Akademia-alumnus: Jy hoef nie grense te vermy om vry (en hoopvol) te wees nie

Gepubliseer op: 4 Julie 2025

Gedagtig aan Akademia se jaartema, Afrikaans en tuis, is die instelling se alumni-komitee aktief en passievol daartoe geroepe om dié verbondenheidsidentiteit te bevorder en te vier. Volgens Monica Mynhardt, voorsitter van dié komitee, word die fokus vanjaar geplaas op die uiteenlopende wyses waarop alumni oor verskillende grense heen beweeg, sonder om in die proses hul begronding in die gemeenskap te verloor.

Teen hierdie agtergrond maak Mynhardt melding van ʼn meningstuk deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, waarin hy besin oor die verskil tussen ʼn lewe van nomadiese onverbondenheid en ʼn lewe van tuiskoms, sorg en bou. In dié stuk skryf hy dat dié hoëronderwysinstelling ʼn plek is wat die “grensoorskrydende losbandigheid” van die tyd teenstaan, en eerder verbind is aan waarheid, identiteit en plek. “Hierdie ingesteldheid is dan óók die grondslag waarop die alumni-netwerk berus. Ons wil nie net onverbonde beweeg nie, ons wil óók behoort,” sê Mynhardt. Sy voeg by dat die komitee gevolglik alumni in staat wil stel om weer tuis te kom in ʼn milieu waar daar gelet word op die ware, die goeie en die skone – óók ná die voltooiing van hul studiereis. In kort: ʼn verbondenheid wat spreek tot ʼn sinvolle tuiskoms op welke gebied ook al.

Hierdie verbondenheidsvisie word volgens Mynhardt op ʼn besonderse wyse deur die alumni-gemeenskap beliggaam. “Die alumni-netwerk is nie nét nóg ʼn karakterlose platform nie; dit is ʼn gemeenskap van gevormde individue wat, hoewel versprei oor plekke, beroepe en lewensfases heen, steeds tuis bly en telkens vanuit die bronne die toekoms in groei,” verduidelik Mynhardt. Hierdie tuiskoms word veral in herinnering geroep tydens die instelling se jaarlikse plegtigheid waartydens elkeen opnuut bewus word van die grens wat oorgesteek word wanneer studente hul kwalifikasies verwerf. Met elke nuwe alumnus wat oor die verhoog stap word daar ʼn eensgesindheid ontketen met diegene van ons wat reeds dié voorreg meegemaak het. “Om jou kwalifikasie by Akademia te verwerf, is nié om jou studentwees agter te laat nie, maar om jou volwaardige plek in ʼn gemeenskap van eensgesindes verder uit te bou.”

Laasgenoemde is prakties geïllustreer deur die oorhandiging van die instelling se eerste Alumni-uitblinkerstoekenning aan Jean-mari Cornelius tydens die onlangse prestigefunksie. “Cornelius, die instelling se eerste dowe student (en nou alumnus) is iemand wat oënskynlik onoorbrugbare fisiologiese grense oorgesteek het onderweg na haar toekoms. Sy dien vir elkeen van ons as ʼn kragtige herinnering dat daar in die mens iets is wat nie begrens kán word nie – ʼn dryfkrag wat voortspruit uit ’n diepe oortuiging en roeping. Só iets is nie tydelik of toevallig nie. Dis iets wat standhoudend bly, selfs al verander alles anders,” meen Mynhardt.

Vir die nuwe alumni wat ná afloop van die verwerwing van hul kwalifikasies hul eerste tree in die beroepswêreld gee, het Mynhardt die volgende brokkie advies: “Óf jy nou oor geografiese grense trek, die onsekerheid van ʼn eerste werk beleef, of selfs oor grense van identiteit en selfvertroue heen swerf, wees verseker dat een ding konstant bly – jy is nié ʼn uitgelewerde individu nie. Jy is deel van iets wat jou voorafgaan, verder as net jouself strek en jou in die toekoms sal dra. In ʼn tyd waarin taal en kultuur dikwels losmaaklikheid en beweeglikheid as ʼn viering voorhou, is dit belangrik om opnuut die waarde van tuiskom te beklemtoon.”

Sy sluit af deur te sê dat hoewel die idee van verbondenheid en begrensing dalk in die era van wêreldburgers, taalverskuiwings en digitale identiteite vreemd en selfs ongemaklik klink, dit juis beklemtoon moet word. Alumni hoef nie grense te vermy om vry te wees nie. Inteendeel, ware vryheid is volgens Mynhardt slegs in begrensing en verbondenheid te vind. “Dit is moontlik om oor grense heen te verken, sonder om jou eie te laat vaar. Jy kan oor grense gaan én tuis bly – tuis in jou taal, tuis in jou roeping, tuis in jou waardes en tuis in jou alumni-gemeenskap,” sê Mynhardt.

Is jy ʼn Akademia-alumnus? Indien wel, besoek die alumni-webwerf en word deel van jou alma mater se dinamiese alumnigemeenskap deur jou besonderhede by te werk, jou suksesverhaal met ons te deel óf op welke ander wyse betrokke te raak. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na alumni@akademia.ac.za.

Monica Mynhardt, voorsitter van Akademia se alumni-komitee, verseker afgestudeerde studente dat dit moontlik is om oor grense heen te groei én te verken terwyl hul terselfdertyd tuis is in hul taal, hul roeping, hul waardes en hul alma mater.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.