Gepubliseer op: 23 April 2025
Geskryf deur Charmain Kruger, dosent: Professionele studies, verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Die afgelope Paasnaaweek is nog vars in almal se geheue, méér nog vir gesinne wat hierdie spesiale tyd saam kon deurbring. Op Gesinsdag wat op 21 April 2025 gevier is, en wat saamval op Paasmaandag, word die fokus opnuut geplaas op die belangrikheid van gesinsverhoudings veral binne die groter samelewingsmilieu. Gegewe Akademia se maandtema vir April, Afrikaans en tuis in geloof, geniet dié gebeurlikheid selfs groter prominensie.
Om die waarheid te sê, die waarde van dié dag lê juis opgesluit in die doelbewuste besinning oor die sleutelrol wat gesinstrukture speel in die vorming van individue asook die uitbouing van gesonde gemeenskappe. Gesinne verteenwoordig immers lewende ruimtes waarin waardes, identiteit én karakter gevorm word.
Wêreldwyd word die waarde van gesinne óók erken. Internasionale Gesinsdag word vanjaar op 15 Mei gevier. Die oorsprong van hierdie dag kan teruggespoor word na die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering wat hierdie gebeurlikheid reeds in 1993 ingestel het ten einde bewustheid te skep rondom kwessies wat gesinne oor die wêreld heen raak.
Waarom doen jy wat jy doen?
Die leierskapsdenker, Simon Sinek, meen die impak van enige aksie óf gebeurlikheid lê nie opgesluit in dit wat jy doen nie, maar eerder waarom jy dit doen. Hierdie gewaarwording is nie net van toepassing in besigheid of leierskap nie, dit is ook waar vir gesinne.
Wanneer kinders verstaan waarom hulle geliefd, gelei en gevorm word, ontwikkel hulle ʼn dieper verbintenis tot hul eie identiteit en roeping. In kort: gesinne wat hul “waarom” ken, word ʼn plek waar kinders nie net lééf nie, maar floreer.
Die gesin as ʼn skeppingsverbintenis
Binne die Christelike lewensbeskouing word die gesin God se eerste gemeenskapsvormende instelling. In Genesis 2:24 lees ons van die skepping van ʼn nuwe gesinsverbintenis – een wat gebou is op toewyding en eenheid. In Deuteronomium 6:6-7 gee God self aan ouers die opdrag om geloof en waardes aan die volgende geslag oor te dra. Hierdie opdrag is nie net ʼn geloofsdaad nie, maar óók ʼn grootse vormingsdaad. Wanneer kinders dus in ʼn geloofsbegronde huis grootword waar liefde, waarheid en vertroue die fondasie vorm, word hulle toegerus met ʼn innerlike kompas wat rigting gee – selfs in ’n komplekse wêreld.
Moderne sielkunde bevestig hierdie geloofsinsigte. Die American Academy of Pediatrics wys daarop dat kinders wat in stabiele en liefdevolle gesinsomgewings grootword nie net emosioneel méér gebalanseerd is nie, maar óók ’n hoër graad van veerkragtigheid toon. Hierbenewens toon navorsing wat deur die kliniese en ontwikkelingsielkundige, Diana Baumrind, dat die kinders van gesaghebbende ouers (ouers wat liefdevol is en ʼn gestruktureerde ouerskapstyl volg) voorts op sosiale sowel as kognitiewe vlakke sterker ontwikkel as die daarsonder.
Só sien ʼn gesonde gesinsdinamika daarvan uit
Die spreekwoordelike gom wat sterk groepe, soos gesinne, byeen bring is volgens Sinek vertroue. Hy sê dat ʼn span nie net bloot ʼn groep mense is wat saam werk nie, maar eerder ʼn eenheid is wat mekaar intens vertrou. Hierdie vertroue is die grondslag van ʼn gesonde gesinsdinamika wat nie net roepingsgedrewe vorentoe beweeg nie, maar oor generasies heen impakvol ontwikkel.
Maar hoe lyk ʼn gesonde gesinsdinamika? Gesonde gesinne word nie aan perfeksie gemeet nie, maar eerder aan hul vermoë om met empatie, respek en eerlikheid te funksioneer. Volgens Froma Walsh, ʼn vername Amerikaanse kindersielkundige, is gesinne wat betekenis vind in uitdagende tye en doelbewus ruimtes skep vir emosionele openheid beter toegerus om veerkragtig te ontwikkel en volhoubaar te funksioneer. Laasgenoemde is volgens Walsh veral belangrik as dit kom by die effektiewe hantering van lewensdruk en verandering.
