Wees dapper op Internasionale Moedertaaldag – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 20 Februarie 2025

Geskryf deur Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe.

Vanjaar vier Afrikaans 100 jaar se amptelike status in Suid-Afrika (Afrikaans as taal is natuurlik véél ouer). Op Vrydag 21 Februarie 2025 is dit dan óók die 25ste herdenking van Internasionale Moedertaaldag. Gedagtig hieraan en as jy aan die aard van feesvierings dink, mag jy dalk dink dat alles – taalgewys, goed gaan en dat daar selfs op die louere gerus kan word. Hierdie mylpale is egter nie iets wat net gewoon gebeur het nie. Afrikaans het nie gewoon net amptelike status gekry nie. Dit was ook nie ʼn lukrake besluit dat daar iets soos ʼn internasionale moedertaalgedenkdag moet wees nie. Dit het inderwaarheid baie opoffering en dapperheid geverg.

Op 21 Februarie 1952 het studente van die Universiteit van Dhakan in Pakistan bymekaargekom om protes aan te teken teen Urdu as die enigste nasionale taal. Die Bengali-sprekendes wou graag in hulle moedertaal studeer en dit as ʼn nasionale taal erken hê. Die uiteinde? Vier studente sterf tragies op dié dag, maar Bengali het vier jaar later een van die nasionale tale van Pakistan geword.

Afrikaans (en Nederlands) is óók nie beledigings gespaar nie. Die verhale van die verskillende taalbewegings en gepaardgaande taalstryd mag vir lesers dalk oorbekend wees. Die vyandige konteks waarin die taalstryders van ouds vir die erkenning van Afrikaans as skooltaal én amptelike taal gewerk het, mag dalk deur die jare vervaag het. Om dié rede is dit dalk goed om te lees wat die mense al in die laat 1800’s oor Afrikaans (of Kaaps-Hollands) gedink het.

ML Wessels skryf in The Cape Monthly Magazine van Junie 1880 die volgende: “ … Cape Dutch, whether barbarous or not; is nothing more than a Dutch dialect – than a veritable patois, whose origin must be sought in … the back slums of Amsterdam of two hundred years ago!”

Dr. Theophilus Hahn sê op 29 April 1882 die volgende by die 53ste jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek: “And why did the Dutch write in Latin? They know very well that if they wrote in their own tongue, they would not be read and understood … In enforcing a language [Kaaps-Hollands] unwieldly, clumsy and poor in productions of intellect … we are guilty of intellectual suicide.”

Dit is enkele voorbeelde van vooroordele teenoor Afrikaans amper ʼn halfeeu voordat dit as amptelike taal erken is. Dié erkenning in 1925 was dus ʼn gróót oorwinning wat beteken het dat die sogenaamde kombuistaal tot universiteitstaal kon ontwikkel.

Die vraag is of daar rede is om ná 25 jaar van bewusmaking van die belangrikheid van moedertaalonderrig en die voordele van (regte) meertaligheid fees te vier. Navorsing toon dat ongeveer 40% van die wêreldbevolking nie toegang tot onderwys in ʼn taal wat hulle praat of verstaan het nie. Het ons steeds rede om #Afrikaans100 te vier? Afrikaans is onder druk in die onderwysomgewing en dit blyk in welke gevalle of die geskiedenis weer herhaal word.

Hoe dit ook al sy, daar is tog baie belangrike redes om met moue opgerol fees te vier:

  • Daar is dekades se navorsing wat die waarde van moedertaalonderrig en voordele van meertaligheid sterk steun,
  • Steeds meer gemeenskappe (60% van die wêreldbevolking) besef en leef die waarde van hulle moedertale uit, en
  • Die geleentheid bestaan om steeds in Afrikaans tot op die hoogste vlak te kan studeer.

Moedertaalonderrig en Afrikaans bly steeds ons erns in die 21ste eeu en mag ons nageslagte met dankbaarheid op ons dapperheid terugkyk.

Op Internasionale Moedertaaldag, en gedagtig aan die eeufeesviering van Afrikaans as ʼn amptelike taal, meen Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia, dat moedertaalsprekers dapper en doelgerig fees moet vier.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.