Die boublokke van toekomssukses lê in jou hande – Dr. Rachel Maritz

Gepubliseer op: 2 Julie 2025

Geskryf deur dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan Akademia.

Sommige gebeurtenisse in ʼn persoon se lewe is klippakgebeurtenisse. Hierdie gebeure, wafferse monumentoomblikke, verteenwoordig daardie ervaringe en prestasies waarby ʼn mens altyd wéér in die verbystap wil stilstaan om te onthou. Vir Fonties verteenwoordig die akademiese tuiskoms aan Akademia, die ervaring van studentwees, die suksesvolle voltooiing van hul studies én natuurlik die kwalifikasieplegtigheid sulke gebeurtenisse. Hierdie tydsgrepe verteenwoordig egter soveel méér as net onthou-oomblikke – dit is die boustene en belangrike hoekstene waarmee jy vir jouself ʼn toekoms bou. En op dae wanneer dié reis onmoontlik voel óf jy aan jou eie vermoëns twyfel, dan kan jy met waardering en hoop terugkyk op hierdie oomblikke en wat jy moes vermag om tot hier te kon kom.

As klein dogtertjie, agter my oupa se lessenaar, het ek my verkyk aan die geraamde woorde van Henry Longfellow: “The heights by great men reached and kept were not attained by sudden flight, but they, while their champions slept, were toiling upwards in the night.” Hierdie woorde herinner ons dat mylpaalgeleenthede, soos die verwerwing van ʼn kwalifikasie, nie oornag gebeur nie, maar eerder die gevolg van baie ure se swoeg en sweet is. Laasgenoemde vind dikwels plaas in die middernagtelike ure wanneer ander slaap, maar só in die stilure werk jy onverpoosd aan jou toekoms. Dit is hierdie toewyding aan jou toekomsideale wat jou die vermoë bied om deur te druk. Terwyl ek destyds aan my doktorsgraad gewerk het, het die gedagte aan my toekomstige gradeplegtigheid, kompleet met die rooi doktorale mantel en my gesin wat trots vanuit die gehoor toekyk, my gemotiveer om nie moed op te gee nie.

Maar dit is belangrik om ook te besef dat ideale en die wyse waarop jy jou toekoms bou soms met onsekerheid gepaardgaan. Om dié rede is dit belangrik om met ʼn duidelike visie te bou, om aan te hou bou al voel jy onseker én om met ander hande te vat en saam te bou.

Bou doelgerig en met ʼn duidelike visie

Om jou toekoms te bou met ʼn visie en ʼn duidelike prentjie van dit wat jy wil bereik én hoe jy dit wil doen, is ʼn besonderse geskenk. Soms weet ʼn mens presies hoe jy wil hê jou toekoms moet lyk en pak jy dié reis aan soos iemand wat oor duidelike argiteksketse en -planne beskik. Miskien is dit ʼn toekoms waarin jy ʼn joernalis, ʼn politieke analis, advokaat, rekenmeester, wiskundige, bestuurder óf onderwyser wil wees.

Akademia as hoëronderwysinstelling bou sy wêreldklas kampus op ʼn soortgelyke wyse – en danksy argiteksvoorstellings kan ons reeds in ons geestesoog na hierdie toekomsideaal uitsien. Dié kampus gaan geken word aan klassieke lyne en suilegange wat uitloop in ʼn kapel as simboliese middelpunt van al die instelling se werksaamhede. Groot boomryke areas vir studente om sosiaal te verkeer, koffiewinkels, ruim lesinglokale en moderne ouditoriums kleur dié prentjie in. Terselfdertyd gaan ontwerpstyle gedagtig aan antieke Athene, Rome en Jerusalem – die instelling se begrondingsbronne, geboue met klipwerk tooi terwyl die uitsig oor Pretoria vir ʼn besonderse belewenis gaan sorg.

In die Bestuurswetenskap-milieu en meer spesifiek die veld van strategie word daar na só ʼn duidelike visie as ʼn doelbewuste strategie verwys. Hierdie strategie bestaan uit planne wat netjies uitgewerk is, waar elke gebeurlikheid presies beplan word én implementering aan die hand van daadwerklike stappe plaasvind.

Dit is ongelukkig egter só dat nie alle bouwerk hierdie presiese aard aanneem nie, en heel dikwels bevind ons onsself in onsekere en snelveranderende omgewings. Om die bouvergelyking verder te ontgin, kan jy jouself in ʼn situasie bevind waar sekere van die boumateriaal nie verkrygbaar is nie, dat ongure weer die doeldatums verander óf dat befondsing ʼn verandering in die strategie teweegbring. In my geval wou ek as twintigjare ʼn joernalis word, maar bevind myself toe met ʼn meestersgraad in Tale in die Ouditafdeling as ʼn vertaler. Die uiteinde hiervan? Ek moes my toekomsplanne aanpas en my visie herskryf.

