:

  • Die sogenaamde op-die-pad-uitgawes (OTR)

Hierdie fooie sluit lisensiëring, registrasie en die uitneem van nommerplate in en beloop tipies tussen R4 000 en R8 000.

  • ʼn Padwaardigheidsertifikaat

Hierdie sertifikaat vervul ʼn belangrike administratiewe rol en word vereis vir die registrasie van die voertuig. Hierdie koste kan wissel na gelang van die herstelwerk wat nodig is, soos byvoorbeeld die vervanging van die remskoene, ten einde ʼn padwaardigheidstoets te slaag.

  • Registrasie- en lisensiefooie

Hierdie fooie moet ten tye van die oordrag van eienaarskap deur die koper betaal word.

  • Meganiese herstelwerk

Gebruikte motors moet dikwels dadelik gediens of hersien word – ʼn koste wat deur die handelaar aangegaan word en wat by die koopprys ingereken kan word en só terugverhaal kan word.

  • Voertuiggeskiedeniskontroles

Hierdie uitgawe is noodsaaklik vir die verifiëring van eienaarskap sowel as die voertuig se ongelukgeskiedenis. Soos in die bogenoemde geval, word dié onkoste meer geredelik deur die handelaar gedek.

  • Afleweringskoste

As die voertuig na die nuwe eienaar geneem moet word, sal daar ʼn afleweringsfooi gevra word.

Motorversekering as nóg ʼn belangrike oorweging

Volgens Nienaber is die besluit om versekering vir jou motor uit te neem voorts ʼn belangrike oorweging. Hierdie uitgawe verteenwoordig volgens Nienaber gemoedsrus omdat jy, afhangende van jou polisvoorwaardes, gedek is in die geval van ongeluk, brand of diefstal.

Nienaber raai kopers aan om hul versekeringsbehoeftes noukeurig te oorweeg en ʼn waarde te kies wat die beste by hul huidige finansiële situasie en die toestand van die voertuig pas.

Die volgende versekeringsverwante kostes moet van kennis geneem word wanneer ʼn motor aangekoop word:

  • Korttermynversekering

Hierdie versekeringsuitgawe is ʼn verpligte koste indien ʼn voertuig by wyse van ʼn finansieringskontrak gedek word. Aspekte wat hierdie premie kan beïnvloed sluit onder meer in die koper se ouderdom, sy/haar bestaande eiseprofiel, hoe oud die motor is asook die motor se huidige toestand en diefstalrisiko. Nienaber raai kopers aan om verskillende versekeraars vir ʼn kwotasie te nader en noem dat hierdie premie verlaag kan word indien die koper se huisinhoud byvoorbeeld ook by dié polis ingesluit word.

  • Waardetoevoegende produkte

Hierdie versekeringsprodukte is bykomend van aard, maar word dikwels “gebondeld” aangebied. Laasgenoemde verwys volgens Nienaber na onkostes wat óf vooraf bygereken word óf tot die maandelikse premie gevoeg word. Hierdie bykomende produkte verdien vir die handelaar kommissie in die sak en word in die meeste gevalle intensief aan kopers voorgehou. Dit kan die volgende produkte insluit:

  • ʼn Verlengde waarborg
  • ʼn Diensplan
  • Oorbruggingsdekking vir moontlike versekeringstekorte
  • Lewens-, ongeskiktheid- en werksverliesdekking

Só sien finansieringskostes daar uit

Uit bogenoemde aspekte is dit duidelik dat daar verskeie faktore is wat in ag geneem moet word wanneer ʼn motor aangekoop word. Volgens Nienaber verteenwoordig finansieringskostes nóg ʼn belangrike aspek waarvan kopers hulself deeglik moet vergewis omdat dit méér behels as bloot die ondertekening van ʼn terugbetalingsooreenkoms.

Nienaber lig die volgende oorwegings in dié verband uit:

  • Rentekoerse

Volgens Nienaber kan jou rentekoers, gebaseer op jou krediettelling en prima-uitleenkoers, wissel tussen tien tot agttien persent. Hy voeg by dat banke eerste kopers gewoonlik ʼn hoër koers vra vanweë hul hoërisikoklassifikasie. Nienaber moedig kopers aan om met finansierders in gesprek te tree en meer uit te vind oor verskillende aanbiedinge.

  • Aanvangsfooi en maandelikse diensfooie

Hierdie eenmalige fooi word gehef vir die opstel van die finansieringsooreenkoms en kan, soos gereguleer deur die nasionale kredietwet, tot en met R1 207 beloop. Wat die maandelikse diensfooie betref kan tot en met R69 per maand vir die administrasie van die lening gehef word.

  • Deposito

Volgens Nienaber kan sommige finansieringsooreenkomste berus op die betaling van ʼn deposito wat kan wissel tussen tien en twintig persent. Die betaling van ʼn deposito verminder die maandelikse paaiement.

  • Ballonterugbetaling

Hierdie uitgawe is opsioneel en behels ʼn groot finale (ballon-) betaling. Hierdie opsie verlaag die maandelikse paaiement, maar verhoog in wese die totale transaksiekoste. Nóg ʼn uitdaging wat hiermee verband hou, is dat dit die verkoop van die voertuig bemoeilik om dat die uitstaande balans oor die langtermyn hoog bly.

Ter afsluiting sê Nienaber dat jy as voornemende koper deeglik moet nalees en in gesprek moet tree met ingeligte bronne om dié ervaring so maklik as moontlik te maak. Hy waarsku teen braaivleisvuuradvies en meen dat ingeligte kopers toegerus is om goeie besluite te neem. Sy goue reël is om, indien jy enige twyfel ervaar, nie hierdie groot transaksie alleen aan te gaan nie. Dit is raadsaam om iemand wat jy vertrou, en wat oor die nodige kennis en ervaring beskik, saam te neem – ook wanneer jy die motor toetsbestuur. Die gevolg hiervan is dat jy met ʼn ingeligte oog onderhandel, en nie uit opgewondenheid met ʼn emosionele oog foute en bekommernisse oorsien nie.

Thinus Nienaber, dosent: Ekonomie en Finansiële Wetenskappe by Akademia, raai eerste motorkopers aan om dié groot transaksie met omsigtigheid te benader en hul huiswerk deeglik te doen.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.