Word veranderingsfiks en stap jou loopbaantoekoms met selfvertroue tegemoet – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 31 Januarie 2025

Die wêreld verander teen ʼn snelle pas terwyl innoverende tegnologieë en toekomstendense op ʼn byna daaglikse basis nuwe en opwindende geleenthede tot gevolg het. Hierdie realiteit het ook ʼn besliste invloed op beroepsbeplanning en -voorbereiding.

Dr. Annelize van Antwerp, voorligtingsielkundige verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling, meen hoewel verandering ʼn gegewe is, dit toenemend jongmense – wat belangrike loopbaanbesluite moet neem, in ʼn kwesbare posisie plaas. Sy verduidelik dat jongmense dit moeilik vind om binne hierdie veranderingsmilieu vastrapplek te vind en daarom kan sukkel om binne gegewe sisteme en omgewings aan verwagtinge te voldoen.

“Die betekenis wat jy aan verandering heg het ʼn prominente invloed op jou persoonlike belewing daarvan en sal daarom bepaal hoe jy daarby aanpas, al dan nie. Indien jy verandering as ʼn negatiewe, slegte of onnodigheid beskou, gaan jy baie moeiliker die realiteit van jou situasie aanvaar,” sê Van Antwerp. Die teenkant is natuurlik ook waar, indien jy verandering in die lig van groei, vooruitgang en geleentheid sien, sal jy makliker aanpassings kan maak. Volgens Van Antwerp bepaal jou denkwyse daarom nie net jou belewenis en interpretasie van inligting en jou omgewing nie, maar ook jou toekomsgerigtheid.

Binne die raamwerk van die vierde industriële revolusie verduidelik Van Antwerp dat loopbane hoofsaaklik in vier toekomsgedrewe rigtings verdeel word. Die eerste is dié van gevorderde en teoretiese werk. Hierdie sluit beroepslui in wat geoutomatiseerde stelsels sal ontwerp en bou. Die tweede sluit tegniese loopbaanrigtings in wat deur mense uitgevoer moet word by wyse van outomatiese en semi-outomatiese stelsels. Die derde rigting hou verband met daardie beroepe wat nie maklik deur kunsmatige intelligente (KI) masjiene vervang sal word nie. Hierdie loopbane hou verband met werk wat suiwer afhanklik is van mense. Die vierde loopbaanrigting is dié van kunstenaars.

“Wanneer jy jou studie en toekomstige loopbaan beplan, kan jy steeds bestaande en/of tradisionele loopbane as ʼn riglyn gebruik, máár kombineer dit met die bogenoemde raamwerk. Die meeste bestaande beroepe kan binne hierdie raamwerk ingedeel word, en sal in die toekoms net ʼn nuwe meer dinamiese baadjie aantrek,” meen Van Antwerp. Sy verduidelik dat beroepsvelde soos onderwys, gesondheidsorg, finansies, regte, vervaardiging en selfs kuns voortdurend aangepas word deur digitale tegnologie, kunsmatige intelligensie en outomatisering.

Indien jy daarom toepaslik wil bly in hierdie vinnige veranderende wêreld is daar vyf vaardighede wat volgens Van Antwerp belangrik is: tegnologiese aanpasbaarheid, kritiese denke en probleemoplossing, kognitiewe en emosionele intelligensie, innovasie en entrepreneuriese ingesteldheid, en ʼn lewenslange leeringesteldheid. “Toekomsfiksheid is opmerkbaar in ʼn persoon se benadering tot verandering en sy/haar vermoë om verandering vaardig en effektief te bestuur,” se Van Antwerp. Sy voeg by dat die vier pilare van emosionele intelligensie: selfbewustheid, selfregulering, empatie en sosiale vaardigheid hierdie fiksheidsvlak beïnvloed. Hiermee saam speel deursettingsvermoë, moed (grit), aanpassing en vasberadenheid ʼn rol in toekomsgereedheid.

Dr. Annelize van Antwerp, voorligtingsielkunde verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling, meen ʼn veranderingsfikse ingesteldheid kan die ongemak verlig wat met die onsekerheid van toekomstige beroepsvelde gepaard gaan.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.