Gepubliseer op: 5 Februarie 2025
Geskryf deur Brianda Bester en Marnelda de Beer, beide dosente verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Wêreldhardopleesdag word elke jaar op die eerste Woensdag van Februarie gevier en vanjaar vind dié geleentheid op Woensdag 5 Februarie plaas. En net vóór jy dink dat dit net nóg ʼn kalenderdag sonder enige merkwaardige impak is, dink weer. Hardoplees is in wese ʼn gróót geskenk wat aan kinders, ongeag hul ouderdom, oorgedra kan word. Óf jy nou ʼn ouer, grootouer óf onderwyser is, gebruik opnuut hierdie geleentheid om deur stories die lewe van ʼn jongeling positief te beïnvloed.
Van baba tot boekwurm
Een van die wonderlikste aspekte van hardoplees is dat jy nooit te vroeg daarmee kan begin nie. Dit word vertel dat iemand eendag vir Albert Einstein gevra het hoe daar seker gemaak kan word dat ʼn kind intelligent groot word. Sy antwoord was dat ouers vir hul kinders moet voorlees. Die persoon het Einstein verder gepols en gevra hoe ʼn kind selfs nóg slimmer kan word, waarop hy geantwoord het dat nóg méér stories voorgelees moet word.
Navorsing wat deur dr. Melody de Jager van die Mind Moves Instituut gedoen is, beklemtoon die noodsaaklikheid van hardoplees vir babas. De Jager beskryf dié gewoonte as ʼn wonderlike gedeelde aktiwiteit wat onder meer help om babas te kalmeer – veral voor slaaptyd. Al verstaan jou baba nie ʼn enkele woord wat jy voorlees nie, en al kan hy/sy nie die prentjies kognitief herken nie, geniet hy/sy die koestering en jou volle toegewyde aandag.
ʼn Verdere voordeel verbonde aan hardoplees is dat dit verreikende gevolge het op die ontwikkeling van kinders se geletterdheidsvaardighede. Laasgenoemde sluit onder meer die bevordering van sosiale interaksie tussen volwassenes en kinders in asook die vermoë van kinders om sinvol met die omgewing rondom hulle om te gaan. Hierdie ontwikkelingsproses word toegeskryf aan die waarde wat daar aan lees as ʼn standvastige bron van inligting geheg word. Om hierdie rede word lees later, veral in gevalle waar kinders onder moeilike omstandighede verkeer, ʼn toevlug.
Interessant genoeg word hardoplees deur vaderfigure ook hoog voorgeskryf omdat dit ʼn unieke element tot ʼn kind se ontwikkeling verteenwoordig. Die rede hiervoor is dat mans ʼn meer praktiese lewensuitkyk het en daarom groter (en praktiese) verbande tussen stories en die werklikheid kan trek. Hierdie uitkyk help kinders om stories beter te verstaan en in realiteit te begrond. Dit word ook gestel dat vaders nie noodwendig tydens ʼn voorlesing op onderrig gefokus is nie, en daarom hulself in die stories kan inlééf deur geluide na te boots en gesigspel te gebruik. Jong seuns kan ook deur die voorbeeld van lesende vaderfigure (soos byvoorbeeld rugbyafrigters) ʼn voorliefde vir lees aanleer.
ʼn Gedeelde leeservaring help kinders voorts om hul empatievaardigheid te ontwikkel. Deur saam met iemand ʼn karakter se avonture te beleef leer kinders nie net om ander se gevoelens te erken nie, maar dit ook beter te verstaan én om daaroor in gesprek te tree.
Die volgende slim strategieë kan die hardopleesproses vergemaklik:
Koppel die stories aan eietydse ervarings en maak die stories só meer betekenisvol en persoonlik.
Van luisteraar na aktiewe leser
Hardoplees is méér as ʼn prettige aktiwiteit, en moet gesien word as ʼn kragtige hulpmiddel wat kinderontwikkeling op talle manier tot voordeel streek. Een van die grootste voordele lê opgesluit in taalontwikkeling.
Wanneer kinders na stories luister word hulle blootgestel aan ʼn skatkis van woorde en sinskonstruksies wat dikwels buite hul alledaagse gespreksrykwydte val. Hierdie blootstelling help hulle om aktief hul woordeskat en begrip van grammatika en taalstrukture te verbeter. Méér nog, verbind hardoplees die gesproke taal op ʼn praktiese manier aan die geskrewe woord, wat leesvaardighede oor die lang termyn sal versterk én selfvertroue kweek om met tekste om te gaan.
Sekerlik een van die mooiste aspekte van hardoplees is hoe dit kinders inspireer om self ook aktiewe lesers te word. Taalonderwysers is dit eens dat die modellering van lees tydens ʼn taalperiode, leerders in hul klasse inspireer om self ook te lees. En onthou, hardoplees vind nie net in ʼn huistaalklas plaas nie, maar ook in verskeie ander vakgebiede. Gegewe hierdie realiteit het onderwysers elke dag die geleentheid om hardoplees in hul klasse aan te moedig en te modelleer.
Hiermee ʼn paar praktiese wenke om hardoplees aan te moedig:
Maak seker dat die beskikbare boeke tot jou kind se ouderdom en belangstellings spreek. Onthou jong kinders geniet helder prente terwyl ouer kinders meer van avontuurverhale hou.
Die wetenskap verbonde aan hardoplees
Die wetenskap verbonde aan hardoplees is baie interessant. Wanneer ʼn kind na ʼn storie luister, word verskeie areas in die brein terselfdertyd geaktiveer. Die bekende neurowetenskaplike, dr. Stanislas Dehaene, bepleit die onderrig van klanke (by wyse van hardoplees en voorlees). Hy beklemtoon voorts die belangrikheid daarvan om letters aan ooreenstemmende klanke te verbind om leesverwerwing te vergemaklik.
Op haar beurt meen Lizette van Huyssteen dat dit vyf tot ses jaar neem om fonologiese bewustheid by kinders te ontwikkel. Sy skryf dié tydsduur daaraan toe dat die brein nie van nature en bewustelik aandag skenk aan klanke waaruit woorde saamgestel is nie. Om hierdie rede is dit belangrik dat veral voorskoolse kinders en leerders in die grondslagfase soveel as moontlik aan hardoplees en voorlees blootgestel word. Op die manier kan hulle die klanke van woorde beter onthou, herroep en herhaal.
Die temporale lob, wat verantwoordelik is vir taalverwerking, werk saam met die frontale lob wat begrip en analise beheer. Kinders wat gereeld aan voorlesing blootgestel word geniet die voordeel dat hulle teen die ouderdom van drie jaar, anders as dié daarsonder, reeds aan tot soveel as 30 miljoen woorde blootgestel is. Hierdie 30-miljoen-woordgaping het verrykende gevolge op kognitiewe ontwikkeling.
Die voorleesaktiwiteit stimuleer voorts die ontwikkeling van nuwe neurale verbindings in die brein, veral in die areas wat met taal, geheue en visualisering verband hou. Studies toon dat hierdie verhoogde breinaktiwiteit lei tot verbeterde woordeskat, beter begrip en sterker kritiese denkvaardighede.
Gebruik hierdie Wêreldhardopleesdag om jou kind se ontwikkelingsreis aan te vul en só die baan te weg vir verbeterde taalvaardighede, ʼn voorliefde vir lees, kritiese denke te stimuleer en die veelheid van taal te waardeer.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.