Hou aan bou, al voel jy onseker

As argitek van my eie toekoms, moes ek deeglik herbesin oor my bouplanne. Ek het gevolglik ʼn studieomskakeling na die BCom-rigting onderneem, ʼn MBA-kwalifikasie verwerf en uiteindelik óók my doktorsgraad. Terugskouend is ek glad nie spyt oor my aanvanklike toekomsdroom nie, en het ek in die nastrewing daarvan belangrike hoekstene vir myself neergelê.

Die bekende besigheidsbestuurfundi, Henry Mintzberg, het met die term ontplooiende strategie (emergent strategy) vorendag gekom. Anders as die doelbewuste strategie verwys hierdie term na ʼn plan wat ontwikkel na gelang van die verloop van die lewe (of die werksaamhede van ʼn onderneming). Hierdie beplanningstrategie is dikwels vervleg met die implementering daarvan en die gevolg is dat die beplanning voortdurend aangepas kan (en moet) word.

Met bogenoemde in gedagte bou jy aan jou toekoms soos wat jy geroepe voel, sonder ʼn doelbewuste prentjie as verwysing. Vir bestuurders, rekeningkundiges en wiskundiges mag dié benadering kontraproduktief klink en in wese teen hul grein indruis, maar dit hoef nie die geval te wees nie, want dit is allermins nie ʼn bouery sonder visie nie. In só ʼn geval praat bestuurswetenskaplikes van ʼn strategiese bedoeling (strategic intent) wat dui op ʼn goed begronde idee. Vrae wat in hierdie geval gevra moet word, is byvoorbeeld wat die waardes is wat jou toekoms rig en in watter rigting hierdie waardes jou lei?

In die boek The Pillars of the Earth skets die skrywer, Ken Follet, die konteks waarbinne die statige, majestueuse Engelse katedrale met kleurvolle glasvensters, sierlike dakke en torings tydens die Middeleeue gebou is. Generasies van bouers het gebou aan hierdie katedrale en dit kon tussen 50 en 100 jaar neem om te voltooi. Ten grondslag van hierdie bouery was die geloofsgedrewe en grootse gemeenskaplike inspanning die dryfveer om iets groter te verwesenlik. Op die keper beskou het geslagte bouers self nie die eindproduk gesien en beleef nie, maar hulle fokus het as’t ware die grondslag vir die sukses gelê. Steen vir steen het hulle met ʼn toekomsbedoeling voor oë gebou.

Vat hande en bou saam

Die Bybelboek Nehemia tref my altyd diep. Dit vertel die geskiedenis van Nehemia wat as banneling in Babilonië nagte wakkerlê oor die ruïnes om Jerusalem wat eens op ʼn tyd ʼn standvastige muur was. Hierdie muur was tekenend van Jerusalem se posisie van mag en welstand. Dit het óók ʼn groot rol in hul beskerming gespeel.

Die proses om die muur te herbou was nie maklik nie, en Nehemia en ʼn handjievol Israeliete moes onder meer baie spot en bedreiging verduur. Opvallend van dié verhaal is die feit dat gesinne volgens die Bybel saam gebou het deur by werksgemeenskappe (die smede, gesaghebbers en ook parfuummakers) aan te sluit om elk die stuk van die muur voor hul woon- en werksplekke te herstel. Die uiteinde? In slegs 52 dae is die muur herbou ná die Israeliete met ʼn swaard in die een hand (as beskerming) en ʼn troffel in die ander hand gebou het. Hierdie beskrywing is baie van pas op die manier waarop ons vir die toekoms moet voorberei: aangevuur met passie en gedeelde waardes asook die besef dat ons ten alle tye roepingsgedrewe gereed moet wees om dapper op te staan vir dit waarin ons glo.

Nóg ʼn treffende aspek van die herstel van dié muur is die toevoeging van poorte en ligtorings. Hierdie toevoegings het nie net ʼn praktiese toegangsfunksie vervul nie, maar het ook gehelp om Jerusalem veilig te hou. Die inwoners kon kies wie hulle deur die poorte toelaat om binne te kom, terwyl die ligtoring hul leefwêreld belig het.

ʼn Woord van bemoediging aan alumni

As ʼn nuweling tot die werksomgewing, neem inspirasie uit oomblikke van prestasie en vervulling. Hierdie oomblikke (of simboliese klipstapeloomblikke) dien as belangrike rigtingwysers op jou pad.

Onthou dat jy, in die najaging van jou drome, aan iets groots bou. Iets waarvan jy dalk op die oomblik net ʼn klein gedeelte van kan sien. Jy het reeds die eerste stene gelê. Hou aan met bou en maak dié reis ʼn hart- en geloofsaak.

Dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, meen diegene wat die werksplek as nuwelinge betree, moet met ʼn duidelike visie aan hul loopbaanreis bou. Hierdie bouproses moet plaasvind ten spyte van gevoelens van onsekerheid en moet in samehang met die groter gemeenskap plaasvind.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.