Ander faktore wat tot gesonde gesinsdinamika bydra sluit in goeie kommunikasievaardighede, gedeelde en geleefde waardes asook emosionele ondersteuning. In Kolossense 3:14 word ons opnuut daarin herinner dat liefde die band van volmaaktheid is – en dit is presies wat gesonde gesinne dan ook uitstraal. Nie ʼn fasade van foutloosheid nie, maar eerder egte getrouheid.
Maak tyd vir jou gesin
In ons snel veranderende, oorvol en besige wêreld moet ʼn daadwerklike poging aangewend word om gesinstyd in te ruim.
Ek dink met heimwee aan ʼn dekade of meer terug toe my eie drie spruite aan ons eerste gesinsvergadering deelgeneem het. Die speelkamer is spesiaal vir dié geleentheid ingerig met ʼn nuwe mat en vyf helderkleurige boontjiesakstoele – een vir elke lid van die gesin. Die opwinding op ousus (9), ouboet (7) en die jongste (6) se gesigte het boekdele gespreek en almal was verbind tot dié groot gesprek. Binne daardie heilige gesinskring kon enigeen enigiets sê. Daar is gesels, geredeneer, onderhandel en uiting gegee aan ʼn rits emosies. Op dié manier het ons die jongspan daaraan gewoond gemaak om waarom-antwoorde te formuleer. Antwoorde wat tot hul eie wese en aard gespreek het. Só is daar geleer dat emosie en gevoelens waarde het én ʼn daadwerklike plek binne die gesinsverband het.
Met die verloop van tyd het die boontjiesakstoele plek gemaak vir laataand sitkamergesprekke oor die waarom-vrae. En binne hierdie veilige gesinsruimte is lesse geleer en gedeel, nie net van ouers tot kinders nie, maar van mekaar. Die vrae het gewissel: “Waarom werk die lewe so, mamma?”, “Hoekom sê die maatjie dit, pappa?”, “Wat is hierdie vreemde gevoel binne my?”, en “Wat moet ek sê en doen?”. Die waarom, hoekom, wat, wanneer en hoe het op hierdie vastrapplek gekry binne ons huis en vandag bou ons voort op die krediet van goeie en eerlike verhoudings.
Ruim gesinstyd in, en wees veral bedag op die volgende:
Wanneer gesinslede hul tyd, tradisies en interaksies belyn met hul waarom-besef dan ontstaan daar die potensiaal vir kragtige vorming. Hierdie belyning kan die vorm aanneem van geloofsgewoontes soos om saam as ʼn gesin Bybelstudie te hou, om saam aan te sit vir etes en om aan weeklikse gesinsaktiwiteite deel te neem.
Die gesin is die beginpunt van wie ons word – in karakter, geloof en in verhouding tot die samelewing. Wanneer ons werklik verstaan waarom gesinne saak maak, en hoekom ons in hulle moet belê, kan ons nie anders as om met groter oorgawe te bou aan verhoudings wat lewe gee nie.
Die waarde van verhoudingskrediet
Hierdie verhoudingskrediet ontstaan nie oornag nie, maar word oor jare heen opgebou in oomblikke van aandag, geduld en onvoorwaardelike liefde. Elke gesprek, elke drukkie ná ʼn moeilike dag, elke aandagtige luister verteenwoordig ʼn klein verhoudingsdeposito die ongesiene rekening van vertroue. Dit is hierdie verhoudingskrediet wat maak dat kinders jare later nog kom vra, kom deel, kom raad soek – nie omdat hulle moet nie, maar omdat hulle wil en weet hulle kan.
Verhoudingskrediet is die kapitaal van gesonde ouerskap. Dit is wat ʼn ouer toelaat om met fermheid grense te stel sonder om die verhouding te breek, en met sagtheid leiding te gee sonder om gesag prys te gee – en hierdie krediet getuig van kinders wat wéét dat hulle gesien, gehoor en verstaan word.
Lank vergete is die uitdrukking dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie. In ʼn huis waar die waarom-vrae en -antwoorde altyd welkom is, word kinders nie net grootgemaak nie. Hulle denke én harte word gevorm in ʼn omgewing waarin hulle veilig voel om eerlik te wees terwyl hulle verbonde is om saam te praat … en dít is die ware wese van gesinwees.
Wanneer ons by die waarom-besef begin, inspireer ons ander. Gesinne wat hul waarom leef, deur liefde, geloof en vertroue, inspireer kinders om hul volle menswees te ontdek. En só begin die vorming van sterk individue en hoopgewende gemeenskappe by die gesin.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.